Hernude Geestelike aanval teen die Bruid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Julle sal seker voel dat julle deesdae meer versoek word as gewoonlik en dis omdat satan besig is met ‘n hernude geestelike oorlog teen die Kinders van die HERE.

Hierdie aanvalle is ‘n laaste desperate poging om nog meer van die Here se Kinders van Hom af weg te lok. Om een van die Here se Kinders tot ‘n val te bring, bring ‘n baie groot prys in die hel vir die demoon wat dit kan bewerkstellig. Die ergste is dat ons dit vir satan baie maklik maak, veral met die dinge wat ons sê, dink en doen! Satan is baie goed met mense manipuleer en hy weet presies waar elkeen van ons se swakhede lê. Baie van julle sal daarom voel dat julle meer as gewoonlik versoek word in juis die areas waar jy geestelik nie so sterk is nie.

Baie van julle gaan seker vra, maar hoe kan ons terug baklei? Deur persoonlike heiligmaking! Ons pas persoonlike heiligmaking toe wanneer ons wagte sit voor die poorte tot ons siel. Nou wat is die poorte na ons siel? Ons oë, ons monde, ons ore en ons gedagtes! Hierdie is die sintuie wat satan manipuleer om sy wil te doen en dis waar ons hom moet uithou!

Besef julle dat as Kinders van die HERE, die Here alles sien wat ons sien? Hy hoor alles wat ons hoor, ook dit wat jy aan ander sê en as jy lê en top oor dinge, dan dink die HERE ook aan hierdie dinge. Kom ons vat ‘n voorbeeld. As ons kyk na ’n fliek met uitermatige geweld, dan kyk die HERE saam met ons deur ons oë en dit maak Hom seer om te sien hoe sulke uitermatige geweld teen Sy skepels toegepas word! Die van julle wat so lief is vir sepies; het julle geweet dat sepies alles uitbeeld wat vir die HERE gruwel sondes is? Kom ons kyk wat word alles uitgebeeld as “vermaak”: egbreek, rugstekery, vergelding, onvergewensgesindheid, hoerery, gay en lesbiese verhoudings. Liewe Kind van God; waarna kyk jy? Waarna forseer jy die HERE om saam met jou te kyk? Onthou, Hy sien alles wat jy sien. Hoe dink jy moet die HERE voel oor dit waarna jy sit ek kyk? Erger nog, satan gebruik hierdie dinge om ons mee aan te val en ons maak dit vir hom so maklik!

As ons sit en dink aan al die onregverdighede wat ons al toe gedoen is of ons sit en bekommer ons oor wat ook al, dan dink die HERE ook aan hierdie dinge en dit pynig Hom! Hierdie gemors waaraan ons sit en dink is soos ‘n sweer. Elke slag as ons daaraan dink, dan krap ons die sweer oop en laat ons toe dat satan dit weer van voor af besmet!

Hoe maklik oordeel ons of bespreek ons ander mense agter hulle rûe? Kom, wees eerlik! Het jy geweet dat as jy iemand oordeel of agter sy rug bepreek, dan maak jy die deur net groot genoeg oop vir ‘n demoon om sy voet daarin te kry? Elke slag wat daardie storie oorvertel word, word daar nog ‘n voet in die deur gesit! Onwetend, maak jy ‘n deur oop wat dit makliker vir satan maak om jou aan te val en al hoe moeiliker vir die HERE om jou te beskerm teen daardie aanvalle! As jy hoor iemand bespreek iemand anders, sê dan vir daardie persoon wat jy nie daarvan jou nie. As die persoon nie wil luister nie, loop dan weg! Moenie deelneem aan sulke gesprekke nie!

Baie van julle sal seker al gevoel het dat julle voeling met die HERE verloor het as gevolg van die aanvalle. Dis omdat die HERE ingestel is op God se Frekwensie, maar baie van ons se sein met die HERE het verdof as gevolg van steurnisse wat deur die Wêreld Frekwensie veroorsaak word, met ander woorde, die dinge waarmee ons onsself mee besighou! Ons kan egter die bordjies verhang deur onmiddellike veranderinge in te stel. Pasop waarna jy kyk, pasop waarna jy luister en pasop wat jy sê!

Julle weet, dat ten spyte van alles, verwerp die HERE niemand nie, ongeag of jy die bogenoemde doen of nie. Sy arms is oop vir almal. Hy is nog net so lief vir ons soos altyd, maar ons moet ophou om die HERE te pynig en dit vir satan so maklik te maak!

As jy ‘n stokperdjie het, beoefen eerder dit as om na die uitvoer van sondes op televisie te sit en kyk. Met ‘n stokperdjie kan jy die HERE met jou hande loof vir die wonderlike talent wat Hy jou gegee het. ‘n Stokperdjie sal ook jou bekommernisse wegvat en jou ook baie minder laat top oor dinge wat jy nie kan verander nie!

Laastens, doen goed aan almal, of die persoon dit verdien of nie. Op daardie manier sal jy wees soos die HERE wat die son laat skyn oor die slegtes sowel as die goeies, ongeag of daardie persoon dit verdien of nie.

Die koms van die HERE is baie naby. Dit is nie meer lank nie! Onthou dat die HERE gaan kom vir ‘n Gees Vervulde Bruid wat elke dag Heiligmaking nastreef!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 299 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .