Na aanleiding van my artikel oor die 100 dae van oordeel het ek vir die HERE gevra of hierdie oordeel ook op ons, Sy Kinders van toepassing is en die volgende antwoord uit die Skrif gekry.
“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” (Romeine 8:1)
Ek wil hê julle moet hierdie vers vir my baie mooi lees, want daar is meer in as wat dit op die oog af lyk. Kom ons wees nou reguit: ons almal wonder of ons gereed is vir die wegraping en of daar nie dalk iets is wat ons vergeet het om te doen nie. Ek kan vir julle sê dat hierdie vrees nie van die HERE af kom nie en dat dit bestraf moet word in die Naam van Jesus!
Kom ons kyk nou na die vers van die HERE soos in Romeine 8:1 opgeteken en dan verduidelik ek dit vir julle.
Die eerste gedeelte is baie voor die hand liggend. As jy Jesus Christus as jou persoonlike Salig Maker aan geneem het, dan is daar vir jou geen veroordeling nie. Waarom nie? Want die prys vir al jou oortredinge is reeds betaal, meer as 2000 jaar gelede op ‘n hout kruis op Golgota! Dis waarom!
Kom ons kyk nou na die verdrukking. Die verdrukking is God die Vader se straf oor hierdie wêreld wat weier om Hom as God te erken. Straf ons as ouers ons kinders as hulle niks verkeerd gedoen het nie? Natuurlik nie! Om daardie rede is ons as Kinders van God onthef van enige veroordeling en vry van enige straf wat God die Vader oor hierdie wêreld wil bring! En dis waarom Jesus eerste die wat gereed is voor die tyd uit die pad van die straf gaan kom haal. Verstaan julle?
In die tweede gedeelte van hierdie vers sien ons dat dinge nie so maklik is as wat dit klink nie, want daar is bepalings waarin ons as Kinders van God moet voldoen om aanspraak te kan maak daarop dat ons vry is van veroordeling. Kom ons noem dit die terme en voorwaardes! Ons hoor hierdie woorde mos so baie as dit by kompetisies kom!
Wat is hierdie terme en voorwaardes? Om vry te kan wees van veroordeling moet jy nie na die vlees wandel nie, maar in die Gees. Wag ‘n bietjie… wat beteken dit? Ek is gered, maar wat is hierdie vlees en gees ding dan? Kom ek verduidelik!
As jy in ‘n hof vrygeskeld word van wat ook al oortreding jy begaan het, dan gaan jy nie uit tot op die straat en pleeg weer dieselfde oortreding nie. Jy is so bly dat jy vrygeskeld is, dat jy in die toekoms ekstra versigtig is om nie weer dieselfde oortreding te begaan nie!
Vir baie Christene werk dit egter nie so nie. Hulle is soos ‘n motoris wat ‘n spoed kaartjie kry. Hy raas en gaan tekere daaroor en betaal uiteindelik die oortreding om maar net ‘n paar minute later weer net so vinnig te ry! Op dieselfde wyse is baie mense gered deur Jesus se bloed, maar hulle gaan aan met dieselfde sondes wat hulle mee aangegaan het voor hulle gered was. Niks het dus verander nie.
Jesus is nie blind nie! Hy weet maar net te goed hoe moeilik dit is om van sonde ontslae te raak. Baie van ons kry dit nooit reg nie, maar ons hou aan met probeer en dit liewe leser, is die sleutel tot sukses! Jy moet aanhou probeer, selfs al vaal jy! Jy sal later so geoefen word van probeer dat jy vanself vir satan gaan nee sê! Jy gaan later satan se “tricks” begin ken en jy gaan weet om weg te bly daarvan!
Dis soos daardie artikel wat ek geskryf het oor Jesus wat die groot boom is. Solank ons binne in of onder die boom is, is ons veilig en kan die son ons nie brand nie, maar as jy onder die boom se skaduwee uitbeweeg, dan skyn die son direk op jou en gaan die son jou stukkend brand! Dit is wat in die Gees wandel beteken. Jy moet die hele tyd saam met Jesus wees. Maak Hom deel van jou lewe in alle opsigte. Jy mag as te ware jouself nooit op ‘n plek bevind waar Jesus nie voor jou was nie!
Ek sê nie dat dit maklik gaan wees nie. Nêrens in die hele Bybel belowe Jesus vir ons ‘n maklike lewe as ons Hom volg nie, maar wat Hy wel belowe is dat die beloning vir ons pogings ons wildste drome gaan oortref!
As jy die hele tyd naby Jesus loop, sal Jesus uiteindelik op jou begin afvryf en sal jy begin om op te tree soos Hy. Dieselfde ding gebeur met mense wat lank getroud is. Hulle vryf op mekaar af en doen later dinge soos wat die ander een daarvan hou. As jy saam met Jesus loop sal jou lewe begin verander. Eers stelselmatig sonder dat jy dit agterkom en later doen jy dit waarvan Jesus hou spontaan en omdat dit vir jou ‘n plesier is om te doen. Dis dan ook nou waar naasteliefde inkom: jy sal dit spontaan en outomaties begin doen!
In 1 Petrus 4:8 staan “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.”
Kom ons kyk gou na daardie sondes wat jy nog in jou lewe het waarmee jy so sukkel. Net om die vraag te antwoord; ek het ook sondes in my lewe waarmee ek sukkel! Julle sien: jy gaan nooit perfek wees nie, selfs al wil jy hoe graag. Ons is net te swak daarvoor, maar ons kan perfek wees in ons pogings en dit is wat tel! Ons kan ook perfek wees in ons naasteliefde en dit is wat ons gaan deurdra en gaan sorg dat ons gereed is as Jesus gaan kom! Prys Sy Naam!
Julle sien dus: daar is vir ons wat in Jesus is, geen veroordeling nie. Niks sal met jou gebeur sonder Jesus se uitdruklike toestemming nie! Wees perfek in jou wil om perfek te wil wees en vir die res, wees lief vir mekaar, want dit sal baie sondes bedek! As jy dit doen, sal jy gereed wees as Jesus kom en sal jy glad nie agterbly nie!
Prys die Naam van Jesus!