My krag word in swakheid volbring

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus se liefde gaan my as mens baie keer te bowe. Dis iets wat ek as mens net nie my verstand om kan sit om te verstaan nie.

Iemand het eenslag vir my hierdie gedeelte gestuur en dis vir my so treffend, want dis waar en op ons almal van toepassing.

Ons is Christene. Ons struikel en ons val en ons bly alewig op die verkeerde pad. Maar God werk in ons. My lewe mag miskien in my oë een groot gemors wees, maar God is besig om hierdie gemors uit te sorteer! Die dag gaan kom wat ek aan die Here se sy sal staan; Sy werk in my volbring! Tot daardie dag kom, sal ek Sy hand in myne vat en Hom toe laat om te doen wat gedoen moet word, maak nie saak hoe pynlik dit vir my mag wees nie, want ek weet dat as Hy klaar is, dit alles die moeite werd sal wees!

Hoe baie van julle is nie stukkend nie? Hoeveel van julle sukkel met dieselfde sonde oor en oor? Jesus het gesê dat ons moet heilig wees, want Hy is heilig, maar ons sukkel om net op ons eie voete te bly, want die kruis wat ons dra is amper te swaar…

Ek is een van hulle, liewe lesers. Ek wens ek kan beter wees, meer heilig, minder van ‘n sondaar, maar dit wil net nie gebeur nie. Ek het al op geleentheid vir Jesus gesê soos wat Petrus in Lukas 5:8 gesê het: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!”

Ek weet daar is baie van julle wat ook so voel: lus om te gaan lê en net op te gee. Ek weet maar net te goed hoe jy voel, liewe leser!

Jesus het vir jou ‘n antwoord, liewe leser en daardie antwoord staan in 2 Korintiërs 12:9 “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Jesus sê: Staan op, neem jou kruis op en volg My. Moenie jou bekommer oor jou oortredinge nie, want My genade is vir jou genoeg.

Staan dus op, liewe Kind van God. Kyk die wêreld vierkantig in die oë en sê: “Hier is ek!” Weet dat Jesus met jou is en as jy nie verder kan loop nie, dan sal Jesus jou dra.

Ons bekommer ons hopeloos te veel oor dit wat ons nie kan verander nie. Bid vir vergifnis vir jou oortredinge, elke dag en los die res in Jesus se hande. Moet net nie nou moed opgee nou dat ons so naby aan die eindstreep is nie. Die nag wanneer niemand meer kan werk nie is amper hier en dan gaan ons almal vir altyd saam met Jesus wees. Al die swaarkry wat ons hier op aarde gehad het, gaan dan vir altyd verby wees!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 258 times, 1 visits today)
Tagged , , .