Die ewige dood/buitenste duisternis/die hel

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Satan se veldtog om die mens te oortuig dat daar nie iets soos ‘n hel is nie, is baie suksesvol. Dis waarom so baie mense nie daaraan glo nie, maar die Hemel, net soos die hel, is ‘n skreeuende waarheid!

Die enigste beskrywing wat die Bybel vir ons oor die hel gee is in Lukas 16:19-31. Dis die storie van die ryk jong man en Lazarus wat ons almal seker ken. Meer as dit sê die Bybel nie oor die hel nie. Ek is seker daarvan dat die HERE dit doelbewus doen sodat ons op Hom moet konsentreer eerder as om aan daardie verskriklike plek te dink. Dis is egter belangrik dat ons moet besef dat die hel ‘n werklikheid is en die verskriklikheid daarvan in die gesig moet staar.

Mary K Baxter asook al die ander getuienisse van mense wat ek nagevors het stem almal ooreen. Dis ‘n plek van onuithoubare hitte. Dis uitermatig droog sonder ‘n druppel water of kos. Dis ‘n plek wat vuil en stowwerig is en waar die klippe is almal swart gebrand is. Naakte vrees en moedeloosheid oorval almal wat daar is. As jy daar is, dan weet jy dat dit vir ewig is, Jy weet ook dat jy verlore is en dat daar geen manier is om daaruit te kan ontsnap nie… Dis ‘n plek van uiterste lyding; dag en nag!

Volgens die getuienisse wat ek gelees het, hang die reuk van dooie verrotte vleis en die reuk van salpeter gedurig in die lug. Hierdie reuk is oral en daar is geen manier om daarvan ontslae te raak nie. Die gekerm van siele wat gepynig word asook die wat om moedeloosheid uitroep is alom teenwoordig. Dis die mees verskriklikste plek denkbaar!

Julle moet verstaan dat die vleeslike liggame wat elkeen van ons nou het net ‘n houer is en eendag gaan sterf, maar jou siel gaan nooit sterf nie. Alles wat jy nou op hierdie aarde is, gaan eendag voortbestaan op ‘n ander plek en jy kan nou die keuse maak waar daardie plek gaan wees. Dis waarom die siele wat in die hel is, by hulle volle positiewe is. Hulle kan alles van hulle aardse lewe onthou. Hulle kan voel, hulle kan hoor, hulle kan redeneer, maar hulle kan nie meer sterf nie. Verstaan julle nou waarom die pyniging van die hel so erg is? Om daar te wees en te wens jy kan sterf net om van die pyniging ontslae te raak, maar dit word jou nie gegun nie…

Julle moet verstaan dat die hel nie gemaak vir ons as mens nie. Dit was nie God se doel dat enige een van ons ooit verlore moet gaan nie. Die hel is daarom gemaak vir satan en sy demone wat teen God gerebelleer het. So waar het dinge dan so verkeerd gegaan? Sonde het in die wêreld ingekom en omdat God ewig is, is daar net een ewige straf vir sonde en dit is in die hel.

God is ook ‘n God van liefde en Hy wil nie hê dat enige een van Sy kinders verlore moet gaan nie en dis waarom Jesus se kruisdood so betekenisvol was. Verlossing is beskikbaar vir almal wat dit begeer! Jesus het die proses van bekering so eenvoudig kom maak dat daar vir ons letterlik niks is om te doen nie behalwe om daardie verlossing net te aanvaar nie. Niemand van ons hoef hel toe te gaan nie, maar die keuse is ons s’n om te maak. Ons moet besluit om nie daar op te eindig nie en jy maak daardie keuse deur Jesus te volg! Dan sal jy nooit in der ewigheid in die hel beland nie!

Maar daar is ‘n vangplek! As jy eenmaal besluit het om die HERE te volg kan jy nooit ophou nie. Jy moet aanhou en seker maak jy val nie terug in die wêreld in nie. Jy moet die goeie stryd aanhou stry, want val jy terug, kan jy jou verlossing verloor! Dan sal jy in die hel beland!

Mary K Baxter verduidelik in diepte hoe sy gesien het siele word gemartel, maar ek sal julle dit spaar, want die beskrywing daarvan is iets wat jou om genade sal laat smeek. In die hel is daar geen liefde nie en daar is geen genade nie. Hierdie is konsepte wat van God af kom en omdat God nie in die hel kan wees nie, ontbreek hierdie begrippe ook daar.

Die ergste is dat satan hierdie dinge wat ek nou vir julle vertel weet! Hy ken God se Woord en hy glo dit, want hy weet dat dit waar gaan word. Satan gee nie om vir jou en my as mens nie. Ons is vir hom alles wat hy of sy demone nooit meer kan wees nie. Hy haat ons as mens met ‘n haat wat nooit beskryf kan word nie. Satan weet wat sy uiteinde gaan wees, daarom is sy uitsluitlike doel om soveel mense as wat moontlik is saam met hom in die help te kry.

Satan sal nooit vir jou of vir enige iemand vertel dat jy ‘n keuse het nie. Daarom stap duisende mense in hierdie wêreld van ons rond sonder dat hulle bewus is dat hulle ‘n keuse het! Die HERE het Sy bloed op Golgota gestort vir elke siel daar buite sodat nie een van ons nodig het om hel toe te gaan nie. Jy kan nou kies om nooit hel toe te gaan nie! Al wat jy moet doen is om jou knieë te gaan Jesus te aanvaar as jou Saligmaker.

Vir die van julle wat hierdie lees wat betrokke is by die okkult, weet dit dat die HERE jou sal beskerm as jy die besluit neem om weg te breek en jou hart en lewe vir die HERE te gee. Die HERE sal jou na Hom toe aantrek met teerheid en groot vergifnis. Die HERE ken jou en hy weet klaar van alles wat jy gedoen het. Hy sien hoe satan jou mislei en Hy verstaan hoe gebroke en desperaat jy is. Jy was baie sleg behandel deur baie in jou lewe. Daarom nooi die HERE jou nou uit om deel van Sy familie te word waar jy versorg en beskerm sal word. Jy is ongelooflik kosbaar vir die HERE. Gaan nou na Hom toe en moenie uitstel nie!

Bid hierdie gebed saam met my: Jesus, ek het gesondig. Vergewe my asseblief. Ek glo dat U gekom het om my te red van die ewige verderf saam met die demone. Ek glo dat u in die vlees gekom het om te sterf op Golgota vir my en u bloed vir my gestort het, sodat ek gered kan word en in U Koningryk mag ingaan. Ek glo dat U my liefhet en dat U my in U koningryk wil hê. Kom en neem my lewe oor en vergewe my skulde asseblief. Ek gee aan U my lewe om te regeer! Ek verwerp satan, al sy leë beloftes, al sy leuens en enige verbintenis wat ek moet hom het. Ek bid dat U bloed my sal beskerm soos ek wegbreek. Ek gee my lewe aan U o’ Heer. Wees my genadig en beskerm my van die bose. Amen!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

image_pdfLaai afimage_printDruk