Iemand het die volgende stukkie op Facebook gepos en ek het dit so treffend gevind, dat ek dit met julle wil deel. Die oorspronklike skrywer is Ian Smit. Baie dankie aan jou vir hierdie juweel van ‘n boodskap!
Ek sien die kind meters ver deur die lug trek as die motor sy fiets tref. Die slag van sy lyfie op die teerpad klink soos iets wat mens nog nooit in jou lewe gehoor het, of ooit wil hoor nie. Die kind wat skynbaar leweloos in die pad lê. Die geskokte skare wat nader storm. Die besope drywer van die voertuig wat op sy knieë langs sy voertuig sit. Die voertuig van die verkeerspolisie wat met loeiende sirenes stilhou op die hakke van die polisie voertuig.
Almal is daar. Die erg-beseerde, die skare, die wetstoepassers, die skuldige, maar iets kort… Nêrens sien ek ‘n ambulans nie. Nêrens sien ek ambulanspersoneel nie. Ek luister. So waar as wragtig. Bykans ‘n halfuur het verloop en ek luister weer. Ek hoor nie ‘n ambulans-sirene nie. Glad nie. Ek stap nader na die verkeerskonstabel wat langs die bloeiende kind in die pad sit. Langs hom lê sy tweerigting radio. Hy is besig om met iemand op sy selfoon te praat en te verduidelik hoe ernstig die kind se beserings is. Dan smyt hy weer sy selfoon neer en praat oor sy radio. Sy een hand onder die grys kombers, wat ‘n samaritaan oor die kind kom gooi het.
“Wat is fout, waar is hulle”, fluister ek vir hom.
“Almal besig”, antwoord hy en ek sien ‘n traan van sy wang af loop.
“Ons gaan hom verloor. As ons nie noodpersoneel binne die volgende paar minute hier kry nie, gaan ons hom hier verloor.”
Die grys kombers wat oor die kind gegooi is, gly af. Ek sien hoe die klein handjie krampagtig om die verkeersman se vinger vasklou.
Wat kan ons doen. Is daar niemand wat kan help nie, dink ek hardop. Nee sy beserings is te erg; ons kan niks vir hom hier doen nie.
‘n Polisiekonstabel baklei met iemand op sy radio. Die geruis van die ander persoon se stem klink soos ‘n donderslag.
“Ons sal ons bes probeer om oor ‘n uur daar te wees. Besig met ‘n ongeluk op naburige dorp.”
Uit die hoek van my oog sien ek ‘n vrou nader storm.
Meer as ‘n uur is al verby vandat die kind raak gery is. Sy gil en sak langs die kind neer.
“Waar is die ambulans mense, waar is die ambulans mense,” gil sy.
Die verkeerskonstabel wat nou openlik huil, kyk na haar en met hakkelende stem sê hy dat alle ambulanse in die streek besig is. Die vrou gaan sit langs haar seun. Die straaltjie bloed wat uit sy mondjie loop, vlek haar handgemaakte lappies rok. Prewelende staar sy na die hemel.
“Here, wys hoe groot is U. Wys ons dat U die kinders lief het.”
Rondom haar begin die skare saam te bid. Elkeen in sy eie taal op sy eie manier.
Ek sien dat die handjie besig is om sy greep op die verkeerskonstabel se vinger te verloor. Hy buk af en fluister in die klein mannetjie se stukkende oor (tot vandag toe wil hy my nie sê wat hy vir die kleintjie gefluister het nie) en ek sien hoe die handjie weer vasvat om sy wysvinger. Radeloos sit en wag ons dat die ambulans moet opdaag. Wetend dat ‘n uur te lank sal wees. Hopeloos te lank.
En dan hoor ons in die verte die dreuning van ‘n helikopter. Die kenmerkende klink geluid van die helikopter se rotor kom al hoe nader en nader. Die Rooi Kruis-teken op die helikopter is duidelik sigbaar. Die vlieënier se stem raas oor die tweerigting radio van die konstabel.
“Neem hom na die skool se rugby veld, ek sal hom daar kry.”
Ywerige hande gryp die grys kombers – ek het heeltyd gevrees dat dit oor die stukkende kind se kop getrek gaan word – en sit die gebroke lyfie daarop neer.
Ons staan en staar die helikopter agterna soos dit met die kind oor die berge verdwyn in die rigting van die Rooi Kruis-Hospitaal.
Jare later sit en kyk ek hoe die mannetjie met die val merk op sy kop saam met maats in die parkie speel.
Hy lag, so ‘n lekker lewe, lekker lag, en ek wonder – was dit die gebed van ‘n Ma wat hom sy lewe laat behou het, was dit die liefde wat die Here vir kinders het, of was dit tyd dat die skare ‘n wonderwerk voor hulle moes sien afspeel?
Eendag sal ons weet.