Maak gereed, want die Koning kom!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Elke oggend as ek my Oggend Godsdiens hou, dan slaan ek my Bybel oop en daar waar dit oopslaan, daar lees ek. Baie van die boodskappe wat ek vir julle bring, kry ek op hierdie manier.

Die afgelope tyd let ek op hoe baie keer my ek oopslaan by Mattheus 24, spesifiek die gedeelte waar die HERE sy dissipels waarsku oor die komende verdrukking met die woorde “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” (Mattheus 24:21) Baie keer kry ek dieselfde gedeelte in Markus 13:19. Dit gebeur so gereeld dat ek die feit dat die HERE ons wil waarsku teen dit wat gaan kom nie kan ignoreer nie.

Liewe lesers, ek weet ek het al baie boodskappe oor die wegraping gebring en net so baie boodskappe oor die bekering en nog meer boodskappe oor om gereed te wees. Ek weet dat daar mense is wat dink dat hulle in die laaste van sekondes tyd gaan gegee word om vinnig reg te kan maak. Liewe leser, as jy een van hierdie is, dan wil ek net vir jou sê dat jy besig is om met jou ewigheid te speel. Daar gaan vir jou geen tyd gegun word nie; geen tyd om vinnig reg te maak nie. As jy nie voor die tyd gereed is nie, gaan jy net soos die vyf maagde wat nie gereed was nie, agtergelaat word!

Jesus waarsku in Lukas 21:34 dat ons ons harte moet bewaar en nie beswaard word deur die sorge van die lewe as die HERE talm om te kom nie. Jesus het ook gewaarsku dat net so baie van die geloof afvallig sal word, maar dat die wat waak en bid gered sal word. Dan kom die belangrikste gedeelte: “Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.” (Luk 21:35)

Op verskeie plekke in die Bybel word ons gewaarsku dat dit soos ‘n groot skrik gaan kom. Jesus self sê soos ‘n dief in die nag. Soos ‘n swanger vrou in barensnood. Jy gaan so lekker aangaan met jou daaglikse dinge en dan gaan die tyd daar wees om op te hou werk vir die HERE. Tyd vir vinnig regmaak gaan niemand gegun word nie. Moet dus nie onverhoeds betrap word nie!

Niemand sal vir jou kan sê wanneer die tyd gaan kom nie, want geen mens op aarde weet dit nie. Nie eers Jesus of die engele weet dit nie. Net God die Vader weet. Al wat ek kan sê is dat die tyd binnekort gaan wees, maar ek weet nie wanneer nie. Sorg dus dat jy gereed is!

Ek gaan afsluit met Paulus se woorde aan die gemeente van Tessalonisense soos opgeteken in 1 Tessalonisense 5:16-21.

  • Wees altyddeur bly. 
  • Bid sonder ophou. 
  • Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. 
  • Blus die Gees nie uit nie. 
  • Verag die profesieë nie. 
  • Beproef alle dinge; behou die goeie. 
  • Onthou julle van elke vorm van kwaad. 

Ek weet nie hoe ek dit weet nie, maar ek kan julle verseker dat ons nie meer lank gaan wag nie. Nog net ‘n klein rukkie en ons sal vir altyd by die een wees wat alles gegee het sodat ons nie verlore mag gaan nie.

Prys die Naam van die HERE!

 

(Visited 258 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .