Jesus het hierdie woord op my hart gelê om dit vir julle te bring, maar ek weet dat dit sommige mense gaan ontstel…
Julle moet onthou dat Jesus almal van ons baie lief het, maar dit beteken nie dat Hy dom is ten opsigte van ons foute nie. As Hy sien dat iets besig is om verkeerd te loop, dan gaan Hy daaroor praat en Hy gaan sy knegte daarvoor gebruik. Die doel is nie om enige iemand te verkleineer nie, maar eerder om mense te laat regopsit en oplet sodat verandering kan plaasvind.
Soos julle weet gesels Jesus met ons deur Sy Woord en dat daar is nie iets is soos toeval as dit by Jesus kom nie. So het my Bybel oopgeslaan by 1 Korintiërs 9. Die gedeelte gaan oor die verkondiging van die Woord van God en ons wat dit verkondig se rol daarin. Ek het die hele hoofstuk deurgelees, maar my oog het geval op vers 17: “Want as ek dit vrywillig doen, het ek loon; maar as ek dit onwillig doen, is ‘n rentmeesterskap aan my toevertrou.”
Voor ons aangaan; kom ons kyk eers wat ‘n rentmeesterskap is. ’n Rentmeester is soos ‘n bestuur der en daarom iemand wat sy werkgewer se eiendom bestuur. Die eiendom is nie syne nie en hy sal dit ook nooit in besit kan neem nie. ‘n Rentmeester is dus iemand wat die werk wat hom opgelê word doen omdat hy daarvoor betaal word. Hy het geen liefde vir wat hy doen nie en hy gee ook nie om vir die eiendom wat hy bestuur nie.
Ek het gewonder wat Jesus vir my wou sê deur hierdie gedeelte, want ek bedien ook die Woord van God, maar ek doen dit omdat ek dit wil doen en nie omdat ek moet nie. Ek sou tog sekerlik nie so lank daarmee aangegaan het as dit vir my ‘n las was of ek dit gedoen het vir die roem nie, want wat se loon gaan ek dan hê! Ek is dus nie ‘n rentmeester nie en Jesus het nie met my gesels toe my oog op daardie gedeelte geval het nie. Ek moet dus wyer kyk en dis die doel van vandag se boodskap.
Daar is so baie mense wat die Woord van die HERE vandag verkondig en dis goed so, maar die vraag is hoeveel van hulle doen dit omdat hulle moet? Hoeveel is daar wat die Woord van God verkondig omdat dit vir hulle ‘n plesier en ‘n eer is? Hierdie is die tipe vraag wat selfondersoek gaan verg as jy iemand is wat die Woord van God verkondig. As jy die Woord van God verkondig, dan gaan jy met Jesus moet sit en selfondersoek moet doen!
Die van julle wat so boodskappe op ons Suiderkruis Watsapp groep pos; doen julle dit omdat dit vir julle graag iets vir Jesus wil doen en dit ‘n plesier is om te doen of doen julle dit om deur die mense gesien te word? Indien laasgenoemde, dan het die Woord van God vir jou ook ‘n rentmeesterskap geword en doen jy dit net omdat jy moet.
Sommige van julle sou agtergekom het hoe fyn hierdie boodskap sny en dis waarom dit so noodsaaklik is dat elkeen selfondersoek moet gaan doen, veral as jy met die Woord van God werk! Ek sê nie dat enige een nou moet ophou om boodskappe te pos nie, maar ek sê dat elkeen selfondersoek moet doen oor die gesindheid waarmee daardie boodskap gepos word. Doen jy dit omdat jy die Koningryk van God wil laat groei of doen jy dit omdat jy deur die mense gesien wil word. Daar is ‘n groot verskil!
Paulus sê verder dat almal van ons besig is om aan ‘n wedloop deel te neem, maar ek voel dat sommige net saam hardloop op die baan omdat hulle deur die mense gesien wil word sonder dat hulle enigsins begerig is om te wen! Hulle slaan met hulle vuiste, maar hulle slaan net lug raak… Selfondersoek gaan nodig wees en dit gaan elkeen van julle op julle eie moet doen om te bepaal of jy vir jouself ‘n rentmeesterskap opgelê het of nie.
Koning Jesus, ek wil bid en vra dat U hierdie boodskap sal seën aan mense se harte, sodat hulle selfondersoek sal doen om te bepaal presies waar hulle met U staan. Ek voel dat U hierdie boodskap nie aan my gegee het om dowe neute nie en daarom bid ek dat U elkeen wat hierdie boodskap lees en ter harte neem sal seën. AMEN!
