Na aanleiding van my vorige boodskap oor die Waarskuwing aan alle Christene, voel ek dat ek net die speelveld gelyk moet maak vir almal wat nuut bygekom het.
Ek is nie ‘n profeet nie en ek weet ook nie presies wanneer die HERE gaan kom nie. Jesus sê in Mattheus 24:36 “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” Niemand weet dus wanneer die tyd van die wegraping gaan kom nie; nie eers Jesus self weet nie! Enige mens wat sê dat hy weet is dus ‘n leuenaar!
Baie mense het al in die verlede probeer het om met slim berekeninge te probeer bepaal wanneer die wegraping gaan plaasvind soos die een. Die staat van Israel het op die 14de Mei 1948 ‘n onafhanklike land geword. Daar is diegene wat die 70 week profesie van Daniel 9:24-27 gebruik om te bepaal wanneer die wegraping gaan plaasvind, want 1948 plus 70 is gelyk aan 2018. Die sewentig jaar is reeds is 2018 verby, so hoe nou?
Julle sien; hierdie dinge gebeur omdat ons God die Vader ‘n boksie probeer sit en vir Hom wil sê wanneer ons gereed is! Dis nie hoe dit werk nie, liewe lesers! Julle moet verstaan dat dit alles gaan oor die red van siele. Daar is diegene wat gered moet word voor God die Vader vir Jesus gaan stuur om Sy Bruid te kom haal.
Dis ook om hierdie rede dat die wegraping in die verlede al op verskeie tye uitgestel was. Jesus weet hoe ons voel. Hy weet maar net te goed hoe moeg ons is vir wat in die wêreld aangaan. Dis geen plesier meer nie. Ek hoef seker nie meer as dit uit te brei nie. Ons almal wil hê dat Jesus hierdie aarde moet kom regeer en orde uit die wanorde uit moet skep, maar onthou dat God se tyd nie ons tyd is nie. God sien dinge wat ons nie sien nie en ook nie van bewus is nie.
God die Vader bly ‘n God van wonderwerke en Hy bewys dit as Hy die onmoontlike doen. In Indië het op ‘n geleentheid duisende Boeddhiste tot bekering gekom. Hulle het gelag en gehuil toe die HERE Sy Gees op hulle uitgestort het. Dieselfde het ook in Thailand en China gebeur en ook in lande waar die Moslem geloof toegepas word. Duisende geharde Moslems wat vir hulle hele lewe lank vir Allah aanbid het begin wonder of Jesus nie die Weg, die Waarheid en die Ewige Lewe is nie! Soos julle kan sien weet God die Vader altyd die beste.
Ons weet dat die tyd naby is, want Jesus sê self in Matteus 24:32-33 “[32] En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. [33] So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Ons kan dus met sekerheid sê dat die tyd naby is; baie, baie naby!
Sorg intussen dat jy gereed is, liewe leser, want ek weet nie wanneer die tyd daar gaan wees nie. Daar gaan nie vir jou tyd wees om gereed te maak nie. Jesus gaan kom vir die wat gereed is en as jy nie is nie, sal jy agterbly. Sorg dus dat jy gereed is en dat jou lampie vol olie van die Heilige Gees is!
“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” (Lukas 21:36)
“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” (Lukas 21:28)
Prys die Naam van die HERE!