Ek gaan vandag hierdie baie bekende stukkie met julle behandel. Hierdie is die tyd van die jaar waar dinge vir baie mense te veel raak, maar Jesus wil hê dat julle moet weet dat daar altyd ‘n uitkoms is, selfs al lyk dinge hoe donker.
Na die Nagmaal het Jesus saam met Sy dissipels na die Olyf berg vertrek volgens die gewoonte. Ons gaan nou verder lees soos dit in Mattheus 26:36-46 opgeteken is.
[36] Toe kom Jesus met hulle in ‘n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid. [37] En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. [38] Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.
Sommige van julle gaan dit seker snaaks vind om te lees dat Jesus tot die dood toe bang was vir wat gaan kom. ‘n Kruisiging is geen grap nie. In daardie dae wat dit die mees wreedste en mees gevreesde dood wat die Romeine iemand kon oplê. Ek is seker dat as een van ons so iets in die gesig moet staar, ons ook tot die dood toe bang sal wees! Hierdie gedeelte bevestig ook aan ons dat Jesus ‘n mens was, net soos ons, want hy was bang! Kom ons lees verder.
[39] En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.
Met hierdie vers bevestig Jesus Sy menslikheid deur by God te smeek om dit wat moet kom van Hom af weg te vat omdat Hy bang was. Niemand in sy regdenkende verstand sal vrywillig wil doodgaan nie; nie eers ek nie en dis waarom Jesus by God die Vader smeek om dit wat kom van Hom af weg te neem.
Jesus erken ook egter die Wil van God die Vader toe Hy gesê het; nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. Met ander woorde, liewe leser, die Wil van God die Vader moet geskiet. Hiermee het Jesus Sy lewe en dit wat moet gebeur in die Hande van die Vader geplaas.
[40] En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? [41] Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
Weereens bevestig Jesus Sy en Sy dissipels se menslikheid toe Hy sy dissipels aan die slaap vind, hulle wakker maak en vir hulle sê dat die gees gewillig is, maar dat die vlees swak is. Ten spyte van die swak vlees, mag ons nie ophou om te bid nie, want gebed is wat ons deur alles dra en uit die versoeking hou.
Julle moet verstaan dat as jy tot die HERE bid, dan kan satan jou nie aanval nie. Hy het dan geen mag oor jou nie, want jy is in gesprek met God. As jy daarom voel dat satan jou versoek, tree dan in gebed, want dis die een wapen is waarteen satan absoluut magteloos is!
[42] Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.
Hier kom Filippense 4:6 ter sprake toe Paulus gesê het “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” En dis wat Jesus ook hier doen. Hy vra vir God die Vader om dit wat kom van Hom af weg te neem, maar Hy voeg ook by dat nie Sy wil moet geskied nie, maar die Wil van die Vader.
Jesus het onder andere gekom om ons te leer deur die voorbeeld te stel en hierdie is sekerlik een van die beste voorbeelde wat Jesus gestel het! Vra wat jy nodig het, maar erken jou afhanklikheid van God deur Hom te laat besluit oor wanneer die beste tyd sal wees. Onthou, nie ons tyd nie, maar God se tyd!
[43] Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar. [44] En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. [45] Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. [46] Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.
Soos Jesus gesê het; die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Jesus weet dat ons vleeslik is en dat ons swak is, selfs al dink ons nie so nie. Dis ook waarom Hy so geduldig met ons is en waarom die tydperk van genade nog nie verby is nie. Die tydperk van genade moet egter ‘n einde ook kry sodat God die Vader se plan verder kan gaan en daardie tydperk is amper hier.
Ek gaan daarom afsluit met die woorde: waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie.
Prys die Naam van Jesus!