Glo u God of Glo u in God?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek is absoluut versot op getuienisse waar Jesus vir ons wys “Hy kan en Hy SAL!” Dit bewys sonder enige twyfel dat ons ‘n LEWENDE liefdevolle God dien! Prys Sy Naam!!

Die getuienis begin hoe die Here hierdie persoon se lewe finansieel in 1998 verander het en hoe hy vir die eerste keer in sy lewe kruideniersware kon koop en die trollie vol kon pak sonder om bekommerd te wees of daar genoeg geld gaan wees om vir alles te betaal. In daardie tyd was dit vir hom moontlik om baie mense finansieel te help.

Baie van u sal weet dat as jy niks het nie, dan kan jy niks spandeer nie. As jy finansiële posisie egter verbeter, dan kom jy skielik agter dat daar nou geld is vir baie ander luukshede wat mens voorheen sonder moes klaarkom. Voor jy mooi weet wat aangaan, is jy maar weer terug waar jy begin het met net so min geld! Jy sukkel dan weer om deur elke maand te kom, maar jy vergeet om jou seëninge te tel!

Dis ook presies wat met ons getuienis skrywer gebeur het! Hy het stelselmatig besef dat hy al hoe minder het om vir sy medemens te gee en dat dit skielik nie meer vir hom moontlik is om sy mede-mens te help nie! Hy skryf dat dit voorheen vir hom so maklik was om sy beursie in die begin van die maand in die hande van ‘n boemelaar leeg te maak en dan te sê: “Here, nou het ek niks meer nie!” Die Here was egter getrou en dit was nooit nodig vir hom om honger te gaan slaap of om sy verpligtinge finansieel na te kom nie. Dit was die tyd waar ons getuienis skrywer die verskil leer ken het tussen “GLO IN GOD” en “GOD GLO”!

So baie Christene daar buite glo in God, maar hulle Glo nie God nie. Kom en verduidelik: Almal van ons wat tot bekering gekom het Glo tog in God, dan nie? Dis hoe jy tot bekering gekom het! Glo u dat God nie sal toelaat dat ‘n haar van u hoof af val sonder Sy Wil nie? Dis nou waar God Glo inpas. Ons Glo in God, maar ons Glo nie dat God vir ons kan sorg nie.

Ons getuienis skrywer sê dat hy onmiddellik gaan bid het en vergifnis gaan vra het. Hy het ook gevra dat die Here hom moet help om nooit weer op ‘n plek te kom waar hy nie meer van die Here afhanklik sal wees nie. Baie mense sal dink dat dit ‘n dom ding is om vir die Here te vra en dat hy vir die res van sy lewe net sal oorleef, maar dis nie waar nie. Al wat hy gedoen het was om die Here totale en absolute beheer oor sy lewe te gee, met toestemming om in te meng!

Self kan ek nie begin om vir julle die gevoel van vrede en absolute sekuriteit wat mens daarna voel te kan beskryf nie. Ek weet, want ek het dit self gedoen! Ek het die Here absolute totale beheer gegee, en nou het ek nie ‘n enkele bekommernis meer nie! Alles wat ek aanpak, werk net uit, want Jesus is in beheer! Prys die Naam van die HERE! Ek het geen bekommernisse nie, want ek weet dat maak nie saak waar ek heen gaan nie, die Here sal my beskerm! As ek kyk in watter vrees die mense wat ek ken leef, dan skud ek my kop in verbasing! Hulle installeer sekuriteit hekke, diefwering, hoë mure, lemmetjies draad en allerhande dinge om hulle huise te beveilig. Hulle ry met vuurwapens of knuppels in hulle motors ingeval hulle aangeval word. Hulle leef in ‘n toestand van absolute vrees! As iemand my vra hoe dit gaan, antwoord ek gewoonlik: “Keer of dit gaan beter!” Julle moet sien hoe mense jou aankyk! Hulle dink jy is van jou kop af! Jy het vrede, liefde en blydskap in jou hart wat die wêreldling nie kan verstaan nie! In die tyd wat ons leef is dit vir die gewone man in die straat baie eienaardig, maar dis aansteeklik!

Glo my as ek se daar is geen beter plek om te wees nie; daar is geen groter sekuriteit as wanneer God in beheer van jou lewe is nie. Mens oorleef nie net elke maand nie; die Here stort Sy guns oor ons uit wat uit oorvol stoorkamers kom! Geen woordeskat kan die liefde en dankbaarheid teenoor so ‘n groot , genadige en almagtige God te beskryf nie.

Ek wil die van julle wat die stukkie lees uitdaag! Waag dit om hom volle beheer oor jou lewe te gee. Doen dit sonder vrees en aanskou die Heerlikheid van God.

Mag die Here hierdie boodskap seën aan die harte van die wat dit lees.

(Visited 226 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .