Om ‘n Kind van God te wees is nooit ‘n maklike pad nie, maar Jesus het gesê dat die beloning ons wildste verwagtinge gaan oortref!
In 2 Korintiërs 4:8-9 sê Jesus vir ons die volgende: “[8] In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; [9] vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”
As Bruid van Jesus is dit ons lot, liewe leser. Ons sal verdruk word, verleë wees, vervolg word en neergewerp word vir die Naam van Jesus, want dis die proses wat ons moet deurgaan om die perfekte Bruid vir Jesus te wees. Hierdie dinge kweek as te ware dit waarna Jesus gaan kom soek as Hy gaan kom om ons te kom haal! Maar net voor julle moed verloor, kyk wat staan verder daar geskrywe: ons sal nooit terneergedruk wees nie, ons sal nooit radeloos wees nie, ons sal nooit verlate wees nie en ons sal ook nooit vernietig kan word nie! Ten spyte van alles wat satan aan ons mag doen en alles wat Hy mag wegvat, belowe Jesus dat Hy nie sal toelaat dat satan alles wegvat nie! Is dit nie ‘n wonderlike HERE wat ons dien nie?
Kom ons kyk weer: Ons sal verdruk word, maar ons sal nooit terneergedruk wees nie! Maak nie saak wat satan doen om ons te verdruk nie; Jesus sal nooit toelaat dat ons terneergedruk voel nie! Ons sal verleë wees op die hulp van ander, maar ons sal nooit radeloos wees nie. Het julle al opgelet hoe mense na jou toe kom vir raad, selfs al het jy nie al die antwoorde nie? Dis asof Jesus aan ons die vermoë gegee het om altyd die regte ding te kan sê wanneer dit die nodigste is. Ons sal ook vervolg word, maar ons sal nooit verlate wees nie. Self is ek al verskeie kere in my lewe vervolg oor allerhande dinge, maar nooit in enige van daardie vervolgings was ek ooit verlate nie, want Jesus is altyd met ons, selfs al is ons nie altyd bewus van Hom nie. Ons sal ook neergewerp word, maar ons sal nooit vernietig word nie. Partykeer is die resultaat van die vervolgings dat ons drome in skerwe lê, maar satan sal dit nooit kan regkry om ons te vernietig nie, selfs al begeer hy dit so! Dit het al so baie gebeur dat dit wat ek opbou deur satan neergewerp en vernietig word, maar dan gee Jesus ‘n uitkoms wat beter is as dit wat ek voorheen gehad het! Prys Sy Wonderlike Naam!
Jesus sê: “Maak nie saak wat jou omstandighede is nie; Ek is met jou! Moet dit nooit vergeet nie! Die vyand gaan kom en vir jou allerhande leuens vertel; moet dit nie glo nie. Bid en Ek sal luister! Ek is lief vir julle met ‘n liefde wat julle nooit sal begryp nie! Onthou dit en hou vas aan My!”
Ek gaan afsluit met ‘n teks uit Maleagi 4:1-3: “[1] Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. [2] Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. [3] En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die HERE van die leërskare.”
Almal wat nou so ‘n groot struikelblok in ons lewens is, gaan op die dag van Jesus ‘n stoppel wees en daar gaan van hulle geen wortel of tak oorbly nie! Maar vir ons wat die Naam van Jesus vrees, sal Jesus geregtigheid laat geskiet. Dus, liewe lesers, hou goeie moed! Jou swaarkry is nie verniet nie! Jesus sien hoe jy swaarkry dit en Hy is deeglik bewus daarvan. Alles wat nou met ons gebeur, het ‘n doel en die doel is om ons sterker te maak. Onthou, ons groei gedurig in die wingerdstok van Jesus en Hy snoei ons van tyd tot tyd. Hierdie snoei proses is pynlik, maar dan groei ons beter, vinniger en meer welig vir Jesus! Prys Sy Wonderlike Naam!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!