God se Geregtigheid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal ken God as ‘n God van liefde, maar ons ken Hom nie as ‘n God van geregtigheid nie…

Die Bybel leer vir ons dat die loon van die sonde die ewige dood is in die hel. As mense verdien ons om almal hel toe te gaan, want ons rebelleer en sondig teen ons God en Skepper op verskillende maniere. Kyk maar net vandag om jou en jy sal sien wat ek bedoel: ons vloek en verwens en wil net ons eie vleeslike begeertes vervul. Verder maak ons ons naaste dood wat net soos ons geskape is na die ewe-beeld van God! In kort, verdien ons nie om Hemel toe te gaan nie!

Maar die Here het ons lief, want Hy het ons gemaak. Dis nie Sy wil dat enige een van ons ooit in die hel moet beland nie. Die hel is in elke geval nie gemaak vir ons as mense nie. Jesus het Sy oneindige liefde vir ons as mens bewys deur aan die kruis te sterf vir ons. Die ewige dood wat die loon van ons sonde is, het Hy op Hom geneem sodat ons SKOTVRY daarvan kan afkom en vir EWIG KAN LEWE!

God se liefde vir ons ken geen grense nie, maar God se liefde vir die mens word beperk deur Sy geregtigheid. Nou wat beteken dit? Dit beteken dat jy jou lewe moet lewe volgens God se Woord, want in God se Woord vind Sy liefde vervulling! Daar is niks gekompliseerd daaroor nie. As ouers het ons ons kinders oneindig lief, maar as die kinders nie wil luister nie, dan word ons as ouers se liefde ook beperk. Ons tugtig ons kinders en wys vir hulle waar hulle fouteer. Dis net ‘n dwase ouer wat sal maak asof hy die foute van sy kind nie raaksien nie, om sodoende die kind se ondergange te bewerkstellig!

God se ewige liefde word gereeld in ons kerke voor ons gehou en dit is reg, want God is Liefde, maar God is ook ‘n God Geregtigheid! Dit beteken dat God alles haat wat verkeerd is en dat Hy iets daaromtrent gaan doen om ‘n koersverandering in ons lewens teweeg te bring. Dis dat ook bewys van God se oneindige liefde vir ons dat Hy ons waarsku teen die dinge wat kom, net soos ons as ouers ook ons kinders waarsku om hulle gedrag te verander. Vir die Here is niks verborge nie. Hy sien die goeie sowel as die slegte en Hy het ‘n maat. ‘n Skêre hoeveelheid van wat verkeerd is, sal Hy toelaat, maar as die kwaad sy versadigingspunt bereik het, dan gaan Hy handelend begin optree!

Die Here is besig om sy kerk gereed te kry vir die wegraping. Die van julle wat gereed is sal agterkom hoe die Gees skielik sondes wat voorheen niksseggend was nou aan ons uitwys om reg te maak. Die Here verwag van ons om hierdie sondes reg te maak sodat ons gereed kan wees, tog is daar baie Christene wat nog steeds die wêreld en God wil dien! Dit terwyl die Bybel vir ons duidelik sê dat jy nie twee Here kan dien nie.

In Romeine 6:2 staan “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?” As wedergebore Christene is ons veronderstel om niks met die wêreld of sy begeerlikhede te doen te wil hê nie. Ons is veronderstel om so ver moontlik sonder sonde te probeer leef. Baie mense dink dat as hulle gered is, dit is ‘n kaartjie om te kan sondig soos hulle wil, want die Here sal mos verstaan en Hy sal mos vergewe. As jy een van die is wat so dink, dan wag daar ‘n baie nare verassing vir jou!

Die Here se koms is baie naby; nader as wat ons graag sal wil weet! Hy gaan die wat waardig is kom haal en die res gaan agterbly om deur die verdrukking hulle waardigheid te bewys. As jy dink dat die verdrukking iets soos ‘n petrol prys styging gaan wees waardeur ons maar net moet gaan, dan gaan jy weer in wees vir ‘n groot skok.

Mense, die waarskuwings is teen die muur. Moenie dat julle omkant gevang word nie. Ons is nie bestem vir God se toorn nie. ‘n Baie liefdevolle Vader probeer ons waarsku sodat ons dit wat kom kan vryspring, maar as ons nie gaan LUISTER nie, dan gaan ons met God se geregtigheid te doen kry!

Ek gaan afsluit met ‘n vers uit 1 Petrus 4:7 “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.” Prys die Naam van Jesus!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

(Visited 1 111 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .