Lewe nie meer vir jouself nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons is Kinders van God en binnekort gaan Jesus uit die Hemel neerdaal om ons saam met Hom na ons ewige tuiste te vat en daarom behoort ons nie meer vir ons self te lewe nie.

Jesus het vir my die volgende vers in 2 Korintiërs 5:14 en 15 vir my gegee om vir julle te bring: “Want die liefde van Christus dring ons,  omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”

Ek moes hierdie twee verse ‘n paar keer lees om die impak daarvan te verstaan. Dit wat Paulus sê is waar! Jesus Christus wat sonder gebrek en totaal onskuldig was het vir ons almal gesterf en Hy het dit gedoen sodat die prys van ons sonde geheel en al betaal kon word en sodat ons eendag sonder vlek of rimpel voor die Vader sal kan staan as waardige erfgename van die Koningryk.

Besef julle nou wat se prys Jesus vir ons betaal het? Dis ‘n prys wat ons nooit ooit sal kan terugbetaal nie… Nie dat ons ooit nodig het nie, want wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen uit liefde vir ons en om geen ander rede nie. As jy nou werklik vir Jesus wil bly maak, dan is dat as jy gaan begin om nie meer vir jouself te lewe nie, maar vir Hom wat gesterf en opgewek is.

Dit gaan beteken dat jy ‘n verandering gaan moet ondergaan en van al daardie lelike dinge wat nog ‘n houvas op jou lewe het ontslae gaan moet word. Ek praat nou van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg het in fisiese eiendom nie. Hoe meer hulle het, hoe meer tyd spandeer hulle om nog meer bymekaar te wil maak. Dan is daar mense wat die hele tyd ‘n slegte humeur het en oor alles wil baklei of mense wat vir jare ‘n wrok loop en ronddra. Hierdie is al die lelike dinge waarvan ek praat en hierdie is die lelike dinge wat moet gaan!

Die ou dinge het nou verby gegaan en dit behoort geen plek meer in ons lewens te hê nie. Trek vir jou nuwe skoon klere aan. Die ou klere wat jy uittrek, is die ou dinge, daardie ou en lelike gewoontes wat nou nie meer deel van jou lewe is nie. Niks van dit wat oud is behoort meer in ons lewens nie, want ons het gesterf vir die ou dinge en ons het saam met Jesus opgestaan uit die dood uit en daarom lewe ons nie meer vir onsself nie, maar vir Hom! Prys Sy Naam!

Jesus het ons gekies en daarom is dit nou tyd dat die wêreld dit moet sien. Wees daarom op jou plek en moenie meer van jouself dink as ander nie. Jesus het ons lief en daarom moet ons die wat om ons is ook lief hê, verstaan dat hulle mense met swakhede is en verstaan dat hulle ook met hulle swakhede sukkel soos ons voorheen moet ons eie swakhede gesukkel het toe ons verlore was. Moenie oordeel nie, want ons was ook voorheen swak net soos hulle en ons het ook in blindheid gewandel, maar nou wandel ons in die lig.

Kry daarom jou gedrag reg, want jy dra nou Jesus se nuwe klere van liefde en jy leef nie meer vir jouself nie, maar vir Hom wat vir jou gesterf het. Dra hierdie boodskap uit!

(Visited 203 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .