Die verlore skaap

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

As ek moet vra hoeveel van julle al verdwaal het, dan is ek seker dat daar van julle sal wees wat dit al oorgekom het en dat julle sal saamstem hoeveel moeite dit was om weer op die regte pad te kom!

Ons almal verdwaal een of ander tyd in ons lewens en ons almal dwaal weg van Jesus af om ‘n hele reeks van redes, maar dit beteken nie dat die HERE van ons vergeet het nie. In Lukas 15:4-10 deel Jesus die volgende gelykenis met ons: [4]  Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die nege en negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?  [5]  En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers.  [6]  En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.  [7]  Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.  [8]  Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?  [9]  En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.  [10]  So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Liewe leser; dit maak nie saam hoe diep jy in die dinge van die HERE is nie, jy KAN die pad byster raak! Dit sal en het ook al gebeur met die grootstes onder ons en niemand word daarvan beskerm nie. Selfs Salomo in al sy wysheid het gestruikel en geval en dis waarom dit ons nie geoorloof is om sulke mense te oordeel nie. Dit kan met enige een van ons gebeur!

Sommige van ons is vasgevang in ‘n nimmereindigende siklus van op en van die pad. Ons klim op die regte pad met die doel om daarop te bely, maar ons vat die eerste afdraai wat ons sien weer terug na dit wat vir ons bekend was! Dis omdat die pad wat Jesus met ons loop, uniek tot elkeen van ons is. Nie een van ons se pad is ooit dieselfde as die vorige een nie.

Paulus sê in Efesiërs 6:12: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreld heersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Wees dus bedag, liewe leser, want satan is uit om die Kinders van die HERE tot ‘n val te bring! Satan begeer die verhouding wat jy met die HERE het. Dit herinner hom aan alles wat hy eens op ‘n tyd gehad het en nou nooit weer sal kan hê nie. Dis waarom satan doelbewus Kinders van God teiken en aanval.

Sy taktiek is eenvoudig, maar uiters doeltreffend. Hy weet dat solank jy onder Jesus se beskerming is, hy jou niks kan doen nie. Dis waarom hy eers begin om jou uit te lok deur jou aandag af te trek. Dis ‘n “kyk gou hier” speletjie tot jou aandag afgetrek is. Dan begin hy om met jou brein te smokkel. Dis daardie “Jesus sal verstaan, want Hy was ook ‘n mens…” sin wat hy so lief is om te gebruik. Voor jy mooi weet wat aangaan is jy van die spoor af en in die bosse in en dan is dit oop seisoen!

Gelukkig is Jesus daar! Prys Sy Wonderlike Naam!

As dit sou gebeur dat u die pad byster raak, weet dit, dat dit nooit te laat is om terug te keer nie! As u dus afdwaal of selfs struikel, moenie gras onder u voete laat groei nie! David skryf in Psalm 119:176 die volgende: “Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.” Moenie dat satan u verlore hou nie! U kan altyd terugkeer na die HERE! Jesus sal nooit ooit jou verlede teen jou hou of so kwaad vir jou wees dat Hy jou sal wegjaag nie. Dis alles leuens van satan daardie!

Roep die HERE aan en Hy SAL jou hoor! Selfs al lyk die situasie hoe onmoontlik vir ons; weet dat vir Jesus niks onmoontlik is nie! Hy sal tot jou redding kom, jou wonde verbind, vir jou klere en skoene vir jou voete gee. Hy sal jou plek in die Hemel herstel sonder enige verwyt. Dis ware liefde daardie! Prys die Naam van Jesus, want Hy het my so gered op meer as een geleentheid al! Hy sal dit vir jou ook doen!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 547 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .