Geestelike Oorlogvoering

Hierdie kan ‘n redelike gekompliseerde onderwerp wees om oor te praat, maar dis tog belangrik dat ons as Kinders van die HERE hiervan.

Baie mense dink dat as hulle die woord “geestelike oorlogvoering” hoor, dan word daar gepraat van duiwels uitdryf. Duiwels uitdryf is die mees visuele aspek daarvan, maar dis nie al nie. Die belangrikste deel daarvan is sekerlik om te kan onderskei tussen geeste, want satan kom in allerhande vorm na ons toe om ons te verlei en om ons sover te kry om ons rug op Jesus te draai deur ons eie onkunde.

Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons oor hierdie onderwerp. In Efesiërs 6:12 lees ons: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Hierdie vers spreek die letterlike waarheid! Daar is geen beeldspraak hier nie. Elke teenstand wat jy op aarde kry om watter rede ook al, is satan se werk. Hy steek mense teen jou op deur hulle jaloers te maak op jou sukses.

Jesus het gesê dat ‘n mens nie ‘n stad wat op ‘n berg gebou is kan wegsteek nie. Op soortgelyke wyse kan ‘n Kind van die HERE nooit wegkruip nie! Jy gaan altyd uitstaan as anders en mense gaan weet dat jy anders is. Hulle gaan die standaard wat jy handhaaf dophou en hulle gaan self daar probeer uitkom. Ons almal weet egter dat om sonder Jesus daardie standaard te handhaaf onmoontlik is en daarom vaal hierdie mense wat jou so dophou en maak dit hulle bitter jaloers. Nou kom satan in die prentjie en stook hy hulle op teen jou en so raak hulle gemeen, beskinder jou en praat jou sleg by ander. So raak jy kwaad vir hierdie mense in plaas daarvan dat jy satan se werke hierin raaksien en satan bestraf. Klink dit bekend? Ek weet dat tien talle van julle wat hierdie lees met soortgelyke gevalle by julle verskillende werke sit!

Moet nie vir een oomblik dink dat jy nie teen satan kan baklei nie en dat hy te oud, te slim en te sterk vir jou is nie. Dis een van satan se mees kragtigste leuens om jou sover te kry om moed op te gee nog voor jy begin het! In Lukas 10:19 sê Jesus vir ons “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Liewe leser, u het die mag om teen satan op te staan, vir hom bevele te gee en hy MOET jou gehoorsaam deur die Naam van Jesus! Wie het nou die mag en die krag? Prys die Naam van Jesus!

As iemand ‘n skinder storie oor jou versprei, bestraf die mag van satan wat daarvoor verantwoordelik is! Moenie die persoon wat dit versprei aanval nie, want laasgenoemde doen satan se werk uit onkunde! As jy bekommerd is oor jou finansies, bestraf die mag van satan wat verantwoordelik is daarvoor! As jy voel die wêreld raak te veel vir jou, bestraf die mag van satan wat vir jou terneergedruk maak! As jou baas by die werk vir jou ‘n moeilike tyd gee sonder rede, bestraf die mag van satan wat deur hom/haar werk om jou onder te kry! Alles wat ek hier beskryf het, liewe leser, is waaroor geestelike oorlogvoering gaan!

Julle sien, ons het ongelooflike baie mag deur die Naam van Jesus en satan weet dit. Dis waarom hy so hard werk om jou te oortuig hoe swak jy is. Liewe Kind van die HERE… Jy is geen swakkeling in Jesus nie! Vat daardie mag van satan, knoop hom in ‘n klein bondeltjie en stuur hom terug na waar hy vandaan gekom het! Jy KAN en jy MAG! In Filippense 4:13 staan: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Gebruik daardie mag deur die Naam van Jesus en jy sal vir satan en sy demone laat sidder! Prys Sy Naam!

So nou en dan openbaar die Gees pêrels van wysheid wat mens verstom laat. Ek het die week een daarvan gehoor en dit is dat diewe nooit by leë huise inbreek nie. Hulle breek in by die huise wat van buite af duur lyk. Daardie huise met die duur motors en die duur gordyne voor die vensters, want hulle weet dat daar geld is! Net so sal satan nooit iemand wat in sy gees leeg is aanval nie. Hy val die aan wat ryk is in die Gees; die by wie hy homself ryk kan steel in die Gees! Verstaan jy nou waarom jy baie keer so swaar kry?

Nou dat jy dit weet; wat gaan jy daaromtrent doen? Gaan jy satan toelaat om aan te hou van jou steel of gaan jy ‘n slag opstaan en vir hom wys dat jy dit nie langer gaan toelaat nie? U het die mag! U kan beheer oor u lewe neem! U hoef nie na satan en sy leuens te luister nie! As u dit verstaan, dan sal Jesus se woorde in Johannes 14:27 betekenis hê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”

Net iemand wat volle beheer oor sy lewe het sal nooit weer bang wees vir enige iets nie. Jy sal ‘n vrede in jou lewe ervaar wat die wêreld nie vir jou kan gee nie. ‘n Vrede dat niks met jou sal gebeur sonder God se wil nie!

Mag die Here hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 551 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .