Gee alles wat jy het

In Markus 12:41-44 lees ons die gelykenis van die arm weduwee en die ongelooflike groot les wat ons daaruit leer.

Die gedeelte begin waar Jesus langs die skatkis in die tempel gaan sit het en gekyk het wat mense ingooi. Die rykes wou hulleself regverdig en het groot somme geld in die skatkis gegooi, maar toe kom hierdie weduwee wat niks in die lewe gehad het nie, behalwe twee pennings nie. Sy het God met alles vertrou wetende dat sy niks oor het om van te lewe nie en alles wat sy gehad het in die skatkis gegooi.

Jesus was uitermate verbaas hieroor en hy het Sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê dat die rykes ingegooi het uit hulle oorvloed, maar dat hierdie weduwee alles gegee het wat sy gehad het! Sy het meer gegee as wat al die rykes saam gegee het!

Julle sien, liewe lesers, dit gaan nie oor hoeveel jy gee wat saak maak nie, maar met die gesindheid waarmee jy gee. As jy alles gee wat jy het en nie net in terme van geld nie, maar in tyd ook, dan sal Jesus alles gee wat Hy het, maar as jy terughou, dan sal Jesus ook terughou.

Hierdie laat my so dink aan daardie gelykenis wat ek eenslag aan julle verstel het; die een van die balie, die emmer en die koppie. Ons almal wil graag soos die balie wees; tot ek, want die balie hou baie water, maar niemand vat ooit ‘n balie in sy huis in nie. Dis waarvoor die emmer daar is! ‘n Mens tap water uit die balie uit in die emmer in en dan vat jy die emmer in die huis in, maar jy maak nie tee of koffie in die emmer nie en jy drink ook nie daaruit nie! Dis waarvoor die koppie daar is. Ons drink uit die koppie wat die minste vloeistof van al die voorwerpe hou!

Ek weet nie of julle verstaan nie. Die balie hou baie, maar dit gee net ‘n klein bietjie op ‘n slag. Die emmer hou min, maar ook dit gee net klein bietjies op ‘n slag. Die koppie hou die minste, maar dit gee alles wat dit het! Verstaan julle nou? Wees soos die koppie. Gee alles wat jy het en dan sal Jesus alles gee wat Hy het!

Ons tyd op hierdie aarde is so min… As jy ‘n verskil wil maak, begin dan by jou, daardie persoon wat jy in die spieël sien. Ons is Kinders van die Alle Hoogste God. God se lig skyn uit ons uit, maar hoe helder daardie lig skyn, hang van jou af, liewe leser. Dit hang af van jou gesindheid en jou vermoë om te gee.

Gee dus alles wat jy het en moenie terug hou nie en kyk of die Vader in die Hemel jou nie ‘n groter seën sal gee nie.

Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!

(Visited 838 times, 1 visits today)
Tagged , , , .