Ek is seker daarvan dat hierdie ‘n vraag is wat baie van julle al gevra het, veral as ons so sukkel met dieselfde sonde oor en oor.
Ek het ‘n lemmetjie boom by my huis. Hierdie boom kry so af en toe krul blaar. Soos wat ek dit verstaan is dit een of ander parasitiese vlooi wat homself aan die onderkant van die blaar tuismaak en dan krul die blaar gevolg daarvan om en word die blaar skurf. Oor die jare het ek verskeie middels probeer om daarvan ontslae te raak, maar al wat gebeur is dat dit vir ‘n rukkie weggaan, maar dan kom dit maar net weer terug.
Sonde in ons lewens is presies dieselfde. Ons probeer so hard om daarvan ontslae te raak en vir ‘n rukkie kry ons dit ook reg, maar dan kom dit net weer terug en dan is ons bitterlik teleurgesteld dat ons geval het en Jesus teleur gestel het. Klink dit bekend, liewe lesers?
Hoekom gebeur dit? Waarom laat Jesus dit toe? Die antwoord is maklik! Dis omdat ons nog nie geleer het om Jesus in ons lewens toe te laat en Hom te vertrou met ons swakhede nie! Jesus wil bitter graag vir ons help met al ons probleme, maar Hy kan dit nie doen solank as wat ons self aan die probleem werk nie.
Jy moet jouself eers aan God se Wil onderwerp en aanvaar dat jy te swak is om alleen teen satan te baklei. Dan, en slegs dan sal daar vir jou verligting kom. Verligting in die sin dat Jesus aan die probleem werk en dat dit wat mense sê of dink nie belangrik is nie. Al wat belangrik is, is wat God dink, nie mense nie! Prys Sy Naam!
Jesus sal jou probleem oplos in Sy tyd; nie ons tyd nie! Ons hou daarvan dat dinge nou en op hierdie sekonde gedoen word, maar God werk nie volgens ons persepsie van tyd nie. As Hy sonde uit jou lewe uithaal, dan doen Hy dit so dat dit nooit ooit weer vir jou ‘n probleem is nie!
Julle moet verstaan dat sonde soos ‘n onkruid is; sy wortelstelsel groei diep en ver. Jy kan nie net die kop wat bokant die grond uitstaan afsny en dan dink dat jy nou verlos is daarvan nie. Dis nie hoe dit werk nie, want die wortels is nog steeds daar en dit sal net weer tot ‘n volwaardige plant groei.
Dis die verskil tussen Jesus se metode en ons metode. Ons wag tot die plantjie se kop bokant die grond uitkom en dan bars ons los daarop met reuse kanonne. Jesus begin diep onder die aarde by die worstel van die kwaad en dis waar Hy Sy gif inspuit, so maak Hy die wortels eerste dood en dan gaan die plantjie ook dood as gevolg daarvan. Sien die verskil in metodes?
Julle moet ook verstaan dat sonde ‘n baie diep en komplekse wortelstelsel het. Jy kan daarom nie sommer net wortels begin doodmaak nie. As jy dit gaan begin doen, dan gaan die wortels wat agterbly net groter en sterker word soos die plant homself probeer verdedig.
Toe ek vyf jaar gelede in hierdie huis ingetrek het, was daar ‘n massiewe groot Wildevye boom in my agterplaas. Elke jaar dan dra die boom sulke klein harde rooi bessies. Die voëls eet dit glad nie en die bessies val daarom op die grond waar dit verdroog in die grond in. Hierdie jaar het ek besluit om ‘n plan te maak en ek het twee derdes van die boom laat wegsny om dit makliker te maak om onder beheer te hou. Skielik het die Wildevy begin om pikswart sappige bessies te dra by die biljoene! Die voëls het gedink dis nuwe jaar en hulle het die boom gestroop van die bessies. Meeste daarvan het op die grond geval. Die punt is dat die boom homself begin verdedig het deur te sorg dat daar genoeg bessies met pitte is wat kan verseker dat die boom sal voortbestaan op ‘n ander plek as dit nodig sal word. Sonde werk op presies dieselfde manier en as ons op ons eie probeer om van ons sonde ontslae te raak, dan gebeur dieselfde met ons ook.
Wat moet ‘n mens dan doen? Moed opgee? O’ nee; Jesus het nie swakkelinge gemaak nie! As satan vir jou die mooi flitsende liggies van die stad wys, sê dan nee en kyk weg. Bid dan tot Jesus dat jy nie in die versoeking kom nie en vra vir verlossing van die bose.
As dit gebeur dat jy val, moet dan nie so hard wees op jouself en jouself veroordeel nie. Dit gaan nie die probleem oplos nie. Moet ook nie bang wees om na Jesus toe terug te gaan en vir Hom te sê dat jy oortree het nie. Daar is geen rede om skaam te wees nie, want Jesus het klaar gesien wat gebeur het. Hy wag maar net dat jy terug moet kom na Hom toe uit jou eie uit. Jesus sal jou nooit veroordeel vir jou oortredinge nie. Hy was ook ‘n mens en niemand ken ons beter as Hy nie.
Sommige van ons dra ook kruise vir die HERE en so bring ons verligting vir die wat vasgevang is en nie weet waarheen nie. Dis ons wat die wat val en struikel weer help om regop op hulle voete te kom. Dis ‘n baie eerbare ding om iemand te help sy kruis te dra en ons sal sekerlik daarvoor beloon word, maar vir nou moet ons Jesus vertrou en toegee aan Sy Wil vir ons lewens. Jesus weet wat Hy besig is om te doen, selfs al weet ons nie. Ons moet net glo dat daar ‘n uitkoms gaan wees en eendag as ons aan die HERE se Sy staan, sal sien waarom al die beproewinge daar was.
Prys die Naam van Jesus!