Met die oog op die naderende wegraping, wil ons so perfek as moontlik wees en ons bruilofskleed so skoon as moontlik vir Jesus hê.
Ek weet dat baie van julle wonder of dit moontlik is om daardie vlak van reinheid te kan bereik en die antwoord is dat jy dit kan bereik, maar nie sonder Jesus nie. Net deur Jesus sal dit moontlik wees.
Ek het vir jare op my eie probeer om perfeksie na te jaag, maar vandag weet ek dat al my pogings ‘n gejaag na wind was! Ons kan nie sonder Jesus nie en dit is die einde van die storie! Moet dus nie eers probeer nie!
Mense kla gedurig dat hulle lewens vol sonde is; ek was een van hulle. Sonde is die krake in ons lewens en Jesus gebruik daardie krake sodat Sy lig in ons kan uit skyn in die buitenste duisternis in en die duisternis daar buite kan dit nie oorweldig nie! Prys die Naam van Jesus! Is Hy nie ‘n wonderlike God nie!
Satan maak ons so graag attent op die sondes in ander mense se lewens, veral die lewens van ons mede Christen broers en susters. Kyk wat staan geskryf in Jakobus 3:2 “Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” Wie van ons kan ons hele liggaam in toom hou? Nie ek nie, want ek weet dat ek nie volmaak is nie en ek weet ook dat ek dikwels struikel!
Dis waarom ons vir Jesus nodig het, sodat ons gedurig oor ons sondes vergifnis kan bid en so perfek berouvol vir Jesus kan bly. Is Jesus nie wonderlik nie?
Moenie op jou eie probeer om sonder sonde te bly nie, want jy gaan dit nooit regkry nie! Dis waarom Jesus in integrale deel van jou lewe wil wees. ‘n Vriend na wie jy toe kan hardloop met alles. Iemand wat jy kan vertrou en wat jou beter ken as jyself! Prys Sy Naam! Hou op om die oorlog op jou eie te probeer wen.
“Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.” (Psalm 18:30)
Maak hierdie woorde van die Psalm digter jou eie, liewe leser! Saam met Jesus kan jy alles doen en jy hoef nie perfek te wees nie. Al wat jy hoef te wees is perfek berouvol deur die hele tyd vergifnis te vra vir jou sonde! Prys die Wonderlike Naam van Jesus!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!