Onvergewensgesindheid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Gees van die HERE wys vir my dat Jesus ontsteld is met sommige van julle oor julle vergewensgesindheid.

Die Gees het vir my Lukas 8:16-18 gegee om aan julle te bring: [16]  En niemand steek ‘n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ‘n bed nie; maar hy sit dit op ‘n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien. [17]  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie. [18]  Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.”

Die kern van hierdie gedeelte vir die van julle wat wonder is vers 17 en vers 18 en dit beteken dat jy vir die mense kan voorgee, maar nie vir God nie. Daardie goed wat jy so diep wegsteek gaan alles geopenbaar word met die wegraping. Soos Jesus gesê het; daar is niks wat weggesteek was, wat nie aan die lig sal kom nie!

Ek weet maar net te goed hoe moeilik dit is om iemand te vergewe wat jou te na gekom het; veral as die persoon dit al verskeie kere in die verlede gedoen het. Ek was ook al daar in my lewe. Ek het ook al in my lewe gesê dat ek iemand nooit sal vergewe nie. Ons sê hierdie goed omdat ons nie van beter weet nie, maar weereens het Jesus vir ons die perfekte voorbeeld gelos om te volg.

Jesus sê dat as Hy ons eie oortredinge vergewe, dan dink Hy nooit weer daaraan nie. (Hebreërs 8:12) Dis die voorbeeld wat Jesus vir ons gegee het. Ek weet dis moeilik vir ons om so te vergewe, maar dis ons plig om te probeer. Julle sien, Jesus het vir ons almal gesterf op die kruis van Golgota. Sy bloed het gevloei en in die grond in gedrup om daardie vergifnis te kan verseker! Dis die soort vergifnis wat ons heilig sodat ons waardig is om eendag voor die Koning van die Heelal te mag verskyn; sonder rimpel of enige gebrek.

As Jesus iemand so kan vergewe, waarom dan nie ons ook nie? Ja, ek weet dat om van die gebeurtenis te vergeet amper onmoontlik is. Ek onthou nog die omstandighede van die wat teen my oortree het, maar die verskil is dat ek daardie oortreding nie meer teen daardie persoon hou nie. Vandag weet ek dat ons almal swak is en dat ons baie keer dinge sê of dinge doen waaroor ons ons hele lewe lank spyt is. Ek het al ‘n paar keer in my lewe goed aangevang wat ek vandag wens ek nooit gedoen het nie. Dis menslik om so op te tree, want nie een van ons is perfek nie.

As Jesus iemand ten volle kan vergewe sodat ons waardig is om in die Koningryk voor Hom te kan staan, dan is die minste wat ons kan doen, om te probeer om dieselfde te doen vir ons medemens. Die lewe is so kort en binnekort gaan ons van hierdie aarde af weggevat word. Wat gaan jy doen as jy in die Hemel kom en daar staan die persoon wat jy nooit kon vergewe het nie? Jesus het hom of haar vergewe en skoongewas, maar jy, met al jou bagasie en jou bittere hart, kon dit nie doen nie? Wat se effek dink jy gaan dit hê op jou beloning?

Julle sien; aksies het gevolge! Alles sal aan die lig kom en daar sal van jou weggeneem word ook dit wat jy dink jy het! Wil jy nog steeds wag tot dan net om uit te vind dat daar niks is wat jy daaraan kan doen nie, of wil jy nou vergewe terwyl daar nog tyd is?

Onthou, vergewe en vergeet gaan hand aan hand. Daarmee bedoel ek nie dat jy van die insident gaan vergeet nie, want vir ons as mense is dit onmoontlik. Dit gaan egter beteken dat jy die oortreding gaan vergewe en nooit weer teen daardie persoon gaan gebruik nie. Dis hoe ons moet vergewe.

Ek wil afsluit met die gedeelte in Kolossense 3:12-13: [12]  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. [13]  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”

Kom ons bid.

Jesus, Koning van ons harte, vergewe ons oortredinge en help ons om ander ook so te kan vergewe. Jesus ek wil bid vir elkeen wat hierdie boodskap lees en ek wil vra, HERE, dat U hulle sal help om so te kan vergewe terwyl daar nog tyd is om dit te kan doen. HERE, maak daardie harde harte van klip so sag soos fluweel, sodat hulle kan besef dat om al hierdie bagasie van die verlede rond te dra geen voordeel inhou nie en dat vergewe en losmaak die enigste manier is. Prys die Wonderlike Naam van Jesus! AMEN!

(Visited 649 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .