HERE, maak ons wakker sodat ons sal kan onderskei tussen watter boodskap van U af kom en watter nie; veral in hierdie laaste van tye. AMEN!
In Mattheus 24 lees ons waar Jesus se dissipels saam met Hom na die Olyf berg gaan en nadat hulle gaan sit het, het hulle Hom gevra wanneer die einde sal kom. Jesus antwoord toe in Mattheus 24:4 met die volgende antwoord: “Pas op dat niemand julle mislei nie.”
Ek vind hierdie antwoord so gepas, want Jesus kon hulle gewaarsku het van enige iets, maar as Sy heel eerste waarskuwing, kies hy toe die een en Hy waarsku hulle dat hulle versigtig moet wees om nie mislei te word nie. Dit wys net hoe belangrik dit vir Hom was om misleiding heel eerste te noem en vandag sien ons dit voor ons oë afspeel!
Ek kan vir julle op ‘n persoonlike vlak van hierdie dinge getuig, want in die laat 1990’s was ek so mislei. Dit was lank voor ek met Suiderkruis begin het. Dit het begin met ‘n christelike boek wat ek by CUM boeke gekoop het; heel onskuldig. Die boek het gegaan oor die Hemel en dit het uiterlik alles gehad wat ‘n Christelike boek veronderstel was om te hê. Ek het aanvanklik met alles wat die skrywer geskryf het saamgestem, want daar was tot aanhalings uit die Bybel uit, maar die tweede helfte van die boek was geheel en al teenstrydig wat in die Bybel staan! Dis amper asof die skrywer sy eie Bybel probeer skryf het!
Daar is niks verkeerd om boeke te lees wat die Bybel vir jou duidelik maak nie, maar dan moet die skrywer by die feite hou. As ons in ‘n boekwinkel staan en na die voorblad van die boek kyk en die voorwoord lees, dan lyk alles reg, maar niemand weet wat binne in aan gaan nie en dis wat so gevaarlik is. Ek glo dat die HERE hierdie ding my pad gestuur het sodat ek vandag met julle hieroor kan praat uit eie ondervinding uit!
Hoe weet ‘n mens dan die waarheid? Eerstens deur die Woord van God te ken, maar meer belangrik is ‘n soliede verhouding met Jesus en die Heilige Gees, want dis die enigste manier hoe ons die waarheid gaan kan onderskei! Prys die Naam van Jesus!
In Efesiërs 1:13 lees ons “…nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte.” As jy die Woord van die HERE hoor, dit glo en dit lei tot jou bekering, dan is jy verseël met die Heilige Gees. Nooit weer kan jy ongered word nie. Jy kan terugval in die wêreld in, maar jou redding kan jy nie verloor nie. Nooit nie!
Jesus self bevestig dit in Johannes 10:27-30 “[27] My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. [28] En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. [29] My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. [30] Ek en die Vader is een.”
En hier bevestig Jesus dit self! Jy kan nie jou redding verloor nie, want as jy tot bekering gekom het, behoort jy aan Jesus en daar is geen manier wat jy ooit verlore sal gaan nie. Prys die Naam van die HERE!
Ons wat gered is, het die HERE lief, want Hy het alles vir ons gegee; selfs Sy eie lewe het Hy nie gespaar nie! Ons glo dit en daarom behoort dit elke Kind van die HERE se plig te wees om homself te distansieer van sonde en om te probeer om ‘n lewe van Heiligheid te lei.
Let op dat ek die woord “probeer” gebruik en daar is ‘n baie goeie rede daarvoor. Nie een van ons is perfek nie; nie eers ek nie! Ek sê gereeld vir die HERE soos Petrus in Lukas 5:8 gesê het “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!” Maar Jesus doen dit nooit! Hy druk my eerder teen Hom vas en sê hoe lief Hy my het! Prys die Naam van die HERE!
Dis nie hoe jy val wat saak maak nie, maar hoe jy opstaan om verder te stap. Daardie poging wat jy aanwend om heilig te lewe is vir Jesus goud werd, selfs al slaag jy nie. En weet julle wat is nog meer werd? Die feit dat jy nie gaan lê nie! Jy staan op en jy probeer weer! Dis die verskil tussen ‘n oorwinnaar en ‘n verloorder!
‘n Wetenskaplike het eendag gesê dat as hy net so bly is as h verkeerd is as wat hy reg is, want reg of verkeerd, dis vooruitgang! Vandag sê ek vir jou dieselfde of jy sondig en val en of jy nie sondig en val nie, dis vooruitgang! Die punt is dat jy vorder en dat jy leer en iewers langs die pad gaan jy genoeg kennis hê om vir satan op sy plek te sit! Moet jou dus nie skop of slaan as jy struikel nie. Staan eerder op en loop verder en dank die HERE dat Hy nog steeds vergewe!
Hoe weet ek dat ek die Heilige Gees in my lewe het? Baie maklik! Jy dra die vrugte van die Gees en jy sal hulle in jou lewe bespeur soos jy in die Gees groei! Hulle is die vrugte van liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. (Galasiërs 5:22)
Hoe kan ek seker wees dat ek in die wegraping geneem gaan word? As jy tot bekering gekom het en jy het die Heilige Gees in jou, dan is daar geen manier wat jy gaan agterbly nie. Daar is geen rede om in vrees te lewe hieroor nie. As jy glo, dan sal jy gered word en is jy vry van die toekomstige toorn wat oor hierdie aarde gaan kom. Ons lees dit in Romeine 5:9 “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”, Romeine 8:1 “DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie…”, in 1 Tessalonisense 5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus…” en laastens in 1 Tessalonisense 1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.” Daar kan geen twyfel daaroor meer wees nie!
Paulus skryf aan Timoteus in 1 Timoteus 6:3-5 dat as iemand iets anders leer wat nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dan moet ons onsself van hierdie mense onttrek! Baie wyse woorde! En dis ook hoe jy enige prediker toets. Stem dit wat gesê word saam met dit wat in die Bybel staan? Indien nie, bevraagteken dit dan!
Moenie ander mense vertrou om vir jou te vertel wat in die Bybel staan of nie staan nie. Lees jou Bybel en raadpleeg die Heilige Gees. Sluit by ‘n groep waar jy kan leer as jy wil, maar onthou; as iemand iets verkondig wat teenstrydig is met die Woord van die HERE; wees dan op jou hoede! “Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.” (2 Korintiërs 11:14-15)
Ek dink die HERE laat hierdie dinge in ons lewens toe sodat ons moet leer om op Hom en net op Hom te vertrou en om jou Bybel eerder self te lees as om te vertrou op mense wat vir ons vertel wat in die Bybel staan of wat God se wil vir ons lewens is. Die HERE het baie kuddes wat Hy regoor die wêreld versorg, maar die boodskap is by almal dieselfde naamlik liefde vir die HERE en liefde vir jou naaste. Die HERE het nie spesiale Kinders nie. Ons is almal spesiaal, want die feit dat jy die HERE gekies het bo satan en sy aanloklike beloftes is klaar ‘n wonderwerk op sy eie. Moet dus nie dat iemand vir jou vertel dat as jy aan hierdie of daardie groep behoort jy op een of ander manier meer spesiaal is nie, want jy is nie!
Liewe lesers, wees versigtig na wie jy luister, veral nou wat ons so naby aan die einde is. Satan werp nou alles in die stryd om soveel as moontlik van ons hier te kan hou, want as ons eers by Jesus is, dan kan hy ons nie meer aanval nie.
Ek gaan hierdie boodskap afsluit met die volgende wyse woorde soos opgeteken in Jakobus 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
Prys die Naam van die HERE!