Wat ‘n voorreg om deel van Jesus se familie te wees in hierdie laaste dae, want deur die Gees kry ons antwoorde op dit wat ons kwel.
Ek weet dat baie van julle net soos ek op die oomblik deur die verskriklikste versoekinge gaan. Soms weer ons dit af, maar soms val ons en dan staan ons weer op en loop die pad met Jesus verder. Ek weet ook dat baie van julle moeg is; moeg gesukkel, moeg van die versoekinge en moeg van val. Ek het vreeslik hieroor gewonder en die waarom probeer uitwerk, maar ek kon nie. Vanoggend het Jesus, omdat Hy ons bo alles lief het, vir my die antwoord gegee wat ek nou met julle gaan deel. Prys Sy Wonderlike Naam!
Ons almal ken die verhaal van hoe Jesus die voete van Sy dissipels gewas het soos dit opgeteken is in Johannes 13. Ek kan my net voorstel hoe die dissipels gevoel het oor die feit dat die Seun van God hulle voete was. Baie het dit aanvaar omdat hulle nie geweet het wat om daarvan te dink nie, tot Jesus by Petrus gekom het.
Petrus het vir Jesus gevra wat dit is wat Hy doen en Jesus antwoord hom toe dat hy dit nie nou sal verstaan nie, maar eers hierna. Hierdie antwoord het vir my deure oopgemaak! Prys die Naam van Jesus! Julle weet, ons almal word tot op ons uiterste versoek. Soms weer ek die versoeking af, maar nie altyd nie en dan raak ek baie kwaad omdat ek geval het, want ons almal wil graag perfek vir Jesus wees omdat ons Hom so lief het. Meer as een keer het ek gewonder waarom dit gebeur, maar ek het nooit gevra waarom nie. Ek het nog altyd soort van geweet dat daar ‘n doel is wat ek nie verstaan nie en hier kom die antwoord: “Wat Ek nou doen, verstaan julle nie, maar hierna sal julle verstaan!” Prys die Naam van die HERE van die leërskare!
Net soos Petrus rebelleer ons teen hierdie proses wat nou aan die gang is, maar as ons dit nie toelaat om end uit te loop nie, dan sal ons geen deel aan Jesus hê nie. Presies net soos Jesus vir Petrus gewaarsku het. Liewe broer en suster, laat die versoekinge kom. As jy val, dan val jy. Staan net onmiddellik daarna op en loop net verder! Moet net nie gaan lê en opgee nie. Jesus is besig met ‘n proses van reiniging in almal van ons lewens en hierdie reiniging proses moet end uit loop.
Onthou, ons verstaan nie wat nou besig is om te gebeur nie, maar binnekort gaan ons. Los dit wat nou gebeur in die Hande van die Meeste Bouer, want Hy weet wat hy besig is om te doen en jy gaan die resultate van daardie werk binnekort sien en verstaan! As hierdie proses end uit geloop het, dan gaan ons almal rein wees as resultaat, selfs al lyk dit nie nou so nie.
Hierdie laat my so dink aan daardie gedeelte wat ek geskryf het oor die Tandem Fiets. Hou net aan met trap, selfs al lyk die pad hoe onbegaanbaar en gevaarlik vir jou. Jesus weet wat Hy in elkeen van ons se lewens doen, so los dit wat gebeur in Sy Hande.
Mag die HERE hierdie boodskap aan elkeen van julle se harte seën! Prys Sy Wonderlike Naam!