Ek kan nie vir julle beskryf hoe baie ek oor die een gewonder het nie, maar Jesus is getrou en Hy antwoord ons vrae as ons Hom die kans gee.
Ek is nie skaam om dit te erken nie; ek vier Kersfees, want dis vir my die belangrikste dag van die jaar; die geboorte van my Verlosser en Heiland! Die een wat Sy lewe gegee het sodat ek vir altyd saam met Hom kan wees! Vir my is daar geen groter vreugde om daardie dag te vier en vir Jesus op die troon te sien sit as daardie dag nie.
Ja, dit is waar dat Kersdag soos ons dit ken voorheen ‘n heidense vakansie dag was tot die eer van een of ander afgod wat ek nie eers belangstel om van te weet nie. Net so is daar ook baie afgode tempels in Europa wat vandag as kerke gebruik word. Beteken dit dat die wat in hierdie tempels tot God roep se geroep nie beantwoord word nie? Natuurlik nie, want God laat Hom nie bind deur mense se voorkeure nie!
Die vraag is nou; wie is reg en wie is verkeerd? Jesus se antwoord is dat nie een reg of verkeerd is nie!
Kom ons kyk wat sê Paulus in sy sendbrief aan die gemeente van die Romeine, want hulle het met ‘n soortgelyke ding gesukkel in daardie tyd.
“[1] En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. [2] Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. [3] Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. [4] Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou. [5] Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” (Romeine 14:1-5)
Daar is van ons wat glo dat ons Kersfees mag vier en daar is van ons wat glo dat dit nie reg is nie. Die wat swak in die geloof is, vier nie Kersfees nie, maar die wat sterk in die geloof is, het geen reg om die wat dit nie vier nie, te verag of te oordeel nie, want God het beide van ons aangeneem. Wie is ons in elke geval om die huiskneg van ‘n ander te oordeel? Elkeen van ons staan en val met betrekking tot Jesus tog hou God almal van ons staande! AMEN!
Dus, liewe leser, as jy nie Kersfees wil vier nie om watter rede ook al nie; laat dit dan vir jou so wees en laat niemand jou daarvoor oordeel nie. Vir die wat Kersfees vier, laat dit dan ook vir jou reg wees en moet ook nie toelaat dat jy deur enige iemand daaroor verag word nie.
Ek kan julle verseker dat Jesus baie ernstig voel oor hierdie saak, want hierdie saak veroorsaak tweespalt in die liggaam van die HERE en dit moet end kry! Hou jou gevoelens vir jouself en hou op om ander daaroor te oordeel! Jy bewys niks en jy gaan ook niks wen nie. Al wat jy doen is om tweedrag in die Kerk van God te saai en dit moet end kry!
Paulus sê verder in Romeine 15:1-2 dat dit ons wat sterk in die geloof is se plig is om die swakhede van die wat swak in die geloof is te dra en onsself nie te behaag oor watter groot Kinders van God ons is nie. ‘n Denkwyse soos dit kom neer op selfverheerliking en God haat dit as ons onsself verheerlik! Daar is net een wat werd is om verheerlik te word en dis nie een van ons nie.
Ons moet ons naaste liefhê en ons moet ons naaste behaag met die oog op wat goed is vir die stigting van die Kerk. Ek gaan afsluit met die volgende gedeelte soos in Romeine 15:5-7 opgeneem.
“[5] En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, [6] sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik. [7] Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God.” (Romeine 15:5-7)
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!