Vandag wil ek vir julle hierdie bekende boodskap bring soos Jesus dit vir ons gee in Lukas 12:35-40 en julle moet mooi moet oplet daarna.
“[35] Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. [36] En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. [37] Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. [38] En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig is daardie diensknegte. [39] Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. [40] Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”
Jesus het ons oneindig baie lief; almal van ons, of jy nou ‘n Kind van God is of nie. Sy liefde vir ons is nie beperk op enige manier nie, maar dis ook belangrik om te verstaan dat God die Vader se geduld met hierdie wêreld besig is om op te raak. Ons sit met ‘n wêreld wat absoluut weier om God te erken. ‘n Wêreld wat sê dat hulle God nie nodig het nie en baie goed sonder Hom oor die weg kan kom. Ten spyte van al God se liefde vir die mens, vertrap ons as mense daardie liefde onder ons voete. Tot nou toe het God gesê dat ons net kinders is en dat ons nie weet wat ons doen nie, maar ons moet ook onthou dat aksies gevolge het. Iewers moet ‘n kind geleer word wat reg en wat verkeerd is en as daardie kind nie op die maklike manier wil leer nie, dan moet dit op die swaar manier gedoen word. Hierdie wêreld is nou op daardie punt…
Maar die wêreld is blind of hulle wil dit nie sien nie en dis waarom die woord “aard verwarming” gebruik word om dit wat in die wêreld gebeur weg te probeer verduidelik. Dis makliker om God te probeer weg verduidelik met wetenskaplike terme as om te aanvaar dat daar ‘n liefdevolle God is wat siele wil red van ‘n ewige dood in die hel…
Vir ons sê Jesus dat ons gereed moet wees met ons heupe omgord en ons lampe vol olie, want ons weet nie wanneer Hy gaan kom om ons te kom haal nie. Jesus gebruik die vergelyking van ‘n dief wat inbreek deur te sê dat as die huis eienaar geweet het in watter uur die dief sou kom, hy gereed sou wees! So moet ons ook gereed wees, self al is die wag lank; tot in die tweede en die derde nagwaak in. Dan sê Jesus ook dat ons wat so wag, gelukkig sal wees, want Hy self sal ons aan tafel bedien vir ons getrouheid! Prys die Naam van die HERE!
Let mooi op dat daar net een wegraping gaan wees en dit gaan wees vir die wat gereed is; die wat die Wil van die Vader doen. Wat is die Wil van die Vader? Dat jy God moet lief het met jou hele hart en jou hele verstand en daarmee gelyk, jou naaste soos jouself. As jy jou naaste lief het soos jouself, dan sal jy nie enige iets van jou naaste begeer nie. Jy sal ook nie wil steel of leuens vertel nie of valse getuienis teen jou naaste wil inbring nie. Bid elke dag vir die vergifnis van jou sonde. Maak God die middelpunt van jou bestaan en probeer jou uiterste bes om volgens die Woord van God te lewe. Dis hoe jy sorg dat jy gereed is.
Vir die wat die wegraping mis, gaan sewe jaar van hel op aarde wag vir wanneer Jesus met Sy Bruid gaan terugkom aarde toe en elke oog Hom gaan kan sien. Daardie sewe jaar gaan geen grap wees nie, want God die Vader gaan sy wraak oor hierdie aarde uitoefen vir al diensknegte wat deur die jare gedood is omdat hulle Sy wil wou doen. ‘n Maklike tyd gaan dit nie wees nie. Om die waarheid te sê, sê die Bybel vir ons dat as daardie tyd nie verkort was nie, geen siel gered sou kon word nie, maar omdat God die Vader ons so lief het, het Hy besluit dat sewe jaar genoeg gaan wees.
Daarom, liewe Kind van die HERE, as jy nog nie op die regte plek is nie, maak dan reg en moenie meer uitstel nie. Ons tyd is so min en nee, ek self weet nie hoe min nie, maar ek weet dat ons amper by die einde is. Jesus het gesê dat ons sal weet as die tyd daar is en ons is amper daar! Moet dus nie meer uitstel nie.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
