Ek wil vandag vir julle ‘n vraag vra: wie van julle was al deur die HERE getoets?
Ek kan net dit sê: maklik is die nie en dis ook nie aangenaam nie! Die toetse word ook moeiliker soos jy die berg saam met die HERE klim. Maar die beloning wat jy kry, maak meer as op vir die ontbering van die oomblik! Prys die HERE!
Ek was op geleentheid so getoets nadat die HERE ‘n groot gedeelte van my inkomste weggevat het. Ek het vroeg in die maand besef dat ek dit nie finansieel gaan maak na die einde van maand toe nie, maar ek het gehoop op ‘n wonderwerk. Hoe meer die maand gevorder het, hoe swakker het die uitkoms gelyk.
Julle sien, as mens is ons gou om te oordeel. “Jy moet bid.” “Miskien het jy iets iewers verkeerd gedoen.” “Moenie twyfel nie, want jy maak die HERE tot ‘n leuenaar.” Alles die klink so maklik as dit nie op jou van toepassing is nie, maar as jy eers daar is met jou hande in jou hare en jy weet nie watter kant toe nie, dan lyk die prentjie sommer baie anders!
Ek kan julle verseker; maak nie saak hoe lank of hoe sterk jy in die HERE staan nie, jy bly ‘n mens en jy is baie swakker as wat jy dink! Wat vir my baie gehelp het is die feit dat ek al voorheen deur ‘n soortgelyke ondervinding is. Daardie ondervinding het my baie gehelp om staande te bly; dankie Jesus!
Salomo skryf in Psalm 127:1 “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.” Met ander woorde, liewe lesers, as jy die HERE nie in elke aspek van jou lewe ken nie; en dit sluit die goeie en die slegte in, tevergeefs is dit wat jy wil aanpak.
Jesus sê self in Mattheus 6:25 “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie.” Met ander woorde, Jesus is in beheer, selfs al lyk dinge vir jou hoe sleg. Moet jy net nie moet opgee nie, want die oomblik as jy moed opgee, dan het jy klaar verloor en oorhandig jy die oorwinning aan satan op ‘n silwer skinkbord!
Paulus skryf in Filippense 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” En dis presies wat ek gedoen het! Ek het gebid en erken dat ek swak is en ook erken dat ek nie in staat is om enige iets aan die saak te verander as die HERE nie daarby betrokke is nie. Ek het ook Jesus se woorde in Mattheus 6:32 herhaal “julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” en ek het geglo dat God sal voorsien wanneer ek dit nodig het en nie voor die tyd nie! Nie my tyd nie, maar God se tyd! Ek kan julle verseker dat om hierdie woorde te glo jou geloof in die HERE toets op ‘n manier wat jy nooit gedink het nie!
Hoe verder die maand gegaan het, hoe slegter het dit gegaan, maar ek het net vasgehou en oor en oor herhaal dat die HERE weet wat ek nodig het en dat Hy sal voorsien! Uitkoms het gekom en so ook God se beloning, want dis wat die HERE doen aan die wat vas staan in die geloof en bly glo, selfs al kan hulle self nie ‘n uitkoms sien nie.
Liewe lesers, ek weet dat iemand wat hierdie lees nou deur ‘n krisis gaan wat vir jou onoorbrugbaar lyk. Jy weet tien teen een nie watter kant toe nie. Ek kan daarvan getuig en ek weet hoe dit voel, want ek was daar. Ek weet dit klink maklik en hol as ek dit gaan sê, maar ek wil vra dat jy die HERE ‘n kans sal gee en sal glo dat daar ‘n uitkoms vir jou is. Jesus weet wat jy nodig het en Hy sal voorsien op Sy tyd. Jy moet net glo.
Angus Buchan het eenslag gesê: “Glo soos ‘n aartappel!” Jy sien, as ‘n aartappel geplant word, dan weet dit nie waarom dit in die grond gedruk en toegegooi word om te sterf nie. Maar as die aartappel nie sterf nie, dan kan dit nie ‘n oes voortbring nie. Net so kan die Heilige Gees nie groei in ons lewens as ons nie sterf vir die wêreld en sy begeerlikhede nie.
Ek wil vra dat jy moet glo. Glo soos ‘n aartappel! Glo soos ‘n kind wat sy pa se hand vashou. Daar is uitkoms vir jou. Jesus weet wat jy nodige het en Hy SAL voorsien!
Prys die Naam van die HERE!