Wie van julle het geweet dat Jesaja oor die wegraping geskryf het? Ja, ek was net so verbaas daaroor, dus is julle nie alleen nie!
Kom ons wees eerlik. Hoe baie van ons het al ooit gaan sit en die boek van die Profeet Jesaja gelees? Ek het al gedeeltes daarvan gelees, maar dis al en ek is seker dat baie van julle dieselfde gaan antwoord.
Kom ons kyk nou na Jesaja 57:1 “Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid.”
Ons wat die HERE in krag en waarheid dien, is die regverdiges en die vromes na wie Jesaja verwys. Het julle al ooit gesien hoe moeilik is dit deesdae om die regte ding te doen en hoe maklik dit is om die verkeerde te doen? As jy wil doen wat reg is, dan is die hele wêreld skielik teen jou asof jy die een is wat oortree het, maar die een wat verkeerd doen, kom skotvry weg! Klink dit bekend? Dis waarom Jesaja sê dat die regverdige kom om, want dis letterlik wat vandag gebeur en niemand let dit op nie! Hulle besef nie hoe moeilik dit vir ons is wat die geregtigheid lief het om te sien hoe alles wat ons so lief het uitmekaar val en ten gronde gaan nie.
Kom ons kyk nou verder: “…die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let” en hier draai Jesaja glad nie meer doekies om nie. Wat gebeur as jy iets wegruk? Jy gryp dit vas om dit te red uit watter gevaar toestand ook al bestaan en jy ruk dit met geweld weg. Is ek reg? Dis die wegraping in detail beskryf, want soos ek voorheen gesê het, is ons die vromes en dit gaan gedoen word sonder dat enige iemand dit gaan oplet. Hier word Jesus se woorde in Mattheus 24:40-41 herhaal: “[40] Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. [41] Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” en ook Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin.”
Sien julle hoe alles inmekaar pas? Dan sê hulle die Bybel is vervelig, oninteressant en moeilik om te verstaan…” En dis waarom die Bybel so baie hersien word om dit makliker en meer verstaanbaar te maak. Ek lag vir stellings soos dit, want dis loutere snert!
Jesaja gaan voort: “…die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid.” Paulus sê in 2 Tessalonisense 2:7 “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is.” Waarvan praat Paulus? Ons is die wat terughou! Die krag van die Heilige Gees in ons almal keer dat satan kan doen wat hy wil. Ons hou die volle geweld van satan se woede oor hierdie wêreld terug, maar as die regverdige weggeruk gaan word vanweë die boosheid, soos Jesaja sê, dan gaan satan volle mag hê om te maak soos hy wil met hierdie wêreld, want die Gees sal saam met die Bruid gaan. Dis ook waarom dit vir die wat gaan agterbly so moeilik gaan wees om gered te word, want hulle gaan gered moet word sonder die oortuiging van die Gees. Nou is dit maklik, want die Gees van die HERE doen al die harde werk, maar na die wegraping gaan dit verander.
My doel is nie om vrees by julle in te boesem nie, want vrees kom nie van die HERE af nie. Ek wil juis die teenoorgestelde vir julle hê en dit is dat julle bly moet wees oor al die ongeregtigheid, want dit wys dat die gewag amper om is! As iets jou ontstel, los dit in die Hande van die HERE. Moenie jy dit self probeer regmaak nie, want die HERE sal sorg dat reg en geregtigheid geskied. Miskien nie vandag of môre soos ons dit wil hê nie, maar dit sal kom! Vertrou net op Jesus want ons tyd is byna om!
Jy is gereed, moenie dat satan vir jou stories vertel nie. Jy is klaar gereinig deur die Woord toe jy tot bekering gekom het. Die Heilige Gees is reeds in jou, want net die Gees kan jou oortuig van wat reg en wat verkeerd is sodat jy dit kan regmaak en vergifnis vra. Al wat nodig is, is om die verordinge van God te onderhou, want so bewys ons, ons liefde vir Hom en so hou ons daardie lampies van ons vol olie! Prys die Naam van die HERE!
Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!