Reis van die Wyse Manne

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Bybel is vol wonders, veral as ons begin Bybel Studie doen en gaan kyk na die storie agter die storie!

Een van die mees wonderlikste van hierdie storie agter die storie gebeurtenisse is die verhaal van die Wyse Manne wat uit die Ooste gekom het en ons lees van hulle in Mattheus 2:1 en 2 [1] En toe Jesus te Betlehem in Judea gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom [2] en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.”

Die Bybel is nie baie duidelik oor wie hierdie “wyse” manne was of waar presies waar hulle vandaan gekom het nie. Die algemene teorie was dat hulle sterrekundiges was, want in daardie tyd was sterrekunde geag as die professie van die slimste mense. Die Ooste was algemeen geag as die gebied van die ou Persië. Dit word ook gekoppel aan die streek van Babilon.

Baie mense dink dat hierdie verhaal letterlik in een dag afgespeel het, maar dit is nie so nie. Die afstand wat die wyse manne moes reis na Betlehem per kameel beteken dat die reis etlike maande sou geduur het. Hierdie reis van hulle het begin kort nadat hulle die Ster van Betlehem die eerste keer gesien het. Hierdie observasie is klaar ‘n wonderwerk op sy eie, maar kom ek verduidelik.

Vir jare het mense gedink dat die Ster van Betlehem ‘n komeet was, maar komete was in daardie tyd gesien as voorbodes dat iets sleg gaan gebeur. In ‘n studie wat gedoen was, is gevind dat in die jaar 7 Voor Christus (VC) het twee planete (Jupiter en Saturnus) in lyn met mekaar beweeg het. Die lig wat van beide planete weerkaats was aarde toe, het gemaak dat hierdie twee planete saam gelyk het soos ‘n baie helder “ster” in die lug. Omdat hierdie twee planete so ver van die aarde af is en omdat hulle so stadig beweeg, het die verskynsel ook etlike maande geduur.

Julle het reg gelees: Sewe Voor Christus! Daar is ‘n berekenings fout op ons kalender wat beteken dat die jaar wat ons algemeen aanvaar as die jaar van Christus se geboorte verkeerd is. Die datum van die 25ste Desember is gekies omdat die datum nie gebots met enige ander feesviering van die tyd nie. Vandag weet ons dat die geboorte van Christus iewers in September moes gewees het.

Die sterreteken van die Visse of dan Pices soos dit in Engels bekend staan.

Die verskynsel van die “ster” is die eerste keer in die sterreteken van die visse (Pices) opgemerk. Hierbo kant kan julle ‘n prentjie sien van hoe die sterreteken deur ‘n teleskoop lyk. Pices was in daardie tyd algemeen gereken as die sterreteken vir die Jode. Die verskynsel van die “ster” in hierdie sterreteken het aan die wyse manne gewys dat iets groot besig was om in Israel af te speel! Dis waarom hulle die reis na Betlehem begin het, want hulle weetgierige geaardhede het hulle gedwing om te gaan uitvind wat aan die gang is in Israel!

Omdat nie moontlik is om vir julle te wys hoe dit sou lyk as die planete van Jupiter en Saturnus in lyn met mekaar inbeweeg nie, gaan ek vir julle twee foto’s wys wat op die 1ste Mei 2011 geneem is by die sterrewag op die eiland van Cerro Panal naby Chili. Dit wys hoe die Maan en die planete Mercurius, Venus, Mars en Jupiter in lyn beweeg om iets te vorm wat soos ‘n baie helder ster lyk. Dit sou soortgelyk wees aan die effek wat die wyse manne van ouds gesien het. Dis belangrik om te onthou dat hierdie planete in hierdie foto’s nader aan die son is en daarom vinniger om die son beweeg as Jupiter en Saturnus. Die verskynsel het daarom net etlike ure geduur het in plaas van maande.

‘n Uur voor sonsopkoms op 1 Mei 2011 op die eiland van Cerro Panal naby Chili. Die Maan en die planete Mercurius, Venus, Mars en Jupiter kan duidelik gesien word.
In hierdie foto het die planete Mercurius en Mars reeds in lyn met die Maan beweeg. Let op hoe helder die verskynsel is! Die twee helder voorwerpe links onder is die planete Venus en Jupiter wat nog nie in lyn beweeg het nie.

Soos julle kan sien, is die effek uiters indrukwekkend! Gebruik nou julle verbeelding en plaas ‘n effek soos dit in die sterreteken van die visse (Pices) en ‘n mens nie anders as om te sien waarom die wyse manne so nuuskierig was om te kyk wat besig was om in Israel aan die gebeur was nie! Iets baie groot was besig om te gebeur en die Hemel het dit aangekondig!

Verstaan julle waarom hierdie verhaal so wonderlik is? God die Vader hou van dramaties wees en wat ‘n beter geleentheid om maande voor die geboorte reeds aan te kondig dat iets groot aan die gebeur is in Israel? Die geboorte van ‘n Man wat uiteindelik die hele wêreld se sonde op Hom sou neem om die prys daarvoor te betaal en so ons saligheid te bewerkstellig! Prys die Naam van die HERE!

(Visited 410 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .