Ek dink vandag aan daardie liedjie van die sanger Lukas Maree waar hy sê: “Ek sal kan doen met ‘n miljoen.”
Julle weet, daar is niks verkeerd om te droom nie; ons almal doen dit. Ek ook! En dan droom jy dat jy genoeg het om net alles te kan regmaak wat stukkend is. Partykeer is jou bedoeling goed en wil jy ander mense help om ‘n beter leefstyl te kan handhaaf.
Dan droom ons dat ons die Lotto wen en skielik miljoene ryker is! Ons droom van die huis wat ons gaan koop, die vakansies wat skielik nie meer buite ons bereik is nie. Ek kan julle dit sê: daardie vlugte van fantasie is darem wonderlik, maar die terugkom aarde toe is nie so lekker nie, want skielik is jy weer die doodgewone jy met al jou finansiële probleme!
Kom ons kyk wat sê die HERE vir ons in Lukas 12:15-21 oor presies hierdie ding: “[15] En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. [16] Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra. [17] En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? [18] Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. [19] En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. [20] Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? [21] So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”
Is die HERE nie wonderlik nie? Kyk net na hierdie antwoord: “Niemand se lewe bestaan uit die oorvloed van sy besittings nie” en “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” Ek kon dit nie beter gestel het nie, selfs al probeer ek! Dit laat my so dink aan daardie stukkie wat ek ‘n tyd gelede oor geskryf het: Wees tevrede met wat hy het.
Laat ons eerder rykdom in die HERE najaag as aardse rykdom, want aardse rykdom het net een doel en dit is om jou vasgebind te hou aan hierdie aarde. Selfs al is jou bedoeling hoe goed, die HERE sien verder as wat ons kan sien. Hy sien moeilikheid aankom lank voor dit al hier is. Die HERE sal in elke geval nie toelaat dat enige iets jou van Hom skei nie, want Hy sê in Sy Woord dat ons duur gekoop is. (1 Korintiërs 6:20)
Die feit dat ons duur gekoop is, is vir die HERE so belangrik dat Paulus dit in 1 Korintiërs 7:23 herhaal: “Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.” Liewe lesers, moet dus nie ‘n slaaf van geld word nie. Werk eerder om ryk te word in God. Dit gaan vir almal van ons baie meer voordelig wees as enige aardse rykdom!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!