Luister na die Gees van die Waarheid

Satan haat die waarheid, veral as ons aan mense daardie donker hoekies in hulle lewens waar satan wegkruip uit te wys…

Julle sien; sodra jy begin om vir mense van die lig te vertel en jy wys daardie donker hoekies uit waarin satan so lekker wegkruip, dan begin hy om sy magte teen jou in te span, want satan haat dit as jy vir mense die waarheid wys! Dan begin die aanvalle, want jy verf as te ware ‘n groot teiken op jou rug. Hoe baie keer was ek nie al hier nie. Die eerste keer was vir my ‘n groot skok, maar jy eer met tyd om na Jesus toe te gaan met alles, selfs a kry jy ‘n bloedneus die eerste paar kere!

Jule sien, ek glo in die Bybel met hart siel en liggaam, maar ek glo ook in die Heilige Gees en ek glo dat die Heilige Gees dinge aan ons kan openbaar. Jesus het dit self aan sy dissipels erken in Johannes 16:12-13 [12] Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. [13] Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” Deur die Heilige Gees verstaan ons die Bybel beter en openbaar die HERE aan ons dinge, want die Gees getuig van dit wat hy by die Seun en die Vader gehoor het!

Dis hoe meer as 75% van alle Christene weet dat daar ‘n wegraping gaan wees. Nie omdat dit woord vir woord so in die Bybel staan nie, maar omdat die Gees ons so oortuig. Die woord “wegraping” mag dalk nie in die Bybel staan nie, maar net so staan die woord “Drie Eenheid” ook nie in die Bybel nie. Tog glo ons in die Drie-Eenheid en word beide begrippe in die Bybel aan ons verduidelik.

Ongelukkig is daar Christene wat dit nie so insien nie. Vir hulle moet iets fisies in die Bybel staan voor hulle dit glo. Dis menslike natuur om nie alles te glo wat jy lees nie, maar jy moet ook versigtig wees dat jou menslike natuur nie maak dat jy ‘n blindekol ontwikkel wat blind is vir die werking van die Gees in jou lewe nie. Julle moet verstaan dat ek nie vir hulle kwaad is omdat hulle van my verskil nie, maar nogtans kry ek hulle uit my hart uit jammer. Hulle mis daardie soet oomblikke in die Gees wanneer jy en Jesus gesels en Hy jou in Sy arms vat en troos! Prys die Naam van Jesus!

Terselfdertyd word ek ook beskuldig van duiwelbesetenheid tot vals leer verkondig tot mense vir die hel voorberei! Hierdie is presies dieselfde dinge wat die Fariseërs vir Jesus van beskuldig het… Mense besef nie die implikasies van wat hulle s nie… Elke dag is almal van ons besig om visse te vang vir Jesus, maar dan kom die vyand en hy oorreed jou om die nette te skeur sodat van die vangs kan ontsnap. Elke slag wat jy ‘n mede-broer of suster in die geloof aanval, gesel jy vir Jesus. Ja, jy slaan ons Heiland met ‘n sweep! Ek het my las voor die voete van Jesus gaan afpak en Hom gevra waarom Hy dit toelaat. Sy antwoord was sag soos altyd: “As jy hulle nie kan oortuig nie, los dit dan in My hande.” Ek sal die liefde van Jesus seker nooit verstaan nie, want ten spyte van alles, is Hy nog steeds lief vir ons almal; ook vir die wat nie glo nie.

Die volgende oggend met my Skriflesing het die HERE die res van die antwoord vir my gehad: “Mense tree so op omdat hulle die Vader nie ken nie en ook nie vir My nie!” Sjoe! Mond-sleep-op-die-grond-oomblik! Ek het niks verder gesê nie en ook niks meer gevra nie!

Ek skryf nie hierdie om iemand af te kraak nie. Soos ek gesê het, kry ek julle uit my hart uit jammer, want hulle ken nie die Gees van die Waarheid nie en daarom weet hulle ook nie van beter nie. Ek mag miskien die woorde van elke boodskap neerskryf, maar elke boodskap kom van die HERE af en elke boodskap getuig van ‘n liefde wat vir ons as mens te groot is om te verstaan. Dis ‘n suiwer liefde sonder bybedoelings of agendas. Al wat jy moet doen is om jou hart vir die Heilige Gees oop te maak sodat Hy dit Sy woning kan maak. Dan sal jy ook daardie soet oomblikke beleef wat Jesus jou deur Sy Gees oortuig van die waarheid.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 673 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .