Kruis en Doring Kroon

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het hierdie week weereens ondervind hoe swaar die kruise is wat ons dra en hoe seer daardie doring kroon steek wat ons vir Jesus dra.

Ek wil julle bemoedig dat Jesus bewus is van elkeen van ons se omstandighede. Hou vas liewe leser, want deur jou swaarkry bewys jy dat jy waardig is aan Hom! Timoteus sê nie verniet in 2 Timoteus 3:1 dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom nie. Ons is nou daar, liewe Kind van Jesus, maar jy moet weet dat jy nie vir een oomblik alleen is nie! Jesus is met jou, elke tree wat jy stap! Prys Sy Naam!

Vir baie van ons het hierdie wêreld net ‘n blyplek geword en put ons geen genot daaruit om hier te wees nie. Kyk maar net hoe die mense vir hulleself lewe en hoe blatant onbeskof baie geword het. Ek sien dit gereeld as ek na ‘n winkel toe gaan en in die kassiere se ry staan. Mense behandel daardie arme kassiere soos derde graad mense. Hulle kyk behoorlik op hulle neer en dit ten spyte van die feit dat hulle vriendelik met almal probeer wees. Ek is altyd vriendelik met hulle en mens kan behoorlik die effek sien wat “laat jou lig skyn” op mense het.

Het mense al ooit vir jou gesê hulle hou daarvan om by jou te kruier? Dis wat die lig en die vrede van Jesus aan mense doen. Hulle voel aan dat daar is iets anders in jou lewe is, maar hulle weet nie wat dit is nie. Baie wens hulle kan dit wat jy het ook kry, maar hulle weet nie hoe nie. Laat jou lig dus skyn, selfs al druk daardie doring kroon so seer en al skaaf daardie kruis jou skouer so baie. Met jou vriendelikheid trek jy siele vir Jesus aan. Jy sien miskien nie die end resultaat nie, maar baie van hulle gaan soek agterna om uit te vind wat jy het en hulle nie het nie! Prys die Naam van Jesus!

Dis juis vir ons met ons doring krone en ons swaar kruise wat Jesus gaan kom soek om ons saam met Hom te neem op daardie wonderlike dag wanneer Hy Sy Bruid gaan kom haal! Hoe meer daardie kroon druk en hoe meer daardie kruis skaaf, hoe meer word jy in lyding soos Jesus.

Ons moet besef dat Jesus dit ook nie maklik op aarde gehad het nie. Mense het met Hom gespot en Hom in allerhande strik vrae probeer lei. Mense het Hom gehaat en weggejaag. Hulle het geen respek vir Hom gehad nie en Hy is die Koning van die Heelal!

Ons moet ook onthou dat satan en sy magte nou sterker is as ooit voorheen, maar hulle kan niks aan jou doen as jy dit nie toelaat nie. Hulle kan vir jou strikke stel om te kyk of jy daaroor gaan val, maar meer kan hulle nie doen nie. As dit gebeur dat jy val, want dit gebeur met ons almal; ook met my, hardloop dan dadelik na Jesus toe. Hy staan gereed om jou te vergewe en weer te versterk. Moenie luister na satan wat jou gaan probeer oortuig dat jy hierdie keer net te ver heen is om vergewe te word nie. Dis alles leuens!

Onthou, ons is meer as oorwinnaars deur Jesus wat ons eerste lief gehad het! (Romeine 8:37) Moenie na satan se beskuldigings luister nie, want God maak regverdig en daarom het satan geen mag nie, (Romeine 8:33) want die Gees kom ons in ons swakheid te hulp. (Romeine 8:26) Met laasgenoemde in gedagte, wie kan dan teen ons wees as Jesus vir ons is? (Romeine 8:31)

Ek gaan afsluit met die belangrikste vir laaste: Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie… (Romeine 8:1) Jesus veroordeel jou nie as jy val nie, liewe Kind van God. Moenie dat satan vir jou stories vertel nie. Ons is Jesus se Kinders en daarmee saam is ons mede-erfgename van Christus! (Romeine 8:17) Stry dus die goeie stryd; voltooi die wedloop en behou die geloof. (2 Timoteus 4:7) AMEN, AMEN, AMEN!

Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!

(Visited 548 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .