Die strik van diensbaarheid

Jesus het jou ongelooflik baie lief. Selfs al is jy die grootste sondaar op aarde, is Jesus nog steeds lief vir jou.

Hy wag vir jou om die eerste skuif te maak, na Hom te kom en vir Hom te sê dat jy jammer is. Hy wil jou nie veroordeel nie en Hy wil jou ook nie straf nie. Hy wil jou lief hê soos ‘n vader ‘n kind lief het. Hy wil jou oplig, jou genees van alles wat jou pla en jou net die beste gee, maar die keuse is joune en net jy kan daardie keuse maak. Prys die Naam van Jesus!

Ek hoop dat die persoon vir wie hierdie gedeelte hierbo is, dit lees; weet dat dit uit die Vader se hart kom en dat dit die waarheid is.

Ons mense is mos snaakse goed: ons is versot op ons reëls en regulasies. Miskien omdat dit vir ons iets gee om aan vas te klou terwyl ons wag en nou veroordeel ons die wat volgens ons nie daardie reëls nakom of volg nie… Ek het al voorheen hieroor geskryf.

Sommige mense hou van hulle reëls. Miskien omdat dit fokus in hulle lewens gee; iets om aan vas te klou terwyl ons wag; ek weet glad nie. Jesus het vir ons twee reëls gegee om te volg en dis die enigste twee reëls wat vir ons van enige waarde behoort te wees. Hierdie twee reëls het ek hier onder.

[37] Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38] Dit is die eerste en groot gebod. [39] En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. [40] Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Mattheus 22:37 – 40)

Daar is geen ander reëls behalwe hierdie nie, so kom ons kyk so ‘n bietjie daarna.

As jy God lief het met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand, dan sal daardie liefde maak dat jy nie wil sondig nie. As dit gebeur dat jy oortree, dan sal jy so gou as wat jy kan wil terughardloop na Jesus om vergifnis te vra. Hierdie liefde beteken ook dat jy in harmonie met die Gees sal wil leef so ver as wat dit vir jou moontlik is, omdat jy Jesus so lief het. Het julle al opgelet wat twee mense doen wat werklik verlief is op mekaar? Jy dra die belange van die nader een op jou hart en jy doen dinge soos jy weet jou verliefde van hou. Jesus doen dinge vir ons wat ons van hou omdat Hy so lief is vir ons en ons doen dit weer terug vir Hom ook uit ons liefde vir Hom uit. Verstaan julle?

As jy jou naaste lief het soos jouself, dan sal jy nooit iets sleg teen jou naaste wil doen nie. Jy sal nie steel nie, jy sal nie skinder nie, jy sal nie leuens vertel nie en jy sal ook nie vals stories opmaak nie. Jy sal jou weerhou van hierdie dinge omdat jy jou naaste lief het. Jy sal nie enige iets wat jou naaste het begeer nie en jy sal saam bly wees as iets goed met hom of haar gebeur.

Sien julle hoe hierdie dinge met die tien gebooie verband hou? Alles wat in die drie verse bo genoem word, word vervat in die tien gebooie, behalwe die gedeelte wat sê dat jy nie op ‘n Sondag moet werk nie. Daardie gedeelte is weggelaat en met goeie rede omdat ons almal op een of ander stadium op ‘n Sondag werk moes doen en Jesus weet dit! Hy het dit op verskeie kere aan die Fariseërs genoem dat as een van hulle se donkie of bees in ‘n put gaan val op ‘n Sondag, wie gaan nie alles in sy vermoë doen om die dier daaruit te kry nie?

En nou kom ons by die strik gedeelte, want die gebod bo is daargestel om ons vry te maak sodat ons nie verder onder die Juk van die wet moet lewe nie. Jesus het Sy lewe vir ons gegee vir daardie vryheid sodat ons in vryheid kan lewe, weg van die juk van die wet.

Nou waarom was die wet dan daar? Die doel van die wet was om die Israeliete anders te maak as ander volke en dit was daar om hulle in bewaring te hou vir die dag wat Jesus sou kom. Vir die Fariseërs en die Skrifgeleerdes was dit ‘n magtige wapen om die volk onder beheer te hou en dis nie waarvoor die wet daar was nie. Die wet het ‘n doel gedien wat geëindig het met Jesus se dood aan die kruis. Daarna geld die gebod soos Jesus dit vir ons gegee het en niks anders nie.

Dis om hierdie rede wat Paulus hom so uitgespreek het teen die wat nog steeds die wet wou onderhou terwyl hulle aan Jesus behoort het.

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” (Galasiërs 5:1)

Paulus skryf verder dat as iemand wat aan Jesus behoort, die wet ook onderhou, dan het Christus se dood aan die kruis vir hom geen betekenis nie en sal hy verplig wees om die hele wet te onderhou. Dis harde woorde daardie, maar die waarheid, want Jesus se dood aan die kruis het die wet tot niet gemaak. Dis waarom die voorhangsel van die tempel middeldeur geskeur het. Ons het nie meer ‘n bemiddelaar nodig om met God te kan praat nie, maar ons kan dit nou direk doen!

Om die wet te onderhou het daarom geen doel meer nie. Moenie dat iemand julle mislei nie, want die waarheid is nie in die een wat julle mislei in hierdie dinge nie. Die een wat die wet wil onderhou is losgemaak van Christus en die vergifnis wat vir ons op Golgota verkry is deur die Bloed van die Lam!

Hierdie is geen grap nie, liewe lesers. Jesus is baie ernstig as Hy dit vir julle sê! Jesus is die waarheid, die lig en die lewe en niemand kom na die Vader, behalwe deur Hom nie. Los daarom die wet, want dis oud en dien geen doel meer nie. Die Groot Gebod is wat nou tel en dit is om vir Jesus bo alles lief te hê; om Hom  in beheer van jou lewe te stel en om jou naaste lief te hê soos jouself!

Prys die Wonderlike Naam van Jesus! Hy is waardig om geëer te word!

(Visited 290 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .

One Comment

  1. Hi Nico ,My boeta
    ek wil vir jou baie dankie se vir die blad ,ek lees dit nou al n paar jaar ,ek is n prediker vir 5 jaar al in n pinkster genoodskap en het nou van die temas van jou gebruik vir my boodskappe ,met awsome terug voering .
    Mag die Here jou ryklik seen ,
    Hou aan !
    Dankie
    Shalom

Comments are closed.