Hoeveel van julle het al gewonder of die Here vandag nog met ons praat? Kom nou, wees eerlik! Almal van ons het al op een of ander stadium in ons lewens hieroor gewonder!
Daar was ‘n sekere jongman wat gereeld die Bybel Studie groep van sy kerk bygewoon het. Een aand, het die leraar met die groep gepraat oor hoe om na die Here se stem te luister. Tydens die lesing het die jongman gewonder of die Here vandag nog steeds met ons as mens praat.
Na die tyd het hy en ‘n paar van sy vriende besluit om die kwessie te gaan bespreek by ‘n plaaslike restaurant oor ‘n koppie koffie. Baie gou het die gesprek gehandel oor hoe die Here elke een van hulle al op wonderbaarlike maniere uit verskeie probleme in hulle lewens gelei het.
Om tienuur het die jongman besluit dat dit tyd is om huis toe te gaan. Terwyl hy huis toe ry het hy begin bid en gevra: “Here, as u nog steeds met ons as mense praat, praat met my en ek sal my bes doen om gehoorsaam te wees.”
Terwyl hy deur die hoofstraat van sy dorp ry, het hy ‘n snaakse gevoel gekry om by ‘n kafee te stop en ‘n liter melk te koop. Eers het hy nie geweet wat om met die gevoel te maak nie en hardop gesê: “Here is dit jy wat met my praat?” Hy het geen antwoord gekry nie, maar hoe verder hy gery het, hoe sterker het die gevoel geword om die liter melk te koop!
Hy het gedink aan hoe jong Samuel eers nie die stem van die Here herken het nie en daarna na Eli toe gehardloop het vir ‘n verduideliking. “Goed, Here, net ingeval dit jy is, sal ek die melk koop,” het die man gedink. Hy het by die naaste kafee gestop en die liter melk gekoop met die idee dat hy altyd later self die melk kan gebruik, ingeval die gevoel wat hy het net lawwigheid is!
Op pad huis toe het hy die gevoel gekry om by ‘n sekere straat af te draai. Die man was nie meer seker wat aangaan nie. “Goed, Here, as dit is wat u wil hê,” het hy geantwoord. ‘n Paar straatblokke verder het hy die gevoel gekry om te stop. Hy het langs die pad gestop en gekyk waar hy is. Dit was ‘n semi-industriële area wat nie een van die beste areas was om in te bly nie, maar dit was ook nie die swakste nie. Die besighede in die omgewing was almal gesluit en die huise almal donker.
Hy het gevoel dat hy die melk vir die mense in die huis oorkant die straat moet gaan gee. Die huis was ook donker binne en die inwoners het tien teen een al geslaap. Die man het teruggeklim in sy motor en by homself geredeneer: “Here, dit is malligheid! Die mense in die huis slaap al en as ek hulle nou gaan wakker maak, dan gaan hulle dink ek is stapel gek!” Weer het hy die gevoel gekry om die melk van die mense te gaan gee.
“Goed, Here, ek sal maak soos U vra. As U wil hê dat ek soos ‘n mal mens moet lyk, dan moet dit maar so wees. Ek wil graag gehoorsaam aan U wees, maar as hulle nie dadelik oopmaak nie, dan gaan ek ook nie wag nie,” het die man gedink.
Hy het oor die straat geloop en die deurklokkie gelui. Hy kon bewing binne die huis hoor en daarna ‘n bars mans stem wat sê: “Wie is dit? Wat wil jy hê?” Voor die benoudheid die jong man kon oorval, het die deur oopgegaan…
Voor hom het ‘n man gestaan wat gelyk het of hy nou net uit die bed uit opgestaan het. Hy was beslis nie gelukkig om die tyd van die aand ‘n vreemdeling voor sy deur te sien nie! “Wat wil jy hê?” het hy weer gevra. Die jong man het die melk in sy hande gedruk en gesê: “Hier, ek moes dit vir jou bring.”
Die man het die melk gevat en in die huis verdwyn. Die gehuil van ‘n baba het uit die huis uitgekom. Nog ligte is aangeskakel en van die deur af kan die jong man ‘n paartjie met ‘n baba sien stap na die kombuis. Die man het nog steeds die melk in sy hande gehad. ‘n Kort rukkie later het hy op die stoep uitgekom met trane wat oor sy wange loop. “Ons was besig om te bid toe jy klop. Ons het baie rekeninge om te betaal die maand en ons het nie die maand geld vir melk vir die baba nie. Ek het vir die Here gevra vir ‘n oplossing.” sê die man. Uit die kombuis uit, vra die vrou: “Vra vir hom of hy ‘n engel is, want ek het vir die Here gevra om vir ons ‘n engel met melk te stuur.”
Die jong man het sy beursie uitgehaal en al die geld wat daarin was in die man se hande gesit. Daarna het hy omgedraai en huis toe gegaan terwyl die trane oor sy gesig geloop het. Hy het God geprys, want hy het geweet dat die Here nog steeds gebede verhoor en nog steeds met ons praat, selfs al hoor ons dit nie altyd nie!
Mag die Here hierdie boodskap seën!