Paulus was reg toe hy vir Timoteus geskryf het dat daar swaar tye gaan kom aan die einde, want nou sien ons dit voor ons oë gebeur!
Die wêreld het sowaar mal geword! Oral val alles uitmekaar uit en mense dink dis maar soos dit moet wees! Dis oorlog, gerugte van oorlog, pessiektes, aardbewings; alles wat Jesus ons van gewaarsku het, nou in aksie!
Satan haal alles uit om die Kinders van die HERE onder te kry. Soms voel ek voel so terneergedruk, maar dan besef ek dat dit presies is waar satan ons wil hê! Hy wil ons terneergedruk hê en hy wil ons vreugde steel!
Julle weet, ons is almal net mense met menslike gevoelens. Ons lag, ons huil, ons kry seer en ons voel die drukking van ‘n verlore gaande wêreld, want ons weet dat dit nie veronderstel is om so te wees nie. Die wêreld sien dit nie, want die wêreld is blind vir wat besig is om te gebeur. Jesus se koms is regtig baie naby, want ek kan nie sien dat dinge soos dit nou is vir baie langer kan aanhou voortgaan nie. Iewers gaan daar ‘n breek moet kom en dis waaraan ons as Kinders van God moet vasklou: daardie salige hoop!
Die een ding wat ek die afgelope tyd geleer het is om nie bekommerd te wees oor al die versoekings, of al die kere wat jy sondig nie. Waaroor jy bekommerd moet wees is om te val en nie meer te wil opstaan nie, want dan is jy in groot moeilikheid! Onthou dat dit nie is hoe jy val of hoe baie jy sondig nie; dis wat jy daarna doen wat tel! Gaan altyd terug na Jesus, want Hy staan met ope arms gereed om jou te ontvang, jou te verbid en jou weer uit te stuur om teen satan te gaan baklei! Nee, dis nie onregverdig nie, want ons is die wat terughou. Ons keer dat satan se magte kan doen wat hulle wil en die wêreld is salig onbewus daarvan!
Dit is waar dat satan ‘n groot weermag daar buite het. Hy kan jou laat struikel, laat val en selfs laat sondig omdat jy ‘n mens is met swakhede, maar die een ding wat hy geen mag oor het nie is wat jy daarna doen. Hy kan jou nie keer om terug te gaan na Jesus toe nie. Daaroor het hy geen beheer nie en dis waarom hy vir jou lieg as hy vir jou vertel hoe teleurgesteld Jesus in jou is of dat jy te sondig is om vergewe te word. LEUENS!
Liewe Kinders van die HERE, hou uit. Dis nie meer lank nie. Kyk reguit voor jou en hou jou oë op Jesus. Moenie links kyk nie; moenie regs kyk nie; kyk net reguit vorentoe. Maak nie saak wat om jou gebeur nie; hou jou oë op Jesus! Loop asof jy op wolke loop en niks jou kan raak nie al is jy hoe bekommerd. Klim agter op daardie tandem fiets en laat Jesus toe om die bestuur werk te doen. Doen jy net die trap werk en moenie ophou trap nie!
Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!
