Ons hou tog so daarvan om te dink dat as iemand die Woord van God bedien, dat daardie persoon op een of ander manier beter as ons is…
Ek kan julle uit persoonlike ondervinding vertel hoe baie ek al gewens het dat ek soos iemand anders kon wees, maar dan kom die Woord van die HERE tot my en Hy sê: “Wees gelukkig soos Ek jou gemaak het, want Ek het ‘n doel daarmee.” En dit is die groot probleem waarmee ons almal sit. Ons soek die hele tyd meer en in ons soeke na meer, kom satan en lei ons op ‘n dwaalspoor omdat ons in ons soeke buite die Wil van die HERE beweeg.
So ‘n tyd gelede het ek ‘n boodskap geskryf oor ‘n skaapkraal en hoe veilig die skape wat in die skaap kraal is. Satan weet hy kan jou nie aanval solank jy in die kraal is nie, daarom kom hy en lok jou daaruit met allerhande vals beloftes. Die oomblik wat jy buite die beskerming van die HERE is, dan gebeur al die slegte dinge moet jou.
Kyk wat sê die HERE vir ons in 1 Johannes 2:15-16 staan: “[15] Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. [16] Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”
Ek sien dit so baie. Mense wat buite die Wil van die HERE trou en op die ou einde van die dag verander hulle huwelike in ‘n nagmerrie tronk. Die HERE laat toe dat satan jou so versoek omdat Hy wil hê dat verandering moet plaasvind. Die HERE weet dat as slegte dinge oor ons pad kom, dan sal ons na Hom toe terugkom om weer te probeer.
Julle moet weet dat niks van satan se beloftes ooit waar sal word nie. Hy sal vir jou alles belowe wat jy hier op aarde graag wil hoor, maar dis al wat dit is, leuens want hy is die vader van die leun.
Die vergifnis en die genade van onse HERE is baie groter as enige iets en jy sal nooit Sy vergifnis of Sy genade kan opgebruik nie. Hoeveel spykers was daar in die HERE se liggaam ingeslaan? Drie en daardie drie spykers was daar ingeslaan vir jou sodat jy ‘n ewigheid saam met die HERE kan deurbring. Dis hoe lief Hy jou het! Dit maak dus nie saak wat jy doen of gedoen het nie. Selfs al is jy die grootste satan aanbidder op aarde, vergifnis is vir jou beskikbaar.
Om die stem van die HERE te hoor is nie so moeilik nie, want Hy praat met ons deur Sy Woord, maar jy moet toe laat dat die Heilige Gees kan werk in jou lewe. Net deur die Heilige Gees sal ons die stem van die HERE kan hoor en Sy Wil vir ons lewe kan verstaan. As jy nie seker is oor enige iets in jou lewe nie, vra dan die HERE om dit aan jou duidelik te maak. Baie doen dit die verkeerde kant om, want hulle doen eers en dan vra hulle die HERE om hulle daaruit te help.
As dit kom by huwelik maats, dan sal die HERE vir jou die perfekte maat gee, maar dan moet jy bereid wees om geduldig te wees. Die perfekte maat sal jou as persoon eer en jou gevoelens in ag neem in elke besluit en nie net aan homself dink nie. Maar dinge loop skeef omdat ons in die wêreld is en nie na God se stem wil luister nie.
Jesus sê vir ons in Markus 8:34-38 “[34] En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. [35] Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. [36] Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? [37] Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? [38] Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.”
Met hierdie verse bedoel die HERE dat as jy Hom wil volg, jy eers daardie eie ek moet verloën en moet doodmaak, want daar is geen manier wat jy jouself kan red nie. As jy probeer om jouself te red deur ‘n voorbeeldige goeie lewe te lei, gaan jy die ewige lewe verloor. Wat help dit jou jy het die hele wêreld aan jou voete met faam en mense wat jou eer en dan verloor jy jou siel? Wat sal jy dan gee as losprys vir jou siel om in die Hemel te mag wees as jy jouself in die hel bevind? As jy jouself vir die HERE en Sy Woorde skaam deur weg te skram van die Woord van die HERE en daarmee niks te doen wil hê nie, sal die HERE Hom vir jou ook skaam wanneer Hy gaan kom om Sy Kinders te kom haal.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!