Geloof soos die blinde van Jerigo

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Ek is seker dat baie van julle die verhaal van die Blinde man van Jerigo ken. Ek het dit ook al net so baie gelees, maar nog nooit het die Gees aan my gewys wat ek nou gesien het nie.

In al vier die Evangelies is daar vir ons tonne voorbeelde oor hoe ons moet optree as Kinders van God. Een van hierdie voorbeelde wat oor en oor uitkom is mense se geloof! Hulle het geen bewyse vir hulle geloof nie, tog glo hulle met hart, siel en verstand! Ek wens ons mense van vandag kan so wees! Om soos ‘n kind te kan glo dat niks sleg met jou sal gebeur nie is om een of ander rede vir ons baie moeilik om te kan doen en ek weet nie waarom nie.

Hier het ons ‘n blinde man wat langs die pad sit en bedel. Iewers het iemand hom van Jesus vertel en die wonderwerke wat hierdie persoon gesien of gehoor het Jesus doen. Die blinde man het die persoon wat dit aan hom vertel het geglo en tien teen een gewens vir net een geleentheid om Jesus te kan sien. Hy het tien teen een gedink dat die kans dat Hy Jesus ooit sal sien of dat Jesus ooit na Jerigo sou kom seker nul was, maar die storie van Jesus het in sy gedagtes bly vassteek.

Toe word ‘n nul persent kans ‘n honderd persent kans en Jesus besoek Jerigo! Met Jesus se uitkoms uit Jerigo het iemand aan die blinde man vertel dat Jesus op pad was en hy het onthou wat aan hom vertel was dat Jesus mense gesond kan maak.

Onthou, hierdie man is blind. Hy het niks van wat aan hom vertel is ooit gesien nie, tog het hy dit wat mense gesê het geglo! Toe Jesus naby gekom het, het hy begin skreeu: “Jesus, seun van David, wees my barmhartig!”

Onthou dat hy van die grond waarop hy gesit het geskreeu het en dat hy nie regop gestaan het soos die ander mense nie. Hy moes ook teen die geraas en die opgewondenheid van die nader mense uitskreeu. Mense het hom probeer stilmaak, maar hy het net al hoe harder geskreeu! Wat ‘n geloof! Hy het gehoor en hy het dadelik geglo. Hy het nie dit wat aan hom vertel is bevraagteken nie. Hy het dit wat aan hom vertel is soos ‘n droë spons opgesuig en geglo!

Jesus het die blinde man gehoor roep en hom na Hom laat bring. Die skare het hom laat staan en hom na Jesus gelei. Jesus vra hom toe: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde antwoord: “Rabbóni, dat ek mag sien!”

Kyk net die geloof wat hierdie man het gebaseer op ‘n enkele woord wat hy by iemand anders gehoor het! Daar is geen manier wat hierdie man ooit kon weet of dit wat hy gehoor het waar was nie, maar hy het soos ‘n kind geglo dat dit waar was. Let op, liewe leser; geglo soos ‘n kind! Het julle al die geloof van ‘n kind gesien? Hulle glo absoluut dat niks sleg ooit met hulle sal gebeur as hulle saam met hulle ouers is nie. Pa kan hulle swaai en in die lug op gooi en hulle sal glad nie bang wees nie, want pa se sterk hande is altyd daar om hulle te vang voor hulle val en seerkry.

Dit is die geloof wat Jesus wil hê ons moet hê, liewe leser! Geloof soos ‘n kind! Jy hoef nie bekommerd te wees oor enige iets nie. Absoluut NIKS nie! Jy moet net glo! Glo soos ‘n kind!

Kyk wat sê Jesus toe vir hom: “Gaan, jou geloof het jou gered.” Wat gebeur toe? Hy sien! Net omdat hy geglo het sonder om te sien; geglo het absoluut net op ‘n woord wat hy gehoor het. As Jesus dit aan ‘n blinde kan doen wat net geglo het, wat kan Hy nie doen aan ons wat nog sien nie?

Julle sien, geloof is al wat nodig is; niks meer nie. Net geloof! Ek weet dis moeilik, want ek was ook daar. Ons is so geneig om te sê: “Sien is glo”, maar nou vra Jesus vir jou dat jy moet ophou daarmee en moet glo soos ‘n kind. Moenie glo wat jou oë of jou verstand vir jou vertel nie; glo met jou hart wat nie kan sien nie. Glo dat Jesus in beheer is en maak nie saak wat jou oë vir jou sê nie, glo dat Jesus jou uit jou situasie kan red, selfs al sien jy self geen uitkoms nie.

Los wat ook al jou pla in die hande van Jesus en sê: “Jesus, hierdie probleem is te groot vir my, maar ek weet dat dit nie vir Jou is nie, daarom los ek dit nou vir Jou om uit te sorteer in Jou tyd!” Ek wil net sê dat jy verbaas gaan wees oor wat gaan gebeur, net soos ek ook verbaas was toe ek dit die eerste keer probeer het! Ek kan vir julle kragtige getuienisse vertel oor wat met my gebeur het deur net te glo.

Dis waarom Jesus vandag vir jou sê: “Try me!” Probeer en sien wat ek vir jou gaan doen! Prys die Heilige Naam van Jesus!

Gaan nou en twyfel nie meer nie. Jesus is in beheer en Hy sal sorg dat niks met jou sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie. Nie eers ‘n haar sal van jou kop af val sonder die Wil van God die Vader nie. Glo dit en jy sal verbaas wees wat nog gaan gebeur!

Prys die Wonderlike Naam van die HERE, want Hy is waardig om geprys te word!

(Visited 667 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .