Baie dankie HERE dat U ons leer met die baie voorbeelde wat U vir ons gestel het toe U op aarde was. Amen!
In Johannes 13 lees ons hoe Jesus gedurende die laaste nagmaal Sy dissipels se voete gewas het. Hy het in die middel van die ete opgestaan, water in ‘n bak gegooi en begin om die voete van sy dissipels te was. Waarom dink julle het Hy dit gedoen? Omdat hulle voete vuil was? En waarom in die middel van die maaltyd? Die gebruik om voete te was, was iets wat gewoonlik voor die maaltyd gedoen was; beslis nie in die middel van die maaltyd nie! So, waarom dan hierdie gebaar?
In vers ses begin die betekenis duidelik word toe Jesus Petrus se voete wou was. “[6] Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was? [7] Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan. [8] Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. [9] Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.” Hierdie Petrus is omtrent in karakter!
In vers tien verduidelik Jesus “Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.” Dit het hy natuurlik gesê omdat hy geweet het wie hom sou verraai. Wat Jesus dus gedoen het, lyk dus na ‘n geestelike reiniging, maar dis meer as dit. Lees gerus voort!
Die volledige betekenis van wat Jesus probeer bereik het word in verse 13 tot 17 geopenbaar nadat Hy weer gaan sit het. “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” (Johannes 13:13-17)
Bogenoemde gewaagde stelling is wat dit beteken om ‘n posisie van gesag vir die HERE te wees. Nederigheid beteken baie vir die HERE, want ons as mens is so gewoond daaraan dat as ons in posisies van gesag aangestel word om vir almal te wil vertel wat hulle moet en nie moet doen nie.
Dit laat my dink aan die storie van die moeder van die seuns van Sebedéüs in Mattheus 20:20-28. Sy wou gehad het dat haar twee seuns langs Jesus in die Koningryk moet sit en gesag met hom deel, maar dis nie hoe dit in die Hemel werk nie. Jesus se dissipels was baie verontwaardig oor die vermetelheid van hierdie vrou om sulke dinge te vra, maar Jesus het aan hulle gesê dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en dat groot manne oor hulle gesag uitoefen. Jesus het ook bygevoeg dat dit nie so onder ons moet wees nie, want elkeen van ons wat in posisies van gesag in die Hemel aangestel wil word, moet eers leer om die wat onder ons is, se dienaars te wees.
En so onthul die HERE die ware betekenis van die was van sy dissipels se voete. As jy gesag oor mense wil uitoefen, dan moet jy eers leer om hulle dienaar te wees! Net as jy bereid is om die oor wie jy gesag wil uitoefen te dien, kan jy gedien word. Net so in die Hemel ook. Die hoogste gesagsposisies gaan gegee word aan die wat op aarde die nederigste was en die meeste gedien het.
Prys die Naam van Jesus!