Ek gaan vandag ‘n getuienis van ‘n prokureur met julle deel wat COVID onderlêde gehad het gedurende die kwarantyn tydperk van 2020.
Hy het later geskryf dat terwyl hy alleen in die hospitaal gelê het met ‘n ventilator oor sy mond en neus, het hy gewonder of dit die plek is waar hy alleen sal doodgaan. Sy vrou en kinders kon nie by hom wees nie, as gevolg van die kwarantyn maatreëls. Hy het Jesus geken, maar nie op die vlak waar hy moes wees nie.
Hoe dit gebeur het, weet hy nie, maar hy het hom skielik in ‘n tuin bevind by ‘n baie mooi boom wat nog jonk was. Terwyl hy gewonder het wat se boom dit was, het ‘n stem vir hom gesê dat dit sy boom was en dat die boom sy lewe op aarde voorstel. Die boom groei soos hy in Jesus groei en ook soos hy vir Jesus werk. Hoe meer hy geestelik groei, hoe meer groei die boom.
Vandat ek hierdie getuienis gelees het, het ek begin wonder hoe my boom lyk, want ek werk al baie jare vir Jesus, maar die geleentheid om te kan sien hoe my boom lyk was my nooit gegun nie.
‘n Ruk na ek hierdie getuienis ontvang het; dit moes so tussen vier en vyf uur in die oggend gewees het, het ek wakker geword. Wat my laat wakker word het, weet ek nie. Skielik het ek voor hierdie massiewe groot boom gestaan wat soos ‘n denne boom gelyk het. Ek het nooit geweet dat bome in die algemeen so groot kan raak nie! Die takke was in sulke lae as ek dit so kan beskryf en voëls het in tussen die takke in en uit gevlieg. Die boom was so hoog dat van die voëls wat uitgevlieg het, sulke swart kolletjies teen die hemel gemaak het! Jy kon nie eers sien wat se soort voël dit was nie, so hoog was hulle. ‘n Stem het vir my gesê: “Dis jou boom,” en onmiddellik daarna was ek terug in my bed. Trane het geloop. Tot vandag toe kan ek die beeld van die boom of die ondervinding nie uit my gedagtes kry nie.
Hier waar ek nou hierdie boodskap skryf, kan ek nou nog nie glo wat ek gesien het nie. Ek wil nie hê dat enige iemand moet dink dat ek iets spesiaal is nie, want ek is nie. Ek is ‘n sondaar wat Jesus se genade net so nodig het soos enige een van julle; heel moontlik meer.
Liewe Kinders van die HERE, ons tyd is regtig baie naby… Ek wil niemand van julle bang maak nie, want dis nie my doel nie. Ek wil hê dat julle opgewonde moet raak daaroor! Ons werk nie meer vir eendag nie; eendag begin vandag! Ek wil hê dat julle alles in die stryd moet werp. Moet niks terug hou nie en moenie enige iets wat jy vir Jesus doen as minderwaardig ag nie. Jy gaan verbaas wees waarna Jesus kyk en dis ‘n feit! Die kleinste dingetjie wat jy uit jou hart uit doen, tel so baie dat ek nie vir jou kan beskryf hoeveel nie!
As jy vir iemand goed kan doen, doen dit. As iemand jou te na kom of te na gekom het, vergewe daardie persoon en vergeet van die oortreding teen jou. Binnekort gaan ons die ewigheid betree en ons kan nie dan nog met bagasie loop nie. Gooi weg die bagasie! Al wat dit doen is om jou terug te hou met onnodige gewig.
Nee, ek weet nie wanneer die dag gaan kom nie, maar ek kan vir julle met absolute sekerheid sê dat dit naby is. Hou vas met alles wat julle het en moenie nou ophou werk nie! Mag Jesus julle almal wat hierdie boodskap lees seën en styf teen Hom vashou. Hy het elkeen van julle ongelooflik baie lief. Moet dit nooit vergeet nie!
Jesus, seën hierdie boodskap aan almal wat die lees se harte, AMEN!
