Vandag se boodskap kom uit Galasiërs 6 en dit wys hoe ons as Kinders van God moet optree.
Paulus het vir ons baie leiding gegee regdeur al sy sendbriewe oor hoe om op te tree as geredde Kind van God. Baie van hierdie lesse is vandag van onskatbare waarde vir ons, veral nou omdat ons weet dat ons tyd min is en satan se magte daarop uit is om soveel as moontlik te laat wegdraai van die nou pad.
Ons almal wil graag leraars wees en ons wil baie graag ander reg wys sonder dat dit ons raak. Om raad te gee is tog immers maklik, maar nie om raad te ontvang nie! Dis waarom Paulus vir ons sê dat ons iemand wil reghelp ons eers op onsself moet let dat ons nie versoek word nie en dan kan ons daardie persoon reghelp, maar met ‘n gees van sagmoedigheid! Dit beteken nie dat jy op daardie arme persoon moet afkom soos ‘n ton bakstene met ‘n ek-het-jou-mos-gesê antwoord nie. Die kern van iemand reghelp is die woord “sagmoedigheid”, liewe lesers!
Paulus sê dat ons eers onsself op die proef moet stel voor ons probeer om iemand reg te wil help. Niemand hou daarvan om reggehelp te word nie, veral nie Kinders van die HERE nie en daar is ‘n baie sterk moontlikheid dat jy kop eerste in ‘n muur van vashardloop as jy die situasie verkeerd benader. Dis waarom Paulus sê dat ons eers op onsself moet let en onsself op die proef moet stel, want hoe help jy iemand reg as jy self ook dieselfde foute maak? Sien julle waarom dit nie so maklik is om iemand reg te help nie?
As jy meen dat jy beter is as die volgende een en dat jy nooit foute maak nie, dan is jy verwaand en mislei jy jouself! Ons is almal vaalbare mense, maak nie saak wie jy is of hoe hoog op in die rangorde van die kerk jy is nie. Ek mag dalk ‘n leraar wees, maar ek het ook voete van klei en ek val ook voor satan se versoekinge net soos julle. Ek is daarom die laaste persoon om te dink dat ek beter is as enige een van julle. Ons is almal die selfde vaalbare sondaars wat geheel en al op God die Vader se genade afhanklik is om gered te word en dis ‘n FEIT!
Elkeen sal sy eie pak dra; letterlik en figuurlik! Hiermee word bedoel dat elkeen van ons verantwoordelik is vir ons eie dade. Elkeen van ons gaan eendag voor die Troon van God verskyn om op ons eie rekenskap te gee van ons bestuur van sake. Dan gaan ons almal geoordeel word volgens wat ons op ons eie gedoen het en nie wat ander gedoen het nie. Wees daarom behoedsaam oor wat jy sê en wat jy doen, want dit wat jy nou saai, gaan jy weer terug maai. As jy goedheid saai, sal jy goedheid terug maai, maar as jy kwaad saai, gaan jy kwaad terug maai. God laat nie met Hom spot nie.
As dit gebeur dat iemand jou wil reg wys, wees dan sagmoedig met daardie persoon en getuig van die goeie dinge wat Jesus vir jou gedoen het eerder as om daardie persoon verkeerd te wil bewys. Moet nooit moeg raak om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons ons beloning ontvang as ons nie verslap nie. Doen daarom goed terwyl die tyd daar is om goed te kan doen aan ander, want op die regte tyd sal ons die ewige lewe maai!
Prys die Wonderlike Naam van Jesus!