Die Tandemfiets

As ek moet vra wie van julle weet wat ‘n tandemfiets is, dan sal ‘n hele paar van julle seker vra wat ‘n tandemfiets is?

n Tandemfiets is twee fietse wat aanmekaar gesweis is. Die agterste wiel van die voorste fiets word uitgehaal en so ook die voorwiel van die agterste fiets voor die twee rame aan mekaar gesweis word. Die stuur van die agterste fiets word gesweis sodat die persoon agter daaraan kan vashou, maar nie kan stuur nie. Die fiets ketting word dan verleng sodat albei ryers saam kan trap, maar net die voorste ryer kan die fiets bestuur. Die agterste ryer kan net help trap. Dis voorwaar ‘n snaakse ondervinding vir die persoon wat agter sit; om net te kan trap sonder om enige beheer te hê oor die rigting waarin die fiets gestuur word!

Ons ry almal ons lewens paaie op ‘n tandemfiets alleen sonder dat daar iemand agter sit en trap. Nodeloos om te sê; maak die fiets moeilik om te beheer omdat dit eintlik bedoel is vir twee mense om saam te ry. Vra maar vir enige iemand wat so pas tot bekering gekom het en daardie persoon sal vir jou sê dat Jesus ‘n plek in sy lewe ingeneem het wat hy nie eers van geweet het daar is nie! Dis waarom daardie tweede sitplek daar is; vir Jesus om jou te help trap.

Vir baie mense is dit hoe dit gaan wees vir die res van hulle lewens op aarde. Hulle klim altyd voor op die fiets en Jesus sit altyd agter op om te help trap. Deur die hele tyd in beheer van hulle eie lewens te wil wees, sal hulle nooit die vryheid van ‘n sorgelose lewe in die Gees ervaar nie, omdat hulle nooit vir Jesus toelaat om in beheer van hulle tandemfietse te wees nie.

Maar as jy eers eenmaal vir Jesus voor laat ry het, dan gaan jy wonder waarom jy dit nie lankal reeds gedoen het nie! Prys Sy Naam! Ek sou nou nog my eie fiets bestuur het as dit nie was vir omstandighede in my lewe wat my gedwing het om die voorste sitplek op te gee nie. ‘n Mens bereik partykeer ‘n stadium in jou lewe waar jy net nie meer kan nie en dan sê: “Jesus, dis nou in jou hande.” Dan sê Jesus: “Nou gaan Ek jou wys wat hierdie fiets kan doen!”

In die begin in jy bang en verskrik en wonder jy sommer hardop waarheen Jesus jou nou vat, want dis oor rotsagtige plekke, asemrowende berg paadjies en afdraandes teen nekbreek snelhede! Plekke wat jy jou nooit op jou eie in sal begewe nie, gaan jy nou deur! Maar maak nie saak hoe gekkig die roete lyk of hoe donker die woud waardeur jy as passasier ry nie; niks kom jou ooit oor nie, want Jesus beskerm jou! Prys Sy Naam!

Dan kom jy agter dat Jesus weet hoe om ‘n fiets te ry en dat jy vir jare verniet bang was om beheer van jou lewe aan Hom oor te gee. Jy begin ontspan, want alhoewel jy ‘n stuur het om aan vas te hou, kan jy nie daarmee stuur nie en dit pla jou glad nie! Jy begin ontspan en die natuurskoon te geniet terwyl jy ry. Terwyl ander mense hard werk om vir hulle finansiële vryheid en ‘n goeie aftrede te verseker, maak jy vir jou skatte in die Hemel bymekaar!

Wanneer jy aan die einde van jou kragte kom en glad nie meer in staat om verder te gaan nie, dan kyk Jesus terug en sê bemoedigend: “Hou net aan met trap en moenie opgee nie!” Dan kry jy nuwe krag om die reis saam met Jesus voort te sit! Dien ons nie ‘n wonderlike HERE nie?

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 250 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .

One Comment

Comments are closed.