Om vergifnis vir jou sonde te vra en om ‘n absolute poging aan te wend om Heilig te lewe is ‘n belangrike deel van Christen wees.
En nou bedoel ek nie ‘n halfhartige poging van “ek sal maar probeer nie”! Ek bedoel ‘n poging soos in ‘n werklike poging om nie te sondig nie. Ja, ons gaan val en ons gaan seerkry, maar die feit dat jy probeer, beteken ongelooflik baie vir Jesus. Die val en seerkry is deel van die groei proses, maar jy probeer en jy hou aan probeer, want jy staan op en probeer weer as jy val! AMEN!
Die Tessalonisense het ook hiermee gesukkel en dis waarom Paulus in sy brief aan hulle hom daaroor uitspreek. Kom ons kyk wat staan in 1 Tessalonisense 4:1-7 “[1] Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees. [2] Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. [3] Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; [4] dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, [5] nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; [6] dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het. [7] Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.”
As ware Kinders van die Een Lewende God, mag ons nie by begeertes van die vlees betrokke raak nie! Ons is tog immers geroep tot heiligmaking; nie tot vleeslike hartstogte nie! Doen ons dit nie, dan kom ons in opstand teen God! Let op wat Jesus sê in Johannes 15:22 “…maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.”
In die tyd van Paulus het die Korintiërs ook so ‘n geveg met die vleeslike gehad en dis waarom hy hom daarteen uitspreek in 1 Korintiërs 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”
Ons leef nou sekerlik in die moeilikste tyd ooit. Jesus het vir ons gesê dat dit in die laaste van dae sal wees soos in die dae van Noag en dit het gekom! Oral word vleeslike sonde afgemaak as normaal, of soos die media dit stel, “vryheid van spraak”. Ek kan julle verseker dat daardie “vryheid” met ‘n baie duur prys kaartjie kom en dit gaan vir jou ‘n ewigheid in die hel koop as jy nie ophou daarmee nie!
Ek kan julle verseker dat hierdie geen maklike geveg is om te oorwin nie, want ek was ook daar gewees! Selfs nadat jy ‘n werklike besluit gemaak het om daarmee weg te doen, sal satan al tyd probeer om jou weer en weer daarmee te versoek. Dis ‘n konstante oorlog teen jou vleeslike en die geestelike; net soos Paulus gesê het dit gaan wees in Galasiërs 5:17 “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”
Selfs al lyk dit of die oorlog onoorwinnaar is, wil ek vir jou sê dat jy KAN wen! Jy KAN opstaan teen satan en hom bestraf en hy SAL van jou wegvlug! Aanvanklik gaan dit moeilik wees, maar hoe meer jy dit doen, hoe meer van ‘n houvas gaan jy oor die situasie kry. Onthou dat jy nooit alleen teen satan baklei nie. Jesus is die hele tyd daar en Hy wag vir jou om te vra dat Hy moet help!
Dink so daaraan: hoe sal jy voel as jy na daardie prentjie en video’s kyk en jou eie dogter of seun daarin sien? Sal jy nog steeds dink dat daardie man of vrou die mees aantreklike liggaam het wat jy nog ooit gesien het? Wat daarvan as dit iemand anders is wat jy ken? Ek weet dat baie van julle nou gewalg is deur die voorstel… Dis soos satan mense se gedagtes manipuleer, want hy trek jou stukkie vir stukkie al hoe dieper in die ding in tot jy nie sonder ‘n groot geveg daaruit kan kom nie.
Onthou dat satan geen liefde vir jou het soos Jesus nie. Hy geen nie ‘n flenter om vir jou nie! Jy is vir hom net ‘n nommer, want elke siel wat na hom draai is een minder vir God. Vir hom is dit ‘n speletjie van syfers. Moet daarom nie ingee nie.
Kyk wat staan in Jakobus 4:7-8 “[7] Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. [8] Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”
Hierdie is waar woorde, liewe lesers! “Weerstaan satan en nader tot God” beter kan ek dit nie stel nie! As ek destyds toe ek so gesukkel het direk na Jesus toe gegaan het elke slag as ek geval het, dan sou die proses tien teen een nie so lank vir my gevat het nie, maar dan sou ek nie nou in staat gewees het om met julle hieroor te praat nie.
Jy het geen rede om skaam te wees as jy geval het nie. Jesus weet in elke geval alles wat met jou gebeur selfs voor dit gaan gebeur. Moenie dat satan verder met jou kop smokkel en vir jou vertel dat Jesus nou baie kwaad is vir jou nie. Hy het daardie speletjie vir jare met my gespeel en dis alles leuens! Gaan terug na Jesus toe, bid vir vergifnis en jy SAL vergewe word.
Liewe lesers, ons kan nie meer bekostig om onkundig te wees oor hierdie dinge nie. Soos daar in Romeine 13:11 staan: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.”
Ons tyd is baie min, liewe lesers. Ons het nie meer die tyd om oor hierdie dinge aan die slaap te wees nie. Binnekort gaan ons tyd op hierdie aarde om wees. Maak dus reg wat jy kan voor die tyd te laat is!
Prys die Naam van Jesus!