Na aan leiding van ‘n vorige boodskap, wil ek vandag graag verder gaan met wie nou eintlik die grootste in die Hemel gaan wees, buiten Jesus natuurlik!
Jesus se dissipels het ook oor hierdie vraag gewonder en dis waarom Jesus ‘n kind tussen hulle laat staan het en vir hulle in Lukas 9:48 die volgende gesê het: “Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.”
Naasteliefde, liewe leser is die sleutel tot baie dinge. Daar staan nie verniet in 1 Petrus 4:8 geskryf “…want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.” nie. Sonder naasteliefde, sal jy nie in die wegraping geneem word nie; dis hoe ernstig Jesus is oor hierdie onderwerp.
Julle wonder nou seker wat naasteliefde te doen het met wie die grootste in die Hemel gaan wees, né? Dis soos ek gesê het: naasteliefde is die sleutel tot baie dinge. As jy jou naaste liefhet, dan sal jy al die bepalings van die tien gebooie nakom sonder om eers daaroor te dink. Jy sal nie steel nie, jy sal nie begeer nie en jy sal ook nie omgee om enige iets vir die naaste te doen nie. Begin julle verstaan?
Om die grootste in die Hemel te wees, moet jy jou naaste se dienaar wees. Jesus het ‘n kind as voorbeeld gebruik, want in daardie jare as jy vir ‘n kind gestuur het om iets te doen, dan was dit gedoen! Presies soos jy gevra het dit moes gedoen word. Dis dan ook waarom Jesus wat die leier van die Kerk is, Sy dissipels se voete gewas het. Jy moet bereid wees om die ondankbaarste werk met ‘n glimlag te doen omdat jy jou naaste lief het! Dis die geheim!
As ek vir myself koffie maak in my huis, dan maak ek vir almal iets om te dink. Nie om vir almal te wys hoe hoog heilig ek is nie, maar omdat dit vir my ‘n plesier is om dit te doen. Dit help nie jy doen iets vir jou naaste en jy loop agterna rond met ‘n lip wat op twee bar gepomp is daaroor nie. Dan was dit nie vir jou ‘n plesier om dit te doen nie en ook nie naasteliefde nie.
Waarom is naasteliefde dan so belangrik? Omdat dinge in die Hemel die teenoorgestelde is van hoe dit op aarde is. Op aarde word ons geleer dat jy die beter dinge in die lewe kry deur hard te werk en te presteer. Alles gaan oor individuele prestasie. In die Hemel is dit nie so nie. Die individu is nie belangrik nie, maar eerder die groep. As die groep waaraan jy behoort presteer, dan is almal saam bly. Almal in die groep werk saam om een gemeenskaplike doel te bereik. Dis belangrik dat ons nou al begin om te oefen aan hierdie beginsels sodat as ons in die Hemel kom, dit nie so ‘n vreemde aanpassing sal wees nie.
Boonop, Jesus sê in Mattheus 6:19-21 “[19] Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; [20] maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; [21] want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Met ander woorde, begin solank nou al werk aan naasteliefde en wees mekaar se dienaars, ongeag hoe jy oor die persoon voel, want so sal jy vir jou skatte bymekaar maak waar mot en roes nie verniel en diewe nie inbreek en steel nie. Wees lief vir mekaar. Doen goed aan ander, maak nie saak hoe jy oor die persoon voel nie. Jy mag in elke geval nie oordeel nie! So sal jy ook een van die grootstes in die Hemel word.
Prys die Naam van Jesus!