Lukas 21

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus het vanoggend vir my Lukas 21 gegee om met julle te behandel want die Gees wys vir my dat van julle baat daarby gaan vind.

Lukas 21 begin by die verhaal van die arm weduwee wat alles wat sy besit het in die skatkis gegooi het terwyl die wat ryk was uit hulle oorvloed gegee het. Die les wat Jesus vir ons hieruit wil leer is dat ons Hom met alles moet vertrou, selfs al sien ons nie die uitweg nie. Jesus weet waarheen Hy met elkeen van ons op pad is, selfs al weet ons dit nie. Jesus het vir elkeen van ons vooruitgang en voorspoed in gedagte, maar dan moet ons Hom eers eerste stel in ons lewens en Hom met alles vertrou.

Ek weet die van julle wat Lukas 21 ken, gaan nou wonder waarom ek hierdie sê. Julle gaan nou-nou sien!

Die res van Lukas 21 gaan oor die tyd waarin ons nou is; die tyd voor die wegraping van die kerk en die begin van die verdrukking.

Jesus se eerste waarskuwing aan ons is dat ons op ons hoede moet wees om nie mislei te word nie. Dis vir my uiters interessant dat Jesus juis dit gekies het as Sy eerste waarskuwing. Hy gebruik hierdie waarskuwing nog voor hy ons waarsku dat ons vervolg gaan word en van al die oorloë, aardbewings en al die ander nare dinge wat vooraf gaan gebeur. Interessant né?

Dit behoort vir ons almal te wys hoe belangrik dit vir Jesus was dat Sy skape nie mislei moet word nie. Nou kom die gedeelte wat in geen een van die ander evangelies genoem word nie. Jesus sê dat baie in Sy Naam gaan kom en vir die wêreld gaan sê dat dit Hy is, maar meer belangrik is die wat gaan sê die tyd is naby! (Lukas 21:8) Kyk wat sê Jesus hiervan: “Gaan dan nie agter hulle aan nie.”

Liewe leser… weet julle hoeveel van hierdie goed ek elke dag sien? Dis skrikwekkend! You Tube is vol mense wat waarskuwings maak dat die tyd naby is! Ek weet dat hulle seker maar net doen wat hulle voel reg is, maar onthou wat Jesus gesê het! “Gaan dan nie agter hulle aan nie.”

Een persoon het selfs gesê dat mense alles wat hulle het moet verkoop… ‘n Stelling soos dit is natuurlik sinneloos, want niks wat jy fisies besit gaan jy saam met jou kan vat nie. Nie jou baie besittings of jou baie geld wat jy gaan hê as jy alles sal verkoop nie! Waarom dan moet enige iemand alles wat hy of sy besit dan verkoop? Wat se verskil gaan dit maak as jy alles verkoop, want alles wat jy fisies besit gaan jy in elke geval agterlaat! Sien julle wat Jesus bedoel by misleiding?

Jesus gaan voort in vers 9 waar Hy sê dat ons gaan hoor van oorloë en opstande, maar dat ons nie verskrik moet word nie. Ons almal weet van die oorlog in die Oekraine. Ek is seker dat julle ook weet van al die opstande in Europa oor die buitensporige krag rekeninge, maar dis nie net daar nie. Oral oor die wêreld is daar opstande oor die toestand van die wêreld, maar onthou Jesus se woorde: “moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind.”

In vers 10 en 11 sê Jesus dat die een nasie teen die ander sal opstaan en dat daar groot aardbewings sal wees, hongersnode, pessiektes en groot tekens in die Hemel. Ons sal ook vervolg word terwille van die Naam van die HERE en deur die wêreld gehaat word. Ons sien dit klaar gebeur!

Kyk wat sê Jesus dat dit alles sal uitloop tot ‘n getuienis. As jy jou in so ‘n situasie bevind, moet dan nie bekommerd wees nie en moet ook nie dink aan jou verdediging nie, want Jesus sal aan elkeen die woorde en die wysheid gee om te spreek wat nie deur ons teëstanders weerspreek sal kan word nie.

Vers 18 het seker die belangrikste vers: “En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.”

Verstaan julle nou die begin van Lukas 21 oor die verhaal van die arm weduwee? Vertrou op Jesus! Sit Hom eerste in alles wat jy doen en jy sal nooit ooit weer bekommerd wees oor enige iets nie! Prys die Naam van die HERE! Jy sal nie bekommerd wees oor die wegraping of oor hoeveel tyd daar oor is nie. Niks wat in hierdie wêreld gebeur sal jou pla nie, want jy sal niks oorkom nie en Jesus sê so!

Die van julle wat nou nog bekommerd is oor wat ook al. Vat daardie bekommernis, knoop dit in ‘n klein bondeltjie en werp dit sover van jou af weg as wat dit vir jou moontlik is om te doen. Jy het nou vir Jesus in jou hoekie en niks sal ooit met jou gebeur nie, daarvan kan jy seker wees! As Jesus gesê het dat niks met ons sal gebeur nie, dan kan jy vir seker weet dat dit so sal wees! Prys Sy Naam!

Herhaal wat ek nou gaan sê: “Niks wat in hierdie wêreld gebeur bekommer my meer nie. Jesus het my verlos en Hy is in beheer van my lewe. Satan met al jou leuens; VOETSEK! Jy is nie meer welkom hier nie; Jesus bestraf jou! Ek is die Kind van die Koning en daarom maak dit van my ‘n Prins of ‘n Prinses. Jy (satan) het mag oor my nie. Jy is ‘n leuenaar en ek vat nou terug alles wat jy van my gesteel het!”

Prys die wonderlike Naam van die HERE. Mag hierdie boodskap aan ontelbare harte geseën word!

(Visited 407 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .