Misleiding en Vrese

Die eerste ding wat Jesus ons in Mattheus 24 waarsku, is om versigtig te wees dat ons nie mislei word nie.

Ek vind dit uiters treffend, want toe Jesus se dissipels hom vra wat gaan gebeur net voor Sy terugkoms kon Jesus enige iets gekies het om sy dissipels teen te waarsku, maar die heel eerste ding wat Jesus gekies het staan in vers vier: “Pas op dat niemand julle mislei nie.”

Daarna het Jesus gesê dat daar oorloë, aardbewings en pessiektes sal wees. Daardie gedeelte ken ons, maar heel eerste, selfs voor Jesus gesê het wat nog gaan gebeur het Hy ons gewaarsku oor die misleiding. Het ek nie gesê dat dit treffend is nie?

Vandag sien ons hierdie misleiding, veral onder die Kinders van die HERE, want almal het opinies oor ons laaste dae op aarde. Dit verbaas my oor hoe baie stories daar is! Ek het gehoor van drie dae van duisternis, ‘n kern aanval op Amerika, die “Dome of the Rock” wat vernietig gaan word… Hierdie is maar net drie van die honderde stories wat op Internet versprei word en niemand weet watter storie waar is nie.

Ek dink ook nie dat Jesus self wil hê dat ons moet weet nie, want so sal ons sorg dat ons die hele tyd gereed is. As ons gaan kyk na na ‘n Joodse trou seremonie, dan is dit ook presies wat gebeur het. Die bruid het geen idee gehad van wanneer haar bruidegom haar gaan kom haal nie. Sy het geweet wanneer die tyd naby is, maar sy het nie presies geweet nie. Daarom het sy gesorg dat sy altyd gereed was, sodat as sy die basuin hoor, dan kon sy net opspring en na hom toe hardloop. Dit is wat Jesus van ons soek.

Jesus ken ons as mense maar net te goed en Hy weet hoe lui ons is! As Hy vir ons ‘n datum vir sy wederkoms sou gegee het, is ek bereid om ‘n weddenskap aan te gaan dat daar sommige mense sou wees wat tot op ‘n dag voor Jesus se koms nog steeds in die wêreld sou gewees het en gesondig het sonder bekommernis! Begin julle nou verstaan waarom ons nie ‘n presiese tyd het nie?

Die beste wat ons kan doen is om die bekommernisse aan die HERE oor te laat. Moenie jou bekommer oor wat links van ons aangaan nie. Moenie jou bekommer oor wat regs van jou aangaan nie. Kyk net reguit op na waar jou krag vandaan kom!

Het Jesus dan nie in Lukas 12:6-7 gesê: “Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Moet jou dus nie bekommer oor wat jy sien nie, want solank jy onder Jesus se vaandel bly, sal jy bonatuurlik beskerm word en sal absoluut niks met jou gebeur sonder die Wil van die Vader nie! Dit kan jy glo!

Satan hou daarvan om vir ons te wys dat hy in beheer is, maar dis ‘n leuen! God is nog steeds in beheer van hierdie wêreld en nie satan nie. Binnekort gaan God hom toe laat om in beheer te wees, en ek kan julle verseker dat satan op die punt van sy stoel sit besig om sy tande te slyp vir daardie dag. Maar daardie dag is nog nie hier nie en tot dan, kan satan net lieg en maak of hy iets besonders is.

Satan is soos ‘n hond aan ‘n ketting. Hy kan blaf, hy kan grom en hy kan hardloop so ver as wat die ketting hom toelaat, maar dis al wat hy kan doen. God is nog steeds in beheer van hierdie wêreld en satan kan daarom nie doen wat hy wil nie. Net soos ‘n hond aan ‘n leiband, kan satan net doen wat hom toegelaat word. Jy hoef hom dus nie te vrees nie, want hy het geen mag oor jou as Kind van God nie. God sal altyd toesien dat daar ‘n uitkoms is vir die wat Hom aanbid! Jy het dus absoluut niks om jou oor te bekommer nie, so hou op daarmee!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 151 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .