Tensy daar sommige is wat die afgelope maand onder ‘n klip gebly het, sal julle nou al gesien het wat in die wêreld aangaan.
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.” (Mattheus 24:6-7)
Sedert die begin van hierdie jaar het alles met rasseskrede baie erger geword. Die oorstromings het erger geword, die storms het erger geword, betogings word al hoe groter, alles word net al hoe erger met geen einde in sig nie. Dis asof die wêreld mal geword het…
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” (Luk 21:25-26)
Die verse hierbo is wat Jesus voorspel het gaan gebeur en ons sien hierdie dinge vandag voor ons oë afspeel! As die Bybel praat van “see”, dan verwys dit na ‘n groot menigte mense. Die branders en die see verwys dus na al die betogings wat ons vandag sien.
Jesus het vir ons gesê dat al hierdie goed tekens is en as ons dit sien gebeur, dan moet ons begin opkyk, want ons verlossing is naby! (Lukas 21:28) Kyk dus op, liewe leser, want ons gaan nie meer lank wag nie!
Pas egter op om nie mislei te word nie en moenie jou vertroue op mense, politieke leiers of enige iemand anders sit nie. Niks wat hierdie mense doen, sal enige iets verander nie, want alles wat nou gebeur is die Wil van die Vader en daaroor het geen mens enige mag nie.
“Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.” (Openbaring 3:10)
Vir ons as Kinders van die HERE is dit baie belangrik dat ons God se plan vir ons lewens moet volg en nie ons eie idee daarvan nie. Nee, Jesus wil nie jou pret bederf nie, maar Hy ken die gevolge van sonde en die vernietigende impak daarvan op mense se lewens en Hy wil jou weerhou daarvan. Dis waarom ons alle vorme van sonde in ons lewens moet uitwis.
“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking;” (1 Tessalonisense 4:3)
Onthou, toe elkeen van ons tot bekering gekom het, hoe ons daardie ou sondige mense begrawe het en as ‘n nuwe wese opgestaan het? Waarom sal jy nou dat jy so ver gevorder het wil terugkeer na daardie ou mense en hom weer opgrawe?
As Kinders van die Lewende God moet ons gedurig alles wat nie van Jesus is nie, uit ons lewens verwyder en dit aan daardie kruis gaan vasspyker. Onder geen omstandighede mag ons as Kinders van die HERE gelykvormig word met die wêreld nie. Ons het die Lig van God in ons lewens en hoe kan ons in hierdie donker wêreld ons lig laat skyn as daardie lig onder ‘n maatemmer van sonde bedek is?
Liewe Kind van die HERE, raak van sonde in jou lewe ontslae. Moenie dit vertroetel nie! Alle vorme van sonde is soos gif en hoe meer jy dit vertroetel, hoe meer aanvaarbaar lyk dit vir jou totdat jy nie meer die gevaar daarin kan sien nie.
“Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:16)
Jesus gaan binnekort kom en Hy gaan kom vir ‘n Bruid wat rein en sonder vlek is. As daar nog vlekke in jou lewe is, dan moet jy NOU daarvan ontslae raak, want nie een van ons weet hoeveel tyd ons nog het nie. Alles dui op ‘n wegraping wat binnekort gaan plaasvind, daarom moet jy gereed wees.
Daar gaan net een wegraping wees en as jy dit gaan mis, dan gaan jy saam met die ongeveinsde hulle straf deel en dis nie wat Jesus vir jou wil hê nie, want Hy sê dit op verskeie dele in Sy Woord, dat ons nie bestem is om deur die verdrukking te gaan nie. Moet dus nie daardie lot vir jouself kies nie, want dis nie vir jou bedoel nie. Volg daardie heilige leefstyl, raak ontslae van sonde en die God met alles wat jy het. Ons tyd is byna om.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Wonderlike Naam!