Jou geloof het jou gered

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek lees vanoggend die gedeelte oor Saggéüs en skielik besef ek net hoeveel geloof die mense in die tyd van Jesus gehad het…

In Lukas 5:17-20 lees ons die stukkie van die verlamde man wat Jesus gesond gemaak het nadat sy vriende hom met sy bed en al deur die dak van ‘n gebou laat sak het tot voor Jesus net sodat Jesus hom kan aanraak. Daardie gedeelte getuig van ‘n onwrikbare geloof!

In Lukas 8:43-44 lees ons van die vrou wat twaalf jaar aan bevloeiing gelei het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters gespandeer en niemand kon haar help nie, maar sy het geweet dat Jesus die oplossing was! Sy het ook nie probeer om Jesus te dien nie, maar sy het geweet dat as sy net Jesus se kleed kon aanraak, Hy haar sal genees en dit het ook so gebeur. Is dit nie geloof nie?

In Lukas 7:2-10 lees ons die storie van die Hoofman oor Honderd se siek dienskneg. Jesus wou die man se siek dienskneg gesond maak, maar hy het gesê dat dit nie nodig is nie en dat Jesus maar net ‘n woord kan spreek. Hierdie hoofman het gereken dat hy ‘n man van gesag is net soos Jesus en dat Jesus daarom net ‘n woord kan spreek en dan sal dit so wees! Wat ‘n onwrikbare geloof!

Nou kom ons terug na Saggéüs. Hy het geweet watter roete Jesus veronderstel was om te loop en dis waarom hy vooruitgehardloop het en in die wilde vyeboom gaan klim het. Hy het geloof gehad dat die roete nie sou verander nie en dat hy so vir Jesus sou sien. Sy geloof is beloon! Hy het nie net vir Jesus gesien nie, Jesus was ook in sy huis!

Ek het nou vir julle vier voorbeelde gegee van mense wat onwrikbare geloof gehad het. Ek is seker daarvan dat geloof in daardie tyd geensins makliker was as vandag nie! As probleme ons oorval, dan word ons in baie gevalle so deur emosies oorheers, dat ons glad nie die uitweg sien nie. Ons wil dadelik antwoorde hê of die probleem dadelik opgelos hê, maar dit werk nie so nie. God gebruik baie keer omstandighede in ons lewens om ons geloof te toets. Wees bly as dit met jou gebeur, want die Here sien jou raak en Hy weet van jou probleem.

Jesus sê in Markus 9:23 “Wat dit betref—as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Moet dus nie moed verloor nie, liewe leser! Jy gaan miskien nou deur ‘n rowwe tyd, maar dis net tydelik en dinge sal weer beter gaan! Glo, want jou geloof gaan jou red!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 421 times, 1 visits today)
Tagged , , , .