‘n Gedaante van Godsaligheid

Vandag wil ek met julle gesels oor ‘n baie spesifieke groep mense wat gaan agterbly op die dag van die wegraping.

In 2 Timotheüs 3:1-6 gee Paulus vir ons ‘n baie akkurate beskrywing van die karakter van mense soos dit gaan wees in die laaste dae voor die wegraping. Paulus lig verskeie karakter eienskappe uit soos liefhebbers van hulleself, geld gieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, verraaiers, roekeloos, verwaand en meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.

Klink hierdie dinge bekend, liewe leser, want tensy jy vir die afgelope tien jaar onder ‘n klip gewoon het, sal jy al hierdie dinge vandag in die mense raaksien! Mense word deesdae aangedryf deur gierigheid. Hoe meer geld hulle kan maak hoe beter en hulle gee nie om op wie of wat hulle moet trap om daarby uit te kom nie. Ons beroof deesdae tot die armes net om onsself te bevoordeel! Mense is verwaand en hulle dink dat hulle is beter as ander en as gevolg daarvan het hulle geen liefde vir die goeie of enige dankbaarheid nie. Klink hierdie dinge nou bekend?

Maar vandag wil ek fokus op 2 Timotheüs 3:5 en daarin staan: “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” Hierdie is mense wat vir die wêreld wys watter groot Christene hulle is, maar hulle leef nog steeds in sonde en hulle het geen probleem daarmee nie. Hulle het geen begeerte om hierdie leefstyl van hulle te verander nie, want hulle redenasie is dat God hulle harte ken en daarom hoef hulle nie te verander nie.

Maar ‘n ware goddelike leefstyl is om te leef op so ‘n manier dat jy God se verordeninge nakom en daarop uit is om Hom te eer en eerste te stel in jou lewe. ‘n Goddelike leefstyl is om die hele tyd te probeer om nie te sondig nie en as jy oortree, wat ons almal gaan doen, want dis arrogant om te dink dat jy nooit gaan sondig nie, om dan dadelik vergifnis te gaan vra en weer te probeer nie. Selfs al oortree jy menigvuldiglik en selfs al is dit aanmekaar dieselfde sonde. Dit is ‘n goddelike leefstyl daardie! ‘n Goddelike leefstyl is nie opsetlik sondig en dit dan afskryf as niksseggend nie!

Kom ek vra julle ‘n vraag. Wie is die persoon in jou kerk of vriendekring wat die meeste ‘n goddelike leefstyl handhaaf? Dit gaan die persoon wees wat die minste sondig! En wie is die persoon wat die minste ‘n goddelike leefstyl handhaaf? Dit gaan die een wees wat die meeste sondig!

Nou 2 Timotheüs 3:5 vertel vir ons van ‘n baie spesifieke groep mense wat ‘n teken van goddelikheid het, maar die krag daarvan verloën het. Hulle gaan in die wegraping agtergelaat word en van hulle gaan baie verbaas en selfs geskok wees daaroor, want hulle redenasie is dat hulle ook Christene is. Maar hulle vergeet dat God alomteenwoordig is en dat Hy altyd sien wat almal doen, maak nie saak hoe jy dit wegsteek nie! Jy kan nie sonde wegredeneer nie en maak nie saak hoe slim jy dink jy is nie, jy gaan geoordeel word volgens jou dade. Hierdie is die groep mense waarvan Paulus aan Timoteus skryf; “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”

In 1 Tessalonisense 4:16-17 skryf Paulus [16]  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. [17]  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” Ons wat nog lewe sal in ‘n oogwink weggeruk word tot op die wolke om vir altyd by Jesus te wees en die wat ‘n teken van Godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het, sal agterbly.

Nou moet julle mooi oplet, want Jesus sê vir ons in Mattheus 24:37-39 [37]  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. [38]  Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, [39]  en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” Dit beteken dat daar geen waarskuwing gaan wees voor die wegraping gaan kom nie.

Die lug gaan nie op die middag uur pik donker word soos wat ons in baie programme oor die wegraping sien nie. Daar gaan nie een of ander verskynsel in die hemel of op die aarde wees om ons te waarsku nie. Dit gaan egter ‘n dag of ‘n nag wees soos baie ander voor dit. Mense sal aangaan met hulle lewens soos wat hulle al vir eeue voor dit gedoen het met geen waarskuwing van enige aard nie. Mense gaan ook nie weet wat dit is wat gebeur as dit gebeur nie, maar agterna sal hulle verstaan wat dit is wat gebeur het. Jy gaan tot op die oomblik van die wegraping ‘n goddelike leefstyl moes gehandhaaf het of nie. Dis so maklik soos dit is en ek kan julle waarborg dat die wêreld omkant betrap gaan word as dit gebeur.

Die wat ‘n goddelike leefstyl handhaaf sal in lyn wees met die Wil van die Vader en hulle sal die beeld van Jesus uitdra terwyl die wat dit nie doen nie sal aangaan met hulle sondige leefstyl soos wat hulle al lank al doen.

Onthou, dat niemand die dag en die uur weet nie; nie Jesus nie en ook nie die engele nie, maar net God die Vader! (Mattheus 24:36) Moenie dat enige iemand julle mislei deur te sê dat hy of sy weet nie, want die waarheid is nie in daardie persoon nie. Jesus gaan kom op ‘n dag wat ons dit nie gaan verwag nie en dit kan enige oomblik wees. Sorg dus dat jy in lyn is met die Wil van die Vader en dat jy ‘n goddelike leefstyl handhaaf.

Prys die Heilige Naam van die HERE!

(Visited 741 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .