Jesus het vir my hierdie boodskap gegee en ek is seker daarvan dat dit vir iemand op hierdie groep bedoel is.
In Handelinge 28 lees ons die verhaal van hoe Paulus, nadat die skip wat hy op was in die storm omgekom het, op die eiland Melite gestrand was saam met die ander gevangenis en die soldate van die Italiaanse Leer Afdeling.
Die inboorlinge van die eiland het die skipbreukelinge baie mensliewend behandel en hulle het ‘n vuur gemaak weens die koue en die dreigende storm. Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaar gemaak en wou dit in die vuur gooi, maar ‘n slang het weens die hitte uit die hout uitgekruip en Paulus aan die hand gebyt. Paulus het die slang in die vuur afgeskud. Die inboorlinge het geweet dat die slang giftig was en het wag dat Paulus dood moet neerval, maar niks het gebeur nie. Paulus het nie doodgegaan nie…
Jesus weet maar net te goed hoe beproewend hierdie tyd waarin ons nou is vir ons is. Satan weet dat sy tyd naby is en hy het toestemming om te versoek, te slag en te vermink. Satan se mag oor hierdie aarde het vermeerder tot ‘n punt waar dit nog nooit voorheen was nie en ons wat aan Jesus behoort kan dit aanvoel.
Moet egter nie moedeloos word nie, want dis presies wat satan wil hê. Hy soek jou moedeloos en hy soek jou op daardie punt waar jy begin wonder of alles die moeite werd is, want dan is jy ‘n maklike teiken vir hom en sy demone. Toe die slang vir Paulus gebyt het, kon hy eenkant in ‘n hopie gaan sit het, moed opgegee het en gewag het om dood te gaan, maar hy het nie! Hy het op God vertrou om hom te red en aangegaan met waarmee hy besig was.
Dis wat Jesus wil hê jy moet doen as hierdie boodskap vir jou bedoel is. Jy sal weet as dit is, want die Gees van God sal nou met jou praat en jou oortuig daarvan.
Hou op om bekommerd te wees oor dit wat jy nie kan verander nie. Die Wil van die Vader sal geskied; die wegraping moet plaasvind en die verdrukking sal begin. Jesus laat doelbewus vir satan toe om te doen wat nodig is, want dis die enigste manier hoe sommige gered kan word van dit wat binnekort gaan kom. Vir ander weer gaan dit hulle verder van die HERE af wegdryf. Noem dit ‘n siftings proses as jy wil; ‘n manier om te bepaal of jy waardig is om dit wat gaan kom te kan mis.
Niemand het ooit gesê om ‘n Kind van God te wees maklik gaan wees nie. Nie eers Jesus het dit gesê nie, maar Hy het gesê dat die beloning vir die wat uithou tot die einde hulle stoutste verwagtinge gaan oortref! Hy het ook gesê dat die wat uithou tot die einde toe gered sal word! Gryp daarom vir Jesus vas met al twee hande en hou so styf vas as wat jy kan!
Moenie jou dag begin sonder Jesus nie. Bid en lees jou Bybel elke dag! Dis waar jou krag om staande te kan bly vandaan gaan kom! Prys Sy Naam!
Gesels met Jesus; moenie enige iets aanpak sonder Jesus aan jou kant nie. Ek praat baie met Jesus. Hy antwoord nie altyd terug nie, maar ek weet dat Hy luister! ‘n Beter luisteraar gaan jy nêrens kry nie! Hou vas, hou uit en hou aan! En hou op om te wonder wanneer Jesus gaan kom, want Hy gaan kom wanneer die tyd reg is en daar gaan geen beter tyd daarvoor wees nie!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!
Amen! Baie dankies vir die bemoediging en aanmoediging om te volhard – God is inderdaad – waarlik Getrou! Seën aan u en elke gelowige in onse Here Jesus Christus.