Hierdie boodskap gaan sekerlik op tone trap en dis nie my doel nie, maar as die Gees vir my ‘n boodskap gee om te bring, dan moet ek die Wil van God gehoorsaam anders gaan ek bloed op my hande hê.
Julle moet verstaan dat dit nie God se doel is om ons van ons pret te bederf nie, maar God ken die vernietigende impak van sonde. Omdat Hy weet dat die loon van die sonde die ewige dood verwyder van Hom is en omdat Hy jou so lief het, waarsku Hy ons teen hierdie sonde sodat ons uit satan se mag kan ontsnap. Sien hierdie boodskap as ‘n liefdevolle waarskuwing en nie as ‘n veroordeling nie, want dit is nie hoe dit bedoel word nie.
Daar is baie verse in die Woord van God wat ons teen hierdie sonde waarsku, maar ek het net enkeles uitgehaal om aan julle te wys omdat hierdie nie ‘n oordeel boodskap is nie.
“Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.” (Levitikus 18:22)
“Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.” (Romeine 1:26-27)
“Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Korintiërs 6:10)
Romeine 1:26-27 leer ons spesifiek dat homoseksualiteit en lesbianisme ‘n resultaat is van rebellie en ongehoorsaamheid teen God. Wanneer iemand volhard in sonde en in ongeloof, vertel die Bybel aan ons dat God “hulle oorgee” aan selfs meer bose en verworwe vorme van sonde om hulle te wys op die nutteloosheid en hopeloosheid van ‘n lewe verwyderd van God.
Ek het al baie met mense wat hierdie leefstyl bedryf gesels en die mees algemene verweer is dat God hulle so gemaak het… Dis ‘n leun van satan daardie en dis ontneem van enige waarheid! Ek gee nie voor dat ek op dieselfde pad as God loop nie, maar as God in Levitikus sê dat hierdie gebruik ‘n gruwel is, waarom sal God dan dit skape wat vir Hom ‘n gruwel is? Sien julle waarom ek sê dat hierdie ‘n leuen van satan is?
Die Bybel vertel ons in Romeine 1:24-27 dat mense wat hierdie sonde pleeg dit doen as gevolg van sonde en uiteindelik op grond van hulle eie keuse. Iemand mag dalk gebore word met ‘n groter geneigdheid t.o.v. homoseksualiteit, net soos mense gebore word met ‘n groter geneigdheid t.o.v. geweld en ander sondes. Dit verskoon egter niemand om vir die sonde in te gee deur hulle eie sondige begeertes te kies nie. Indien iemand gebore word met ‘n groter geneigdheid tot woede, regverdig dit hulle dan om hulself oor te gee aan hierdie begeertes? Natuurlik nie! Presies dieselfde is waar vir sovêr dit homoseksualiteit en lesbianisme aanbetref.
In 1 Korintiërs 6:10 lees ons dat homoseksuele en lesbiese “oortreders” nie die koninkryk van God sal beërwe nie. Dit beteken dat iemand wat hierdie sonde bedryf nie Hemel toe sal gaan tensy hy of sy terugkeer tot God en vergifnis vra nie. Hierdie geld nie net vir hierdie sonde spesifiek nie, maar ook vir enige ander sonde waarvoor daar nie vergifnis gevra word nie.
Ek weet hierdie is harde woorde en ek weet ook dat hierdie nie ‘n boodskap is wat mens deesdae meer in kerke hoor nie. Ek wens dat dit nie ek hoef te gewees het om dit te bring nie, maar ek kry die gevoel dat iemand wat hierdie boodskap gaan lees, baie baat daarby gaan vind. Ek bid dat God jou sal oortuig van jou sondige weë en dat jy deur hierdie boodskap ‘n verandering gaan maak in jou lewe.
Die goeie nuus is dat die Bybel nie homoseksualiteit en lesbianisme uitwys as ‘n groter sonde as enige ander sonde nie. Alle sondes is aanstootlik in God se oë. Homoseksualiteit en Lesbianisme is maar net een van die baie dinge wat in 1 Korintiërs 6:9-10 gelys word en wat ‘n mens uit God se koninkryk sal hou. Volgens die Bybel, is God se vergifnis net so beskikbaar vir die homoseksueel as wat dit is vir die egbreker, die afgodeaanbidder, die moordenaar en die dief is. God belowe ook die krag van sy oorwinning oor die sonde, insluitende homoseksualiteit, vir al daardie mense wat op Jesus vertrou vir hulle verlossing (1Korinthiërs 6:11; 2 Korintiërs 5:17).
Daar is hoop, liewe leser! God veroordeel jou nie! Hy wil net hê dat jy moet ophou om hierdie sonde te pleeg en dat jy moet ophou om dit goed te praat! Ek veroordeel jou ook nie. Ek mag miskien nie met jou lewensstyl saam stem nie, maar vir my en in God sê oë is jy ‘n siel wat die pad byster geraak het en redding is beskikbaar vir jou! Jy moet net uitreik en dit vat!
Julle weet, baie mense veroordeel mense wat hierdie sonde beoefen. Dit is verkeerd en nie wat God wil hê ons moet doen nie. Ons het geen reg om enige iemand te veroordeel nie want daardie reg kom ons nie toe nie. Ons mag egter sonde uitwys en ons misnoeë daaroor uitspreek en dis wat ek deur hierdie boodskap doen. My hoop is dat jy wat hierdie lees sal besef dat jy op die verkeerde pad is en dat jy iets daaraan sal wil doen
Mag die HERE hierdie boodskap aan jou hart seën!