Ons is amper daar!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek weet maar net te goed dat daar van julle is wat dit kan aanvoel en dit is dat ons tyd op hierdie aarde is bitter min is…

Niemand weet wanneer die tyd daar gaan wees nie; nie eers Jesus self nie, maar die Woord sê vir ons dat ons sal weet as die tyd naby is en dit is presies wat nou gebeur. Dis waarom ek vandag ‘n paar kwelvrae met julle gaan behandel.

Hoe leef ek ‘n Heilige Leefstyl? Enige poging wat jy aanwend om jou te weerhou van sonde tel, maar weet dat dit geen maklike taak is nie en dis waarom elke poging wat ons aanwend tot hierdie doel om Heilig te lewe ongelooflik baie tel by Jesus. Ek weet ook dat Jesus die swaarste laste laai op die van ons wat die sterkste rûe het en so help ons die wat nie so sterk is nie om daardie persoon se las te help dra en so ook Heiligmaking te kan nastreef. Om iemand anders sodoende te help is sekerlik een van die eer volste dinge wat enige iemand kan doen vir sy medemens, selfs al ken jy nie die persoon nie. As jy iemand is wat bereid was om dit te doen en vir Jesus gevra het daarvoor, wees tevrede, want jou beloning daarvoor gaan groot wees! Self gaan jy baie sukkel om Heiligmaking te bereik, maar daardeur gaan jy ander help om dit makliker te bereik! Geseënd gaan jy wees daarvoor en ryklik gaan jy beloon word.

Wat beteken dit dat Jesus vir ‘n Gees Vervulde Bruid gaan kom? Dit beteken dat jy die Heilige Gees in jou moet hê. Hoe ontvang ek die Heilige Gees? Jy het dit ontvang die dag wat jy op jou knieë uit gekniel het en Jesus as jou Verlosser en jou Saligmaker ontvang het. Hoe weet ek of ek die Heilige Gees het? Jy toets jouself deur 1 Korintiërs 13:4-7 te volg: [4] Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, [5] handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, [6] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. [7] Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” As jy die vrugte van die Gees het, dan is die Heilige Gees in jou en is jy gereed.

Die Bybel sê dat ons waardig moet wees. Hoe weet ek of ek waardig is? As jy vir Jesus gekies het as jou Saligmaker en jy is ernstig daaroor, dan is jy waardig! Julle moet verstaan dat die bekering baie meer beteken as net vir Jesus aanvaar as verlosser. Jy het ‘n streep in die grond getrek teen satan. Jy het “nee” gesê vir hierdie wêreld en al sy begeerlikhede. Jy het “nee” gesê vir ‘n gemaklike lewe met baie geld. Meer belangrik is dat jy gekies het om Jesus te volg maak nie saak wat gebeur nie; deur swaarkry en deur siekte. Dis dinge hierdie wat ons toets en dis waardeur ons bewys dat ons waardig is! As jy dus wonder of jy waardig is, dan weet jy nou! Prys die Naam van Jesus!

Niemand het ooit gesê om ‘n Kind van die HERE te wees gaan ooit maklik wees nie. Julle moet verstaan dat God die Vader ons die hele tyd snoei sodat ons meer en beter vrug kan dra. Daardie snoeiery is nie lekker nie. Ons kry seer en ons kry swaar, maar die dag wat ons by Jesus gaan wees kan ek julle waarborg dat julle almal, ek insluitend, gaan sê dat dit alles so die moeite werd was!

Moet daarom nie moed verloor net omdat jy nou so ‘n bietjie swaarkry nie. Jesus gebruik swaarkry om ons te toets of ons ook in die slegte Hom eerste gaan stel in ons lewens! Hou daarom goeie moed en moenie nou tou opgooi nie! Ons is amper daar!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 208 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .