As geredde Christene besef ons nie altyd wat se geskenk Jesus vir ons bewerkstellig het deur Sy kruisdood nie.
God het sy liefde vir ons as mens bewys deur vir ons te sterwe vir ons sondes toe ons nog in vyandskap met Hom was en nog net ons eie sondige dinge wou doen. Deur daardie een daad het Jesus versoening gebring tussen God en die mens. Die geskenk is dat ons sondes vergewe is en dat ons geregverdig word deur te glo in Jesus.
U sal seker nou wonder wat dit beteken. In kort beteken dit dat die Here u sonde nie toereken as u gered is nie. U is dus waardig om God se koninkryk te betree ongeag van dit wat u in die verlede gedoen het.
Die Fariseërs van ouds kon ook nie verstaan waarom sondaars so aangetrokke tot Jesus was nie. Hy het dit aan hulle verduidelik deur ‘n gelykenis van ‘n man wat twee skuldenaars gehad het. Die een het baie geskuld, terwyl die ander min geskuld het. Hy het al twee se skuld afgeskryf. Wie van die twee sal dan die meeste dankbaar wees? Tog die een met die meeste geskuld het, dan nie? Ons is tog so geneig om neer te kyk op ander en hulle oortredinge en dan vergeet ons gerieflikheidshalwe dat Jesus dieselfde prys vir ons betaal het en hoe baie ons skuld was wat afgeskryf is.
Paulus skryf in Romeine 4:7-8 die volgende: “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.”
As geredde Kinders van God word ons sondes ons nie toegereken nie. Alles daarvan! Die Here gaan sit nie en besluit watter oortredinge Hy wil vergewe en watter nie. Hy vergewe alles en dis waarvoor ons dankbaar moet wees! Ons skuld wat baie was, is vergewe! Prys die HERE!
Die laaste geskenk wat met die vergifnis van ons sondes gepaard gaan is dat Jesus ons gaan red van die toorn van God wat aan kom is oor hierdie wêreld. (Romeine 5:9) Dit beteken dat u as geredde Kind van die Here nie die komende verdrukking sal hoef mee te maak nie. Jesus gaan kom om ons uit die rampgebied te verwyder voor die tyd en daardie gebeurtenis ken ons as die wegraping!
Voor ek afsluit is daar net een punt wat ek wil aanraak. Oral in die evangelies waar Jesus mense se sondes vergewe het, het Hy gesê: “Gaan heen en sondig nie meer nie.” Alhoewel ons oortredinge ons verhewe is en dit bedek is met die bloed van Jesus, word daar van ons verwag om ‘n poging aan te wend om nie meer te sondig nie. Die feit dat alles verhewe is, beteken nie dat ons ‘n gratis kaartjie het om te sondig soos ons wil nie. Op geen manier mag ons misbruik maak van Jesus se geskenk deur aan te hou met ons sondige lewe nie. Van ons kant af, moet ons probeer om sonder sonde te lewe en as ons val, dan moet ons heel eerste terug gaan na Jesus sodat Hy ons wonde kan verbind en ons kan herstel.
Mag die Here hierdie boodskap aan julle harte seën!