Mene mene tekel upharsin!

Liewe lesers, my hart breek as ek dink aan al die verlore gaande siele in hierdie wêreld; mense wat weier om te sien wat rondom hulle aangaan, wat weier om te glo dat Jesus die wat gereed is gaan kom haal, die wat dink alles is een groot grap!

In Mattheus 25:1-13 lees ons van die tien maagde wat vir die Bruidegom gewag het en hoe vyf van hulle onderstandig was deur nie genoeg olie saam te bring vir die lang nagwaak nie. Die olie waarna verwys word is die olie van die Heilige Gees. Na die Bruidegom gekom het en almal wat gereed was saam gegaan het, is die deur gesluit. Baie het agterna gekom en by die Here gesmeek om vir hulle oop te maak. Sy antwoord was dat hulle weg moet gaan, want Hy ken hulle nie!

In ‘n getuienis wat ek onlangs ontvang het, het die Here die wegraping aan ‘n sekere leraar in ‘n droom gewys. Hy het gesien hoe die wat gereed was verdwyn. Hy het ook gesien hoe die wat gedink het hulle is gereed agterbly, hoe hulle in die kerke inhardloop en by God gaan smeek het om hulle saam te vat, maar dit was te laat! Toe ek dit lees, het die verse van Mattheus 25:11-12 by my opgekom…  [11]  Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! [12]  Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.”

Liewe broer en suster, is jy gereed? Of gaan God vir jou sê “Mene mene tekel upharsin!” (Jy is geweeg en te lig bevind.) Die tyd is nie te laat nie! Jy kan nog ‘n verandering maak en jy kan dit nou doen! Dit wat aan die kom is in hierdie wêreld gaan geen grap wees nie. Moenie dat jy die bespotting van satan word omdat jy nie wil luister nie! Satan glo God se Woord, want hy weet dat dit gaan waar word, waarom glo jy nie?

Jesus sê vir ons in Lukas 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”

Wat beteken hierdie woorde presies? Die woordjie “waak” beteken om op jou hoede te wees. Satan gaan in hierdie tyd met allerhande lieg stories by die Kinders van God aankom en vir hulle dinge sê soos “God sal mos verstaan, want Hy was self ‘n mens.” Mense, pasop om vir daardie een te val. Ek het amper, totdat die Gees my oortuig het dat ek verkeerd is! Die Bybel leer dat ons niks moet doen om die Gees van God wat in ons woon te ontstel nie, hoe kan dit wat ons dan verkeerd doen aanvaarbaar vir God wees!

Wat beteken dit om “waardig” te wees? Ek gaan hierdie een antwoord met ‘n reeks teen vrae: Hoe kan ons as bekeerlinge waardig wees as ons nie gereeld bid en die Bybel lees nie? Hoe kan u waardig wees as ons die Here nie op intieme vlak ken nie? Weet julle hoe baie Christene spandeer hulle tyd in kroeë, dansbane en ander wêreld plekke? Hulle is gered en hulle ken die pad, maar hulle geniet die wêreldse vermaak baie meer as om saam met die Here te wees! Dink u die wat dit doen is “waardig”? Baie beslis nie!

Ondersoek u lewe vandag en inspekteer dit wat u doen, want dis die dinge wat u aan die Koning van die Heelal gaan openbaar as Hy kom. Dis wat u op u hande gaan uithou en sê: “Here, dit is wat ek is.” Dink u dat dit vir die Here aanvaarbaar gaan wees? Dink u dat Hy vir u gaan sê: “Kom in, getroue dienskneg. Oor min was jy getrou, maar oor veel sal Ek jou aanstel.” As u onseker is van u antwoord, dan moet u dadelik regmaak wat stukkend is. Net u sal weet wat in u lewe stukkend is en wat aandag kort. Asseblief, moenie uitstel nie en moenie redeneer dat God sal verstaan nie!

Jesus gaan gou-gou kom! Binnekort, in een honderdste van ‘n sekonde, gaan baie uitvind of hulle waardig is of nie. Vir baie gaan daar gesê word: “Mene mene tekel upharsin!” (Jy is geweeg en te lig bevind.) Gaan u een van hulle wees?

Dankie Jesus dat U ons vooraf waarsku!

(Visited 386 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .